Een tiran minder

3 05 2012

Donker rogmeel.  Hoe maklik kan dit wees?

Sy gooi die laaste koppie meel in en sien weer sy grysende gesig voor haar.  So trots op homself!  Die genadelose bewaarder van tienersedes.  

Sy gooi ‘n handvol van die rooierige meel in.  Huiwer ‘n oomblik en gooi dan nog ‘n handvol in.  Dit behoort te werk.  Soos die internet belowe het raak dit onsigbaar onder die res van die meel.   

Dit is nou al weke lank die debat op alle sosiale media.  Riaan Mostert:  Beskermer of Monster.  Paar weke gelede was hy genader om ‘n swanger meisie toe te laat om eksamen te skryf.  Hy het haar ouers nie geweier nie.  Wel van haar ‘n voorbeeld in die skoolsaal gemaak en dit het die verwagte rippels veroorsaak op Facebook en BBM.  Almal weet van haar skande, dit is die grap van die jaar.

Sy gooi die gismengsel by en knie dit tot dit glad is.  Dan word dit in ‘n donker hoekie gelaat om te rys.  Sy haal haar handskoene versigtig af en plaas dit sorgvuldig eenkant. 

Sy ken nie die kind nie.  Sy ken nie eers die boelie wat die titel skoolhoof dra nie.  Sy hou net nie van magtige bliksems nie.  Die wat kan maak en breek en dan nog boonop tot helde verhef word nie.  Iemand is tot heks verklaar en tot die brandstapel gevonnis.  Dit gaan dekades neem vir die gloeiende kole om as te word. 

Die minute tik stadig verby.  Dit moet perfek wees anders vou alles plat.   

Magtig beteken nie onbereikbaar nie.  Dit beteken veral nie onaantasbaar nie.  Riaan Mostert gaan nie huistoe vir middagete nie.  In stede daarvan koop hy elke dag ‘n broodjie oppad skool toe.  Altyd dieselfde.  Donker rogbrood met tuna mayonaise.  So voorspelbaar met alles wat hy doen.  Net voor sluitingstyd bring die sekretaresse vir hom sy broodjie en koffie.  Hy doen dan die laaste afkondigings en sluit af met gebed.  Hy geniet middagete en begin dan om deur sy administrasie te werk. 

Sy trek die handskoene weer versigtig aan.  Knie die mengel deur en sit dit in die broodpan.  Sy sal ‘n plan moet maak met die brood wat oorbly.  Die oond is net reg en sy druk die pan in. 

Hy moes boet, voor ‘n volgende kind deur sy grootsheid vernietig word.  Vraag is hoe?  .22 klink ideaal, maar die aankope los baie duidelike spore.  Boonop sou sy moes gaan oefen wat haar nie juis onopsigtelik maak nie.  Boonop laat ‘n .22 geen onduidelikheid oor wat gebeur het nie. 

Die reuk is baie verleidelik.  Jammer Mostert kan nie hier kom staan en kwyl nie.  Hy lyk na ‘n man wie se maag sy hart uitgewerk het. 

Om die luis met haar kar om te ry, laat die beslommernis met paneelkloppers.  ‘n Fisiese aanval sal ook nie deug nie, ‘n groot rugbyman sal vinnig van haar kleingeld maak.  Nee, dit moet skoon, effektief en half per ongeluk wees. 

Sy trek die pan uit die oond en dop die brood uit.  Perfek!  Dit moet nou net eers afkoel. 

Na aande, weke op die internet het die oplossing gekom.  Claviceps purpurea!  Vroeër die uitbraak van vele epidemies, maar deesdae net ‘n interessantheid van die verlede.  Danksy goeie keuring en verwerking, maar glad nie onbekombaar nie.  As jy weet waar om te kyk en sy kon uitvind. 

Sy haal die gekoopte broodjie uit die yskas.  Neem die een helfte en haal dit laag vir laag uit mekaar uit.  Niks moet hom waarsku nie.  Hy moet verdwaas wonder wat hom getref het. 

Lyding is gewaarborg, verlossing nie.  Wanneer hy moreaand alleen in sy herehuis sit, kan uit uitsien na maagwerk, spasms en verlamming.  Dit sal natuurlik vergesel wees van hoofpyn, naarheid en maniese aanvalle.  Goedso, dan kan almal sien dat hy van lotjie getik is.  Dit kan erg genoeg wees dat hy van sy verstand afgedryf kan word.  Van sy ledemate kan gangreen kry wat tot verminking kan lei.  Hopelik is die dosis hoog genoeg dat hy wel die aarde gaan verlaat.  Anders gaan hy hom tog net in ‘n martelaarsrol begewe.  Dit is wat mans soos hy maak. 

Sy sny die brood; dit sal die deug nie.  Dit is skeef!  Die derde poging gee die perfekte winkelbrood snye.  Sy soek die regte kleur blaar in die sak met gemengde blaarslaai.  Sit dit op saam met die vismengsel.  Sy pak dit versigtig in die toebroodjiehouer wat sy so terloops kon neem by die winkel.  Sy het net een plakker, sy beter dit nie opmors nie.  Sy haal diep asem om haarself te kalmeer en plak dit op.  Perfek.  Sy kan maar gaan slaap.

Makliker gesê as gedaan.  Wat as hy more siek is en nie skool toe gaan nie?  Wat as een van die kinders sy laaste maaltyd steel?  Wat as hy vir ete genooi word?  Mense is tog so lief vir gatkruip.  Wat as iemand haar betrap?  Wat gaan sy tog met die res van die brood maak?  Is sy seker daar is geen van haar vinger afdrukke op die pakkie nie?  Sy sal dit more weer moet skoon maak.  Dalk moet sy eerder met die bus ry.  Of gaan daar te veel getuies wees?  Dalk moet sy eerder net alles laat vaar. 

Die volgende oggend kom tog en daarmee die besef dat ‘n tiran nie verdien dat sy een uur slaap verloor nie.  Sy sal maar fietsry, dit is wel ver, maar sy is gelukkig fiks.  By die skool is die hek oop om die leerlinge vir die dag binne te laat.  Sy stap nonchalant die kantoor binne, net een in ‘n miernes van bedrywigheid.  Ongehoord maklik kom sy by die yskas waar sy moeiteloos die broodjie kan omruil.  Stemme in die gang laat haar hart amper staan, maar hulle loop net ongeërgd verby. 

Sy neem haar fiets en ry terug huistoe.  Sy sal moet wikkel as sy betyds vir werk moet wees.  As sy nie haar simpel val vanaf hierdie mal perd nie, gaan sy lank en gelukkig lewe. 

Die volgende oggend is daar niks in die koerante nie.  Dalk het die ergot in die bakproses vernietig.  Dalk was al die spanning vergeefs.  Dalk was dit nie bestem nie en moet sy daarin berus. 

Die oggend daarna basuim al wat ‘n lamppaal is dat die die Hoof van Goeie Sedes dood is.  Sy kan nie vinnig genoeg ‘n koerant koop nie.

Riaan Mostert (43), hoof van Hoërskool Jacob Zuma, is dood in sy huis gevind.  Daar word vermoed dat Mostert aan akute voedselvergiftiging dood is.  Geen gemene spel word verhoed nie. 

Dit het gewerk!  Een minder diktator.  Sy blaai na die volgende bladsy.  ‘n Kinderverkragter wat los gekom het.  Nog ‘n magtige bliksem.  Polokwane registreer sy sy tuisdorp.  Hmmm . . .


Aksies

Information

8 responses

3 05 2012
rondomtaliedraai

Sjoe … ek lees met opgehoude asem… dis nou tot ek my tuisdorp raakloop… sal maar versigtig die koerante moet fynkam. *fluister* ken nogal mense hier rond.

3 05 2012
Sonlig

Goed geskryf, maar…uhm 😯 …kan ek maar aan jou goeie kant bly?

3 05 2012
Olga

Sal my eie kos neem en dra, dankie. Heeltyd. by my. In my sak. Nee, waar ek dit kan sien.

3 05 2012
seegogga

sjoe! goedgeskryf en vreesaanjaend!

4 05 2012
Xena Phoenix

😆

Die skets kom eintlik van ‘n heel ander bisarre idee wat ek gehad het. Was piscool, maar heeltemal onverantwoordelik. Ek het dit toe maar afgewater en hiermee opgeëindig.

Rondomtalie – Polokwane was net die eerste dorp wat by my opgekom het. 😉 Is die Monster van Nylstroom daar of is dit nou weer Warmbad?

Sonlig – Ek is hopeloos te lui om ‘n gifbroodjie te bak en ek is nie seker hoe geredelik kom ergot hier voor nie. Was dekades terug ‘n krisis in Rusland.

Olga – Dit kom toevallig meestal met rog voor en donker rog steek dit goed weg. Maar hoekom worry jy, jy is mos nie ‘n almagtige skoolhoof nie. 😉

Seegogga – Vreesaanjaend? Ek het dalk verskuilde talente of ‘n erg verwronge brein. 😆

4 05 2012
Olga

phew! Dis n verligting.

4 05 2012
jagternw1976

Ek sal graag jou oorspronklike piscool idee wou hoor …. Miskien kan mens ‘n plan maak ? He he ..

4 05 2012
dirkiedoep

Moord-en-verwurg-storie !! Jy kan dalk D. Meyer kompitisie gee, magtag jammer die regte ou lees dalk nie jou blog nie- sodat hy lang tande kou van angs!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: