Mense met oë mag nie kyk nie

29 02 2012

Daar is een ding van elke artikel van ‘n gestremde of verminkte wat ek al gelees het wat soos ‘n paal bo water uitstaan.  Hulle het ‘n hekel aan mense wat hulle in die openbaar aanstaar.  Dit maak hulle seer om so aangestaar te word.   So al asof hulle weens hulle andersheid nie ‘n plek op aarde gegun word nie.  Dalk is die feit dat mense staar net ‘n beklemtoning en as sulks ‘n altydteenwoordige herinnering dat daar iewers iets skeef geloop het.  Iets wat nie reggestel kan word nie en waaraan die lyer waarskynlik geen skuld het nie.

Elke mens met ‘n tikseltjie deernis of empatie, raak sommer saam kwaad vir die mense wat na ander staar asof hulle apies in die sirkus is.  Die meeste mense wil tog nie tot ‘n ander se pyn of lyding bydra nie.  Daar is tog ‘n geneigdheid om die te beskerm wat weerloos en uitgelewer aan die genade is.  Sulke artikels is ook gewoonlik geskryf om emosie te ontlok.  Die onsensitiewe blikskottels wat staar word beslis deeglik geskel en verwens.

Hoekom is dit so moeilik om hand in eie boesem te slaan.  Terwyl die blikskottels gevloek word, vergeet ons gerieflik dat onsself aandadig is.  Wanneer iets nie reg lyk nie, is dit ‘n normale reaksie om weer te kyk.  Die mens is tog immers met rede so gebou, dit is ‘n eienskap wat ons onder meer veilig hou.  Dit is tog immers nie asof jy regtig ‘n ander, weerlose mens wil verneder of wil seermaak nie.

Ek erken dus – ek is waarskynlik een van die hartelose buffels wat kyk na mense wat misvormd of gestremd is.  Gedagtig aan die duisende artikels wat ek al in my lewe daaroor gelees het, probeer ek dit onopmerklik doen.  Partykeer vang ek myself staar en kyk dan skuldig weg.  Blykbaar is dit alreeds sout in die rou wonde.

Vandag weer het ek ‘n man opgelet wat lyk of hy ‘n gat in sy kop het.  Met die tweede kyk het ek gesien die helfte van sy gesig is weg.  Hy het net een oog, een wang en die ander helftes van sy neus en mond was weg.  Dit is nie asof ek hom bejammer het of deur sy voorkoms gewalg was nie.  As ek dan iets genoem moet word, is geinteresseerd seker die naaste aan die waarheid.  Ek het gewonder wat met hom gebeur het en wat die impak op sy lewe was.  En of dit veilig is met hom agter die stuurwiel.

Dit staan seker ‘n konflik met mekaar.  Die mens se natuurlike reaksie om twee keer te kyk en die mens se reg tot waardigheid.  Ek is nie seker of daar ‘n goue middeweg is nie.

Staar julle soms?  Voel julle soos die vark in die verhaal as dit gebeur?  Is ek net besig om na verskonings te soek wanneer ek myself op menslike natuur beroep?  Behoort die samelewing dalk meer uit te reik om gestremdes en verminkes aanvaarding te wys?

Breinvasbrand:  In die 1818 eerste uitgawe van Frankenstein in London, as wie is die skrywer aangegee?

Breinlosbrand:  27 Julie


Aksies

Information

6 responses

29 02 2012
seegogga

Ek het lank vir gestremdes skoolgehou. ‘n eerlike staar, en ‘n simpatieke direkte vraag ontstel hulle nie. Wat hulle egter die mure uitdryf, is mense wat so erg nie wil staar nie, dat hulle glad nie bestaan nie, en mense wat dink dat hulle verstandelik vertraag is omdat hulle gestremd is. Ek was al by ‘n funksie saam met ‘n sielkundige in ‘n rolstoel, en sit reg langs haar, en dan sal iemand vir my kom vra:”wil sy ‘n koppie tee he?” Staar maar, en as jy die persoon ontmoet, en jy voel julle is op goeie voet, kan jy altyd vra.

29 02 2012
Sonlig

Ek is so bly oor hierdie inskrywing. Ek is dan seker ook ‘n staarder. Eintlik kyk ek na hulle net soos ek na enige ander mens sou kyk, maar mens kry maar altyd die gevoel dat jy liewers nie moet kyk nie. Ek dink dit moet erger wees as niemand oogkontak maak nie.

29 02 2012
Olga

harvey, mavor and jones.
N mens kan nie anders as om te staar nie. Dis ook wragtig nie staar nie. Mens kyk. Lank en aandagtig. Nes na n uitsonderlike mooi mens. Soms sal die aangekykde jou toesnou. Ek was al eenkeer verskree. Tog as mens daaroor nadink, vir wie snou hulle werklik toe? In my hometown was daar n man met so n halwe gesig. Hy het saans in n kafee gewerk. Ek neem aan om vir rekonstruktiewe sjirurgie te betaal. Ek het hom een aand gevra wat het gebeur. Hy het vreeslik moeisaam gepraat. Natuurlik was daar skade aan sy tong ook. Sy geval was n mislukte selfmoordpoging.

29 02 2012
Gerda. J

ek dink dit vat baie moed vir n mens wat anders lyk om in die openbaar uit te gaan. ek dink so n mens verwag die kyk en leer miskien om daarmee te cope. dis n feit soos n koei, as jy anders lyk gaan mense staar.

29 02 2012
MaanKind

Kan niks byvoeg by wat Seegogga sê nie

29 02 2012
Toortsie

met empatie. met liefde. met “jy is net so ‘n mens soos ons.”
Dankie!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: