Mooiheid

2 05 2012

Dit is geen groot ontdekking dat die mens van mooi goed hou nie.  Hou is dalk effens lig gestel, gefassineer of selfs betower is dalk ‘n beter woord.  Dit is selde genoeg net om dit te sien, maar dit moet ervaar word en vasgevang en weergee word. So het die wonder van die natuur mense na hulle kwaste en doeke laat gryp.  ‘n Mooi stem word opgeneem om met miljoene ander te deel.  ‘n Mooi kar word teen ‘n prys vir ander beskikbaar gesteel.  En ‘n mooi mens . . . wel, almal wil seker mooi bly of word. 

Van die goed wat mense oor jare gedoen het in die naam van skoonheid, neig na rillers.  Ek het al gehoor van mense wat hulle gesigte soggens met uriene afvee.  Dit help glo vir ‘n mooi vel.  Daar is mense wat die risiko’s en pyn van ‘n operasie verduur, net sodat hulle beter (anders?) vertoon in ‘n spieël.  Hulle spuit hulleself met gif in om plooiloos voor te kom.  Daar is selfs mense wat hulleself met fetusse laat inspuit.  Dan praat ek nie van die narre wat net in sekere mineraal water, melk of selfs bloed bad nie. 

Toegegee, nie almal gaan tot sulke uiterstes nie.  Sulke uiterstes kos sakkevol geld of ‘n paar honderd moorde.  En les bes, dit klink te grillerig en / of simpel om die geld werd te wees.  Nogtans wend die meeste mense tog ‘n poging aan om so lank as hulle kan so goed as moontlik te lyk. 

Dit begin seker hier in die tienerjare wanneer puisies met mag en mening beveg word.  Meisies begin skeer, naels te verf en met grimering te eksperimenteer.  Hare se kleur word aangepas en tot ‘n kuns versorg.  Later begin die vrees van plooie mens na die botteltjies towermiddels gryp.  Daar kom ‘n haar wat verdag silwer lyk en wat moet weg.  Rondinge verskyn en hulle moet verdwyn.  Megaliters water moet gedrink word en streepsakke vol vrugte en groente moet geëet word.   

Kortom, Vader Tyd loop die arme mens se harde werk in sy kanon in.  Sonder genade.  Daar is die wat Moeder Natuur met goeie gene geseën het, maar dit hou ook maar net so lank.  En dit dek nie alle aspekte nie.  Oud word moet almal – dit is deel van die lewe.  Mens kan maar net probeer om dit te vertraag en hoop dat dit suksesvol was.  Met ‘n bietjie geluk glo jy jouself.  Met baie geluk glo ander jou. 

Hoe keer jy die verloop van Vader Tyd?  Hoe suksesvol is dit?  Sal jy iets meer oorweeg as resultate gewaarborg is?  Waar sal jy die streep trek?

Wat is jou idee van mooi?

Breinvasbrand:  Wie het in 1961 die eerste silikoon borsimplantaat ontwikkel?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met 1961.


Aksies

Information

5 responses

2 05 2012
rondomtaliedraai

Ek hou meer van ‘n stil skoonheid as die uitbundige populêre keuses…

2 05 2012
Olga

thomas cronin en frank gerow.

Hoe ver sal ek gaan? Seker nie ver genoeg nie. Was en room smeer is wat ek kan bekostig. Tog sal ek niemand oordeel wie kosmetiese sjirurgie ondergaan nie. Wie weet? Dalk sou ek dit ook laat doen het as ek dit kon bekostig. Ek het dit nog nooit bepeins nie.

2 05 2012
jagternw1976

Ek is NIE ‘n metroman nie. Punt. Ek mors nie ‘n sekonde van tyd aan iets om myself jonger te laat lyk nie. Girls hou mos van daai grys aan ‘n man se slape ? 😛
En dan mooi = Mmm, ek hou van natuurlike mooi.

2 05 2012
Sonlig

Ek het ‘n vriendin wat onlangs ‘n “chemical peel” laat doen het. Ek het my byna doodgeskrik – was bekommerd dat die skade onomkeerbaar was. Ek sal dit nóóit oorweeg om iemand te betaal om dit aan my te doen nie.

Ek hou van ‘n franse skoonheidshuis se voorstel van 3 minute per dag vir jou gesig. Werk vir my.

3 05 2012
mnrnel

Mooi was nog nooit lelik nie, behalwe toe ek as kind die voorruit van die sitkamer tydens ‘n binnenshuise kriekettoernooi gebreek het. My pa het gesê: ” dis nou mooi. Dis nou F@#*”?n mooi.

Toemaar ek grap net.

Mooi is:
Die lyne van my bruid se bene as sy dit in die bad skeer.
Nuwe varingblare wat stadig en liggroen uitrol.
Die helderheid van my jongste prinses se lag.
Die diep brul van ‘n chev lumina SS.
Die akkomodering van die oudste prinses se kyk.
Wenners wat na die persoon in die tweede plek toe stap en hom bedank.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: