Tipiese Dag

3 02 2012

Maankind het huiswerk uitgedeel, dus moet julle haar blameer as julle aan die slaap raak.  😉

Ek voel partykeer nes ‘n skoolkind, elke dag is daar ander buitenmuurse aktiwiteite waarby ek moet uitkom.  Vandag is egter Vrydag, dus sal ek maar by Vrydag hou. 

Aangesien mens altyd lyke stroom af gaan soek, dink ek glad nie stroomop is so sleg nie.  In my geval doen ek my oefeninge terwyl ek slaap.  Ek wonder altyd hoe mense dit regkry om in bed te slaap en die volgende oggend wanneer hulle uitklim lyk die bed onaangeraak.  Ek is nie een van daardie mense nie.  Kanse is dat dat die laken skoon afgeslaap is. 

Wanneer ek my een oog oopgebeur kry, gryp ek na my selfoon.  Ek hol dan gou vinnig deur Facebook, epos, koerante en blogs.  Net om seker te maak die wêreld het nie intussen vergaan nie.  Dit is die vinnigste manier om te sien of daar iets van belang gebeur het.  Ek kan daarna nog ‘n bietjie dut.  Wanneer my kamermaat in die kombuis  doenig raak, beter ek myself lig.  Sy maak gewoonlik koffie, wat sy nie juis omgee om te laat koud word nie. 

Ek sal eers ‘n vinnige draaitjie loop en dan die alarm afsit.  Ek gaan gee die diere kos en maak seker hulle waterbakke is skoon en vol.  Ek gooi my swaargekweekte plante nat (as ek onthou) en verwonder my aan die bure se kind wat so vroeg al gil.  Ek sit al die skottelgoed in die wasbak en tap dit vol warm water.  Daarna gryp ek koffie en beskuit en gaan klim terug in die bed.  Ek eet soos ‘n beskaafde mens elke oggend ontbyt in die bed. 

Dan is dit badtyd, met ‘n boek of ten minste net iets om deur te blaai.  Wat gewoonlik beteken ek bad te lank en is dan laat.  Ek moet dan teen die spoed van lig aantrek, my tandeborsel, bed opmaak, die skottelgoed was, middagete gryp (vrugte en miskien jogurt of ‘n broodjie), aandete uithaal (nee, dit is Vrydag – dus wegneem ete dag) en myself uit die huis boender.  Ek gaan kyk of my diere al ontwaak het en dan ry ek kantoor toe. 

Ek werk dikwels nie op kantoor nie en moet soms reis.  In daardie geval moet ek vroeër opstaan om die koerant te doen of my tweeling smeek om dit namens my te doen.  Ek hardloop deur die dag agter afsprake aan, woon vergaderings by ens ens ens.  Niks om oor opgewonde te raak nie.  Ek neem gewoonlik nie middagete, maar eet my middagete deur die dag verspreid.  Ek werk ook dikwels laat of moet internasionale oproepe maak buite kantoor ure.  Vrydag middae is gewoonlik rustiger en ek is dan baie selde na 17h30 op kantoor. 

Vrydag is gewoonlik die dag wat ek agterkom die melk is op die laaste druppel en dat dit en dat ook klaar is.  Ek moet dan maar by Kies & Betaal gaan kuier.  Ek staan gewoonlik in die “express line”.  In my maandjie is daar gewoonlik melk, vrugte (tensy ek Fruit & Veg toe wil gaan), bestandele AS ek iets wil kook / bak die naweek, rolletjies vir die naweek en iets soos kaas of salami.  Ek sal aandete kry, tensy ek van plan is om uit te gaan eet.  Die ete sal seekos met tjips of sushi wees. 

Ek mik dan huiswaarts om my inkopies te gaan bêre en ‘n oog oor my diere te gooi.  Gewoonlik terwyl die heks om my voete neul vir die “rekendingetjie”.  Om een of ander rede, wanneer ek wel die dag uitgaan, gaan ek op ‘n Vrydag of ‘n Donderdag uit.  Nie sulke planne vandag nie.  Ek gee die heks die “rekendingetjie” en voer myself.  Ek kyk wel Vrydae televisie, ek hou daarvan om Noot vir Noot saam te speel.  As daarna nie iets is wat ek wil kyk nie, sit ek ‘n DVD in of kry ‘n fliek bevlieging.  Ek kyk gewoonlik met ‘n rekenaar op my skoot TV. 

Ek sal later kamer toe gaan en so ‘n bietjie kitaar oefen.  Met die hoop dat die getokkel die bure sal irriteer om hulle terug te kry vir hulle kind se geskree.  Ek lees ‘n bietjie, sal miskien selfs gaan bad (veral as die boek nou regtig spoed opgetel het) en sit iewers na 12, maar voor dagbreek die lig af.  Dan hol ek vir ou laas deur Facebook, epos, koerante en blogs.  Ek raak gewoonlik dadelik aan die slaap nadat ek my selfoon neer gesit het.

Breinvasbrand:  Wat is die heks se naam?

Breinlosbrand:  Maankind was reg met Daniel.

Ek deel dan die huiswerk verder uit vir Olga en Sonlig.


Aksies

Information

11 responses

3 02 2012
MaanKind

Amper sê ek my goeie fok. Maar gelukkig bedink ek my, en vra ewe ordentlik waar kry jy nog tyd om my so ingelig te hou oor alles? Want ek sien elke dag uit na jou blogs!

Enigste sin waarmee ek kan assosieer, is: Wanneer ek my een oog oopgebeur kry, gryp ek na my selfoon.

Dan sou ek baie graag nog in die bad wou kon lees, maar helaas stoom my bril toe, omdat my badkamers bitter klein is.

3 02 2012
Olga

laviga?
Neeeee. Huiswerk suig. Ons sukkel reeds weer vreeslik met sein. Vodacom is blixems.

3 02 2012
Wheelbarrow Jack

Sushi? n mens is mos nie n kat om rou vis te eet nie. Nie eers as dit n rysjassie en n blaar dra nie.

3 02 2012
Gerda. J

teen die prys wat sushi kos, sal n kat vrek as hy sushi met of sonder n jas en blaar inkry.
jy kry baie gedoen in een dag.

3 02 2012
Wheelbarrow Jack

As sushi die kat gaSan laat vrek, wat gaan dit aan die mens doen? ushi is n goeie rede om aan airrush of stimirol verslaaf te raak.

3 02 2012
Gerda. J

net n mal mens gaan die nasmaak van sushi met kougom wegjaag.

3 02 2012
Sonlig

Jô – jy wil nou regtig hê jou aanhangers moet slaap!

My dag is nóg meer vervelig as wat jy dink joune is:

Ek het eenkeer gelees Sophia Loren sê sy staan nooit rustig op nie – al is dit pynlik; dit hou haar jonk. Nou ja, ek doen dit nooit omdat ek jonk wil bly nie, maar gewoonlik omdat ek hopeloos verslaap het. Daai snooze button was ‘n slegte idee. Period.

So vlieg ek dan gewoonlik op om óf broodjies (in Januarie is dit slaai) vir my geliefdes te maak of om die nat bondel in die masjien kaalvoet en in my PJ’s op die draad te gaan hang.

So in die terughardloop, pluk ek my klere uit en spring in die stort. Dit is wanneer die water my tref dat ek eers amptelik wakker word. Aantrek gebeur ook redelik vinnig en tussendeur moet ek my ore spits om te hoor of daar elders in die huis ook lewe is, want dit het al meer as eenkeer gebeur dat ek gestewel en gespoor met my handsak oor my skouer my jongste nog diep in droomland aantref wanneer ons eintlik al móés gery het.

My man is verantwoordelik vir ons oudste en hulle ry basies wanneer die res van ons eers ontwaak, so ek hoef darem net een ander een by sy bestemming te besorg.

Daar gebeur nie ontbyt in my huis (waarvan ek bewus is) nie.

Die rit skooltoe is basies ‘n tipe checklist wat deurgehardloop word. Is al jou huiswerk gedoen? Het jy jou kos gevat? Was daar briewe wat ek moes teken? Is jou tande geborsel? Het jy jou koorleêr? Het jy ‘n onderbroek aan?

By die werk gekom, parkeer ek my kar en dan word die grimeersakkie nadergesleep sodat ek kan kyk of ek iets aan die skade kan doen voordat ek by die deur instap. Met my handsak nog oor my skouer, sit ek die ketel aan en dan gebeur die eerste koffie en ontbyt wat ek sommer in die kas by die werk bêre.

My dag by die werk is maar meestal agter ‘n lessenaar. Nie dat ek oorspronklik beplan het om ‘n “penpusher” te word nie, maar dit het maar so met die jare gekom. Dis dan ook hier waar ek so ‘n paar keer per dag gou op die blogs of FB klim – dié dat julle my nooit oor naweke of saans hier gewaar nie.

Na werk is dit weer dieselfde paadjie terug skooltoe en dan gewoonlik een of ander draai om groente, hondekos, voorskrifte of iets dergeliks in die hande te kry. (Jip – ons is amptelik in die brille en pille stadium) Aandete is iets wat gebeur nadat ek hande in die sye voor die vrieskas gaan staan het, want as dit van my kinders afhang sal ons elke aand Spaghetti Bolognaise eet, so ek kan hulle nie meer vra nie. As dit van my afgehang het, het ons elke aand (gekoopte) kaaskoek geëet, maar nou ja – dis ook nie ‘n opsie nie.

Na ete is dit maar wasgoed was, huiswerk doen of TV kyk, of alles gelyk – afhangende van watter aand van die week dit is. Ek gaan slaap gewoonlik so 10 uur/ half elf. Ek’s beslis ‘n 8-ure meisie.

My kollega vra elke oggend vir my: “How was your evening?” My standaard antwoord is altyd: “Uneventful – just the way I like it.”

Okei, okei……….dis verby! WORD WAKKER!

Ek tag vir Son en Laviga om ons van ‘n tipiese dag in hulle lewens te vertel.

4 02 2012
Son

Hel Sonlig, ek brand jou sommer met ‘n straal. 😈 Ek sal Maandag (of so) my huiswerk doen. Dis te warm hier in Skelmbos vandag en more om baie te dink *sug*

4 02 2012
Toortsie

Ek wonder of dit nie lui mense is wat Sushi eet nie…te lui om kos gaar te maak??

Ag, en my maatjie, die heks, wat nooit MY blogs lees nie, maar ek lees graag hare, is natuurlik…… uhm….. jy weet ek kan nie name onthou nie…. uhm….sy hou nie daarvan dat ek uitpraat nie….sy wil nie hê ander moet weet wat haar naam REGTIG is nie….t…t….t……

(fluister….Laviga)

4 02 2012
My dag « Herriemerrie

[…] Tannie Soentjies het vir my huiswerk gegee en soos julle weet is ek ‘n baie konserterige heks.  […]

7 02 2012
Een dag in my lewe « Kouevuur

[…] Sonlig het via die Merrie gesê ek moet vertel hoe lyk ‘n tipiese dag in my lewe. Verveeeeeelig! Maar nou ja… […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: