‘n Hond se plek

8 03 2012

Baie mense het beslisde idees oor waar ‘n hond se plek is.  Buite, onder ‘n mens se voete uit, stil en verkieslik onsigbaar ook.  Behalwe nou wanneer daar onwelkome gaste is.  Dan moet hulle juis sigbaar en luid wees.  Dit is nie noodwendig ‘n slegte siening om te hê, baie groot hondeliefhebbers huldig dieselfde mening.  Dit maak egter van ‘n hond – wel – net ‘n hond.  Nie ‘n karakter nie.

Persoonlik het ek geen probleem met mense wat hulle honde huishonde maak nie.  Solank daar nou net nie vir die brak ‘n plek gedek word nie.  Wag, dit kan nog gaan – solank die eienaar self vir die hond opskep en die hond nou nie saam met iemand uit dieselfde bord eet nie.  Ek het ook geen probleem met diere wat na meer plekke as net die veearts geneem word nie.  As die hond weet hoe om hom te gedra en die eienaar weet hoe om hom te beheer, sien ek geen probleem nie.

Ek onthou jare terug in Piet Retief was daar ‘n man, met ‘n kruiwa en ‘n swetterjoel honde gewees.  Die DBV sou waarskynlik baie oor die honde te sê gehad het, maar mens het hom en sy bende baie gesien.  Waar hy sy kruiwa ookal gestoot het, was die diere by hom.  Hulle het die kruiwa ook opgepas as hy nie by kon wees nie.  Ek kan nie onthou dat ek al ooit gehoor het dat iemand probleme met sy honde opgetel het nie.

Dan was daar Milo, ‘n Jack Russell wat heel dikwels saam met ons skool gegaan het.  Niemand het ‘n skewe woord oor Milo gehad nie.  Hy was in die eerste plek die skoolhoof se hond en niemand het hom skool toe genooi nie.  Hy het vanself opgedaag.  Ek verstaan amper hy het met tye ook die laerskool gaan beproef, maar hy het die hoërskool geniet.  Ek reken Milo het seker al lankal sy matriek gemaak en dit sal my nie verbaas as hy nou al voor die klas sy ding doen nie.

Milo was nie die enigeste skoolhond nie.  Daar was ‘n bruin poedel van een of ander aard ook gewees.  Saartjie as ek nou haar naam reg kan onthou.  Haar baas en nooi was onderskeidelik by die hoërskool en laerskool werksaam en sy het hulle maar om die beurt vergesel.  Saartjie was ‘n dame wat nooit ver van haar eienaars afgedwaal het nie.

‘n Hond in ‘n skool is dalk opvoedkundig, maar wat van ‘n hond in ‘n kerk?  Ek praat nou nie van mense wat hulle skoothondjies kerk toe bring nie.  Ek was al ‘n keer of wat in ‘n kerk waar die predikant se honde hulleself heel gerieflik rondom die altar gemaak het.  Elke Sondag.  As hy nie die diens gelei het nie, het die honde ook by die huis gebly.  Weereens het hulle niemand gepla of ontwrig nie.

Om een of ander rede is honde in restaurante geen vreemde gesig nie.   Veral nou die kleiner, maar intieme restaurante.  Ek mag my dalk verbeel, maar dit blyk of veral mopshonde ‘n gewilde keuse onder restaurant eienaars is.  Die hondjie kom en gaan tussen die tafels deur.  Hulle bedel nie, dring hulle self nie op nie, maar is tog heel toeganklik vir die gas wat wel ‘n koppie wil krap.

Nou die dag was ek in ‘n sentrum met verskeie buitelug restaurante.  Skielik het ons die hond opgemerk wat heel op sy gemak die omgewing verken het.  Toe hy sien hy het ons aandag, het hy met die hand kom groet.  Die hond was duidelik goed versorg en het maniere gehad.  Ons het liggies begin wonder aan watter restaurant hy behoort toe ‘n dame aan ‘n tafel in ‘n restaurant aan die ander punt haar hande twee keer klap.  Daar hol die hond, mooi om ‘n plas water ook, reguit na sy eienaar.  Blykbaar gaan eet hy dikwels saam met haar uit.

Watter honde wat nie tot ‘n huis beperk word nie het julle al teëgekom?  Hoe voel julle oor honde in die openbaar?

Breinvasbrand:  Wat was Danie Craven se hond se naam?

Breinlosbrand:  Chancellor House

Advertisements

Aksies

Information

4 responses

8 03 2012
demoerin

Dok se hond het geheet Bliksem.
Honde op plekke pla my nie as hulle nie ‘n ontwrigting is nie.

8 03 2012
Olga

as die eienaar die hond kan beheer, kan ek nie sien hoekom kan die hond nie pnp, kerk of spur toe gaan nie. Daar is een restaurant in die dorp wat ek vermy. Ons het eendag daar gaan koffie drink. Daar het n dame gesit en eet. Yorkie op die skoot, leke aant vreet uit haar bord. Wat my laat sien het hoe dat borde met oorskiet buite vir die straat-katte neergesit word. Dankie. Dis waar ek die streep trek. Bessie het haar bak en ek my bord.
Dame bosbouer in die omgewing het 3 honde wat saam met haar gaan werk.

8 03 2012
MaanKind

Ek gril vir groot honde
Ek word moerig as mense hulle honde aan ‘n leiband hou, en geduldig wag dat hulle teen my stoeppilaar pie
Ek word briesend as hulle geduldig wag dat hulle klaar kak in my blomme, terwyl hulle sommer een uitskrop
Ek loop uit ‘n restaurant as groot honde tussenin loop en hare afskud wat in my kos dwarrel
Ek word kwaad as mense op ons kuswandelpad stap en die honde se bollie net daar los. Sies!
Twee honde het my al bestorm en van my fiets af geruk, en bloeiend in die straat gelaat. Beide eienaars was kwaad vir my, wat ry ek daar in die straat waar hulle bly met my fiets?
Ons aanvaar geen troeteldiere in ons gastehuis nie.
DIS WAT EK OOR HONDE DINK.

10 03 2012
Toortsie

‘n opgevoede hond pla my nie. Maar n onbeheersde een! Dk gril wel as die mense aan die hond vat en dan tjips eet met dieselfde hand.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: