Wieletjies Kry

25 04 2012

Die jaar waarin jy 18 word is oor die algemeen ‘n groot jaar.  Dit is die jaar wat baie mense matriek skuif, waar kindwees afgesluit word en die wêreld vir jou oopgaan.  Dit is die ouderdom wanneer jy jou kruisie kan trek, wat nie juis veel waarde het tensy daar kort na jou verjaarsdag ‘n verkiesing is.  Op jou verjaarsdag kry jy ‘n drank lisensie, waarmee jy dan wettig drank kan koop en geniet.  Dit is ook die jaar waarin jy jou bestuurslisensie kan kry, die eerste tasbare bewys dat jy nou met groot mense skouers skuur. 

Om ‘n bestuurslisensie te kry is natuurlik makliker om te sê as om te doen.  Ek het al van hoeveel stories gehoor van munisipaliteite wat dit as ‘n kasregister gesien het.  As die munisipaliteit se kontantvloei knyp, druip aansienlik meer mense hulle lisensies.  Ironies genoeg was dit ook so in die vorige bedeling. 

In die nuwe bedeling is dit amper onmoontlik om jou lisensie te kry sonder dat jy deur ‘n bestuurskool gaan.  Baie bestuurskole waarborg ook sukses by die lisensie kantore wat natuurlik ‘n heel nuwe blik wurms oopmaak.  Is hulle onderrig uitnemend of is hulle kontakte net goed.  Natuurlik maak ‘n stukkie papier jou nie ‘n goeie bestuurder nie.  Dit gee jou net die reg om alleen in ‘n motor te bestuur.  Daarmee kom onafhanklikheid en dit doen beslis ook nie jou CV skade nie. 

Ek was een van die eiers wat eers in matriek moeite gedoen het om ‘n leerlinglisensie te kry.   Ek was ‘n koshuisbrak en moes ‘n saamrygeleentheid gereël het om betyds vir die toets te wees.  Die toets self het nou nie juis ‘n indruk gemaak nie.  Ek was een van die eerstes wat klaar was en moes toe buite wag vir die uitslae.  ‘n Seun wat ek geken het (ons was die enigstes van die skool) het my vertel dit was sy derde poging.  Die toets beampte het ons toe een vir een geroep.  Dit was senutergend.  Veral toe die seun geroep is en ‘n derde keer gepluk het.  Ons was meer as 30 wat die toets geskryf het en daar was net 3 oor, toe ek geroep is.  Die keer het die deur oop gebly en is ek gevat vir ‘n oogtoets.  Daardie dag het net 3 mense geslaag en ek was een van hulle.  Die enigste een wat dit die eerste keer gekry het.  (Die seun was heilig oortuig ek het met die beampte geflankeer om dit reg te kry.)

Die jaar daarna was ek universiteit toe, wat die praktiese sy van die lisensie moeiliker gemaak het.  Ek het die een vakansie by die huis gekom, toe vertel my ma my ek moet die volgende week my toets gaan doen.  Ek was nie naby ‘n bestuurskool nie en dit was eintlik maar net dat ek een keer kan dop en met die volgende vakansie weer kan gaan – voordat my leerling verval.  Ek het dus met geen verwagtinge vir die toets op gedaag. 

Met die werftoets, het ek met die een parkering gesukkel, maar daar is mos darem twee kanse.  Kort voor lank was ek op die padtoets.  Na die toets moes ek met die beampte ingaan vir die uitslae.  Hy kyk my toe ook net so op en af en sê:  “Ek het slegte nuus . . . vir jou pa!  Daar is nuwe Tazz’s by Toyota, vat hom dat hy vir jou een kan koop.  Baie geluk, jy het jou lisensie.”

Jy kon my met ‘n veertjie omtik – my pa ook.  Natuurlik het ek nie die Tazz gekry nie, maar ek het my lisensie met die eerste poging gekry.  Net ‘n paar dae voor my 19de verjaarsdag.

Hoe het jy jou leerlinglisensie en bestuurslisensie ervaar?

Breinvasbrand:  Wat word die bestuurders toets in Suid-Afrika genoem? 

Breinlosbrand:  4 (sy het ook Ike eers gelos voordat hulle met die troue deur gegaan het.  Bob het sy ‘n dag voor die troue gelos)


Aksies

Information

9 responses

25 04 2012
rondomtaliedraai

Ligjare gelede was dit nie so moeilik nie en die verkeersbeampte was my kêrel Hy het my al my hel gegee net om snaaks te wees… ek ry darem nou nog.

25 04 2012
Sonlig

K53

25 04 2012
Olga

k53?
Nie EERSTE nie!

25 04 2012
Olga

ek het my leerling lisensie al 3 keer met die eerste poging gekry. My ‘dryf liksens’ met die tweede probeerslag. Met die eerste keer het ek die paal gestamp met die gangparkering. Die tweede keer was ek gepenaliseer omdt my kar vasgesit het in die modder by die parkeer vak maar ek het genoeg punte gehad om te slaag. (ek dink steeds dit was onverdiend. Die werf was nie geteer nie, en ek het nie die reen bestel nie.-

25 04 2012
Sonlig

Ek het ook my bestuurderslisensie met die eerste poging gekry op 20. Eintlik het ek ‘n kar gehad voor ek ‘n lisensie gehad het.

In hindsight, moes my bestuurstoets se vermaakwaarde nogal hoog gewees het. Terwyl ek besig was om deur die 53 puntjies te draf wat nagegaan moet word, het ek my hare in die venster vasgeknyp toe ek check dat die venster se oprol meganisme werk. Ek moes toe maar weer die venster afdraai om myself los te kry. Op daardie stadium van my lewe het ons modebewuste meisies hierdie groot belde met inhaak “buckles” gedra en soos wat ek om die kar stap, ervaar ek skielik net hierdie “vry” gevoel en hoor ek hoe my belt op die grond val. Die beampte was baie vriendelik en het net gesê dat ek moet ontspan en aangaan.

Ek twyfel nie dat ek ‘n goeie bestuurder is nie, maar die ou het dalk gedink dat hy maar eerder die lisensie sal toeken as om weer met hierdie “klutz” ‘n toets te moet deurgaan.

25 04 2012
Annemari Coetser

My kêrel het te ver gebly om my te leer bestuur en my pa was te ongeduldig. Die eerste keer toe ek oor die sypaadjie se hoek ipv in die pad ry, het hy my laat uitklim en geweier om my ooit weer te leer. Kan jy glo?!

My kêrel het my een of twee naweke geleer, en natuurlik druip ek toe met die eerste lisensiepoging. Die tweede keer was ek getroud, my kêrel wat toe my man was, was nie meer geduldig nie en ek was hoogswanger. Maar ek het dit darem gemaak en tot dusver net teen hekpale en eenmaal teen die garage se hoek vasgery. O ja, en ‘n bus het in my vasgery, maar dit was nie my skuld nie.

25 04 2012
MaanKind

Ag ek wil nie daaroor praat nie…. !00% vir my Leerlinglisensie gekry, en my lisensie 4X gedop. Ook my 50cc scooterlisensie gedop.

25 04 2012
gerdajansen1

joh, joh. laat ek maar niks se nie.

25 04 2012
nats90210

Ek het my Leerling en lisensie op 1ste slag gekry! En dit voor my ouer sus! LOL!! (Welsy het haar leerling voor my gekry maar toe ek gaan moes sy weer gaan omdat hare verval het – en toe dop sy) O ja sy kon toe al goed ry, en sy het ons soontoe gery! 😯

Bygesê ek was amper 21, bietjie lank gewag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: