Noodbaan Misbruikers

4 05 2012

Enige Gautenger weet dat daar sekere tye van die dag is waar die verkeer op die nasionale paaie bitter stadig beweeg.  Dit word spitstyd genoem en as jy enigsins ‘n keuse het vermy jy die paaie die tyd van die dag.  Hoe fyner jou beplanning, hoe minder is die aantal tyd wat jy in jou kar spandeer. 

Jy verwag egter nie dat die N1 na 10 in die aand in ‘n parkeerarea gaan verander nie.  Flitsende rooi en blou ligte in die verte – ‘n paar meter van die volgende afrit – bevestig jou grootste vrees.  ‘n Ongeluk en dit kan lank wag.  Daar is nie veel wat jy kan doen nie, behalwe om jou motor af te skakel en te wag tot die pad weer oopgemaak word. 

Wel, as jy ‘n greintjie ordentlikheid in jou het.  Daar is die sotte wat teen die spoed van witlig in die noodbaan sal verbyjaag.  Hulle moet mos sake voor waar die opeenhoop begin is gaan vererger.  Ek meen, as jy al klaar vir 20 minute lank bankvas staan, dan behoort jy te kan raai die pad is toe.  Die Forensiese Patologie bakkie, wat verby sukkel, behoort ook vir jou ‘n aanduiding te wees dat dit nie net ‘n bufferstamp storie was nie. 

Natuurlik gebeur die onafwendbare – die noodbaan gaan staan ook stil.  Nou is daar geen plek vir noodvoertuie om verby te kom nie.  Al skree die sirenes, hulle is ook nou vasgevang in ander se selfsug.  Eendag sal Pick n Pay seker verstand verkoop maar tot dan sal ‘n mens seker maar tande moet kners.  Ongeluk beteken daar is mense wat hulp nodig het.  Mense wat jou vriende of familie kan wees.  Die hemele behoed, maar dit kan eendag jy wees wat in die pad lê en wat dringend na ‘n hospitaal geneem word.  Ek is seker jy gaan dan dankbaar wees as mense noodvoertuie ruimte gee om hulle werk te doen. 

Toe die noodbaan onbegaanbaar raak, probeer die metropolisie toe tussen die die karre op die snelweg deurdruk.  Wat basies beteken die een loop tussen die karre deur en blaf vir almal om te skuif dat hulle kan ry.  Nou nie dat ek wil snaaks wees nie, maar as mens jou kar kon wegtoor, was daar nie ‘n verkeersopeenhoping nie.  Op een of ander manier word daar tog plek gemaak, die noodbaan word skoon en hulle is deur. 

Hier en daar is daar weer ‘n idioot wat ‘n kans op die noodbaan vat.  Dan hoor jy weer sirenes en wonder of jy nie maar eerder ‘n uiltjie moet knip nie.  Dit is dan egter die grootste idioot van almal.  ‘n BBP bloulig kar wat deur gejaag word.  Want hulle is in elk geval bo lewe en dood verhewe.  Dit is dan sommer wat jy wens dat iemand by hulle wil kom spook.  Hulle is tog dienaars van die publiek en behoort so op te tree.  Wee jy!

Natuurlik kan jy niks daaromtrent doen nie.  Behalwe kla sover jy kom.  Al suig dit om amper ‘n uur lank doodstil te staan, al frustreer mense se selfsug en magsvergrepe jou, kan jy dankbaar wees dat jy nie betrokke by die ongelukstoneel is nie.  Wanneer jy uiteindelik verby die hoop rommel wat voorheen ‘n kar was ry, besef jy dit ten volle. 

(Volgens Beeld:  Net voor die New Road oprit was daar ‘n ongeluk met 3 voertuie.  Een man is dood en 5 ander is beseer.  Een van die beseerdes moes met ‘n helikopter vervoer word en al die bane op die N1 Noord is daarvoor gesluit.  Nou wonder ek of die noodbaan misbruikers gehoop het om die helikopter te misbruik om hulle eers by die huis te gaan aflaai voordat hulle die beseerdes help?)

Breinvasbrand:  Wat is die noodnommer vir selfoon gebruikers?

Breinlosbrand:  Lolipop

Advertisements

Aksies

Information

5 responses

4 05 2012
dirkiedoep

Kannie die Like druk nie…lyk so aspris of ek bly is jy sit in verkeer en wroeg!! Hierdie blog het my net weer laat besef hoe bevoorreg is ek om nie in verkeersbane vas te sit nie…stap sommer so deur die Herfsblare uit Kinta se s/kamer na my voordeur. Nietemin is ek dankbaar dat jy darem veilig by jou huis uitgekom het.

4 05 2012
Annemari Coetser

Ek braak sommer saam met jou gal vandag. Nog iets wat my erg irriteer is wanneer mense jou met flitsende ligte in die NOOD-baan probeer indruk.

4 05 2012
Toortsie

sug. Dankie dankie dankie…. het altyd gedog ons plattelanders is agter. Maar agter of te nie, so dankbaar ek sit nog hier agter die klip!

4 05 2012
rondomtaliedraai

Bly ek woon nie naby die stad nie.

4 05 2012
Olga

ons het dinsdag dieselfde lot getref. Ver van die stad. Maar nou ja.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: