Enkel en goed so

23 02 2012

Ek is enkellopend.  Dit pla my nie, maar die vet weet, dit pla baie mense daar buite.  Hoekom sal ek nou nie weet nie.  Dit is mos nou nie dat hulle my enkellewe moet lewe nie.  Hulle is diep beswaard daaroor en maak dit my probleem.  Dit is genoeg om van te kots. 

Ek moet alewig hoor:  “Wanneer kry jy nou ‘n outjie?”  Ander weer sal my tot vervelens toe vra:  “Hoekom is jy nog nie getroud nie.”  Dan is daar ook die:  “Wil jy dan nie trou nie?”  Die ergste is dat almal dink hulle bedoel dit goed en dan boonop in die gesig gevat voel as jy hulle ‘n antwoord gee wat die vrae verdien.  Dit is nou nie asof dit enigsins hulle besigheid is nie. 

Hier is die nuusflits.  Dit reën nie mans nie en hulle is ook nie in PnP te koop nie.  Dit het net nog nie gebeur nie.  Geen bisarre, versteekte skandaal nie, jammer om julle teleur te stel.  Ek het bloot nog nie ‘n man ontmoet wat my voete onder my uitgeslaan het nie.  Nie dat ek verbaas is nie, goeie goed is mos skaars. 

Dit behoort tog die logiese gevolgtrekking te wees, maar helaas.  Al teken jy vir mense prentjies sal hulle weer en weer vra.  Dit laat my dink aan ‘n grappie wat ek eendag gehoor het.  Die vrou vertel hoe al wat ou tannie was altyd op troues haar in die ribbes gepomp het en vertel het sy is volgende.  Hulle het vinnig die strooi gestaak toe sy dieselfde met hulle op begrafnisse begin doen het. 

Teenstrydig met wat al die bemoeisiekes dink, is ek nie een of ander freak nie.  Ek ken baie mense van my ouderdom en ouer wat ook enkellopend is.  Dit is baie meer algemeen as wat hulle glo.  Anders as hulle dink ek nie dat ‘n baba in jou tienerjare iets is om oor huistoe te skryf nie.  Die tyd wat hulle op hulle rug onder ‘n man deur gebring het, was ek in die skoolbanke of universiteit gewees.  Ek is heeltemal instaat om myself te onderhou, self asem te haal en om iemand te betaal om die goed te doen wat ek nie self kan / wil doen nie. 

Ek het dus nie ‘n man nodig nie.  Die dag dat daar een in my lewe sal wees, gaan dit ‘n man wees wat ek daar wil hê.  Met geen ander bybedoelings nie.  As daardie dag nooit kom nie, so what? 

Die volgende een wat my vra vertel ek sommer dat ek gay is.  Dit sal ten minste ‘n nuwe been wees om aan te kou.  Solank hulle net nie begin kerm oor wanneer ek nou eendag ‘n meisie kry nie.

Breinvasbrand:  In watter fliek van Debra Messing huur sy ‘n manlike metgesel om haar na ‘n troue te vergesel? 

Breinlosbrand:  Satï


Aksies

Information

4 responses

23 02 2012
hoendersop

So ‘n bek moet jam kry!

23 02 2012
Olga

wha ha ha ha. Jy gaan dan beslis n ding begin.

23 02 2012
Sonlig

Ek het só gevoel toe ek ‘n paar jaar lank getroud was en almal karring so oor wanneer kom die baba dan. Ek het eendag genoeg gehad en hard gesê dat ons nie kán kinders hê nie. Die nuus het soos ‘n veldbrand versprei onder die familie en niemand het weer oogkontak gemaak as daar van babas gepraat is nie.

He he – hulle wonder seker nou nog oor my twee “wonderwerkies”. :mrgreen:

25 02 2012
seegogga

Ek self het laat getrou, en so by myselwers gelag as ek gesien het hoe my tannies my met sulke bekommerde bejammerende oe aankyk- hulle het immers almal op so 19-20 getrou. Ek dink die lewe van ‘n enkellopende is baie minder gekompliseerd en baie lekkerder as wat die meeste getroudes besef. Genietit!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: