Karnar irritasies

5 03 2012

Elke Suid-Afrikaner behoort daaraan gewoond te wees.  Goed, maar die gewoonte het nou afgesaag geword en om eerlik te wees, ek raak by die dag meer geirriteerd met die mense wat op elke openbare parkeerplek rondstaan en kastig die karre oppas.  Karre oppas my voet!

Dit is ‘n pyn in die anus.  Veral as jy noodgedwonge moet parkeer om iets af te handel waarvoor jy nie noodwendig betaal nie.  Jy gaan pos gou ‘n brief, lewer iets af of gaan haal iets.  Dit neem jou ‘n maksimum van 30 sekondes, maar wanneer jy by jou kar kom, is daar ten minste een karnar wat jou kom oortuig hoe mooi hy na jou kar gekyk het.  Wat dan ‘n eenvoudige storie uitrek, met ‘n draai na ‘n kitsbank.  Daarna gaan jy iets koops wat jy nie wou hê nie, net om dit die nodige R2 te kry om iemand wat toevallig in die omgewing was te vergoed. 

Op die punt kan daar uitgewys word dat dit jou eie skuld is as jy in die slagyster trap.  As jy onnosel genoeg is om sonder kleingeld jou kar te verlaat, moet jy tevrede wees om jou tyd te verspil.  Jy behoort tog te weet dat jy orals waar jy kom ‘n karnar sal moet vergoed.  Ek was nog nie met ‘n R2 gegooi nie, maar daardie dag kom.  Ek weier egter om ‘n noot of selfs ‘n R5 uit te haal vir ‘n paar minute se rondstaan.  Nadat ek ‘n keer of wat probleme in die middestad opgetel het daarmee, gaan soek ek liefs ‘n parkeer garage.  Waar ek sonder intimidasie dikwels gratis kan parkeer. 

Dit is egter nie die betaling wat my ontstel nie.  Ek betaal met ‘n glimlag as die wag my nader wanneer ek uit my kar klim en nog in die omgewing is wanneer ek terug kom.  Deesdae wonder ek meer en meer of hulle mens nie van die uitgang uit nader nie.  Jy sien nêrens een wanneer jy stilhou nie.  Hulle is skoonveld wanneer jy jou pakkies bêre.  Wanneer jy egter jou trollie gebêre het en in jou kar wil klim, verskyn een soos ‘n skim.  Bakhand omdat jou kar nog is waar jy verwag het dit moet wees. 

Dit irriteer ook die wit waks uit my uit as ‘n snotkop van skaars twee bakstene my kar moet oppas.  Goed en wel, die seuna bedel darem nie.  Maar wat gaan ‘n 7 jarige nogal doen as my kar gesteel word.  Gaan enige iemand hulle aan die kleintjie steur?  Onder 15 mag in elk geval nie werk nie en ek voel dat ‘n mens nie die gedrag moet aanmoedig nie. 

Daar is verseker ‘n mark vir karnarre.  Met die werkloosheid syfer soos dit is, kan ‘n mens nie ‘n ander verkwalik wat op ‘n eerbare manier hulle kinders se magies wil vol maak nie.  Hulle lewer ‘n diens en bedel nie net nie.  Soos ek verstaan, word die gemiddelde karnar ook lekker uitgebuit.  Hulle moet gewoonlik die bestuur betaal om in die kille weer ander se karre op te pas.  Dit laat my rooi sien. 

Ek wil nog ‘n inkopiesentrum sien wat sonder besoekers kan oorleef.  Dit is juis die besoekers wat betaal vir die elektrisiteit, die water en op die einde van die dag die brood op die tafel.  Hoekom moet die besoeker dan nog ekstra betaal vir sekuriteit?  Dit behoort by die bedryfskostes ingereken te word.  Gee die mense wat kom karre oppas ‘n aanvaarbare loon en spaar die kliente die irritasies.  Ek kan verstaan dit iemand wat 8 ure parkeer die stelsel uitbuit, maar is ‘n uur of twee gratis parkering te veel gevra? 

Die situasie gaan natuurlik voortduur vir solank as wat Jan Publiek gedwee saamspeel.  Dalk moet ons begin om net plekke te ondersteun wat veilige, gratis parkering bied in ruil vir besigheid.  Een hand was mos immers die ander en so kom beide skoon.

Hoe voel jy oor karnarre?  Hoe bepaal jy ‘n regverdige fooitjie vir hulle diens?  Kry jy ook soms die gevoel dat hulle uit die bloue lug val die oomblik wanneer jy wil ry?

Breinvasbrand:  Wat was die eerste werkende parkeer meter wat in 1935 deur Holger George Thuesen en Gerald A. Hale ontwerp was genoem?

Breinlosbrand:  Olga was eerste reg met Sarah Brightman.

Advertisements

Aksies

Information

7 responses

5 03 2012
Olga

ek het altyd n paar munte in my kar se pennie bak. Verkieslik r2 munte. Ek voel in die stad, veral, sou jy in elk geval geld in die parkeermeter moes gooi. Waar anders as in S.A met die Anc sal jy menslike parkeermeters kry?

5 03 2012
Olga

maar nou het ek die issue gemis ne. Ek voel by n inkopie sentrum moet die parkering veilig, gerieflik en GRATIS wees. Soos ek gese het, in die stad sou ons in elk geval geld in die parkeermeter moes gooi. Maar hulle eise is belaglik. Ons het sowat 10 maande gelede oorkant kerkplein geparkeer. Toe ons teruggekom het by die kar, was daar 3 karnarre wat r100 vir die 15 minute wat ons weg was wou he. Wel, die beste is, klim in jou kar, gee r2 deur die venster en ry weg.

6 03 2012
Xena Phoenix

Die probleem is dat ‘n mens soms ‘n karnar en die parkeermeter moet betaal. Verkieslik aan die nar, wat nog die parkering betaal, nog die boete van versuim aan jou gee.

Daar is van die narre wat jou kar sal krap of beskadig as jy nie doen wat hulle wil hê nie.

5 03 2012
J W W

EK VERPES die lot…. Ek gee nokkol nie ‘n bleddie 5 sent nie…. my versekering gaan jaar na jaar op agv die verhoging in motordiefstal – so waarom moet ek betaal vir iets wat NIE WERK NIE…. ek tune hulle deesdae in mooi suiwer afrikaans – fikkof !

6 03 2012
Xena Phoenix

Dalk moet versekeraars parkeergeriewe bou waar hulle self na die karre kyk.

5 03 2012
Gerda. J

dis nogal n tameletjie. ja, dink die shopping centres behoort verantwoordelik te wees vir veilige, gratis parkering. ons ondersteun hulle darem is ons op veilige parkering en veilige besoek aan hulle winkels geregtig.

6 03 2012
Xena Phoenix

Een van die dae moet jy seker ook ‘n trollie huur vir jou inkopies.

Die klient is die weglaatbare in besighede blykbaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: