Golf van Sukses

17 04 2012

Tale op skool was nooit my sterk punt nie.  Ek onthou egter ‘n les iewers in Stelwerk – dit kon dalk prosa ook gewees het.  Dit was ‘n grafiek oor verhaalontwikkeling.  Dit begin met ‘n kort horisontale streep waarin die agtergrond en omgewing geskep word.  Daarna styg die lyn skerp vir die verhaal ontwikkeling.  Die lyn stop in die klimaks en dal dan skerp, maar bitterlik kort, vir die ontknopping.  Die ontknopping is egter ‘n opsionele ekstra en dit is nie noodwendig nodig nie – aldus die les.

Ek sal myself nou nie as ‘n skrywer kan uitgee nie, maar ek dink ek kan maar as ‘n leser een of twee dinge kwytraak.  Ek het al van te vore gesê dat die einde van ‘n boek die kroon span.  Nou is dit egter ook so dat ‘n helder einde wat alles duidelik uitspel, nie juis kan spook nie.  Hoe meer ‘n boek spook, hoe hoër word dit aangeskryf.  Partykeer dink ek mense is aspris ondeurdag met hulle eindes om die boek in ‘n ander liga te kry.  Tog – soms is daar regverdige vrae.  Vrae wat die leser self moet uitklaar om die boek tot sy volle reg te laat kom. 

Almal het seker al ‘n boek gelees waar daar ‘n einde is wat jy wens jy ‘n skrywer kan gaan skud om te weet wat het verder gebeur.  Neem “Dis ek, Anna” van Elbie Lotter as ‘n voorbeeld.  Na jare van misbruik en haar suster se selfmoord, besluit Anna om die vark in die verhaal te gaan straf.  Die skote klap letterlik in die laaste paragraaf.  Die vark het gekry wat hom toekom, maar wat gaan nou met Anna gebeur? 

Die vark is ‘n vooraanstaande man in die gemeenskap.  Sy vrou het verkies om weg te kyk en wou nie een skewe word van hom glo nie.  Self die predikant het hom verontskuldig.  Dit laat Anna teen ‘n see van vooroordeel, in ‘n samelewing wat nie eers gaan wag om redes te hoor voor hulle skuldig bevind en vonnis nie.  As niemand haar wou glo toe die vark gelewe het nie, wie gaan haar glo in sy dood?

Goed, Anna het darem ‘n nawoord gehad.  Die leser het geweet dat die einde fiktief is.  Sussie lewe nog en die vark en sy sog is aan natuurlike oorsake dood.  Die skryfster het net gewens dat sy hom in sy maai kon stuur.  Die wat het verder gebeur was nie nodig nie. 

Elbie Lotter het haar masker weggegooi en Anchien Troskie het te voorskyn gekom.  Saam met haar het nog twee boeke te voorskyn gekom.  Die eerste een het ek nogal geniet, maar die tweede een was ‘n bietjie te dik vir ‘n daler.  Die skrif was teen die muur – Anna was ‘n briljante debuut en dit is maar waar dit moes bly.  Ek het my voorgeneem dat ek nooit ooit weer ‘n boek van haar gaan koop nie. 

Hoe gaan die gesegde?  Moet nooit sê fonteintjie, van jou drink ek nooit weer nie.  Ek vermoet baie van die mense wat Troskie ‘n kans gegee het, het dieselfde mening gehuldig.  Sy kon doodeenvoudig nie diepte in haar ander stories bring nie.  Maar – daar was nog Anna.  Op die stoep van ‘n moordtoneel.  ‘n Ideale geleentheid vir ‘n opvolgverhaal, met ‘n heldin wat almal se simpatie het.  Hier kom “Die staat teen Anna Bruwer”. 

Of die tannie die vaardigheid het om die baie netelige situasie te skets soos dit verdien om geskets te wees, het ek geen idee nie.  Ek is wel baie nuuskierig om uit te vind.  En ek is seker nie die enigste nie. 

Hier is weer ‘n geval van ‘n ou beproefde resep wat weer uitgeruk word.  Presies soos Hollywood doen.  Die denke is dat as dit die eerste keer kon werk, hoekom nie die volgende keer ook nie?  Baie mense gaan tog daarvoor val en die geld gaan inrol.  Is die vervaardigers / uitgewers slim of sommer bloot skelm?  Aan die ander kant is die publiek stupid of net goedgelowig?

Wie sal weet?  Geen oordeel kan gevel word sonder om die tweede weergawe deur te werk nie.  Daar is tog uitsonderings op die reël.  Iemand het eendag tog gesê van:  “Die opvolg is nooit so goed soos die oorspronklike nie.  Behalwe dat die Nuwe Testament beter is as die Ou Testament.  Huckleberry Finn was beter as Tom Swayer en The Godfather II is beter as The Godfather III.”

Breinvasbrand:  Wie is die varke wat in die tronk sit oor die verkragting op Alison Botha?

Breinlosbrand:  Olga was reg met For the love of Money.


Aksies

Information

3 responses

17 04 2012
dirkiedoep

Ek lees ook graag, en het ook die nodigheid om te skryf wat in my belewenis aangaan… maar skryfster , nee wat dit sit nie in elke ou se broek nie. Dit bly ‘n besondere talent- soms wonder ek oor boeke wat gepubliseer is… hoe kon dit aanvaar word, maar smaak veskil , het al resensies so pro glees dat ek wonder waar het ek gegly dat dit nie vir my so wonderboek is nie!!

17 04 2012
Olga

frans du toit en theuns kruger.

17 04 2012
Olga

dit laat my nou dink aan die boek wat na Dalene Matthee se dood gepubliseer was, ‘die uitgespoeldes.’ daai boek was nie klaar geskryf nie.
Goed, ‘dis ek, Anna’ was n treffende storie. Ek kon haar vrees, woede, walging, onmag voel. Toe raak dit mode en elkeen wou n boek oor kindermolestering skryf. Maar mens raak gewalg daardeur. As dit uit die duim gesuig was, het jy al op bl 10 geweet. Niks maak my vieser as wanneer ek ure aan n boek gelees het en daar is geen slot nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: