Siek, Siek

24 01 2012

Om siek te speel is nie juis iets nuuts nie.   Kleuters doen dit wanneer hulle nie lus is vir skool nie.  Hulle span dit selfs as ‘n verskoning in as hulle nie besonders lus vir seker takies nie.   Kinders doen dit vir skool.  Studente is geneig om dit vir toetse in te span waarvoor hulle nie lus is nie.  Dan betree mense die arbeidersmark en skielik word daar siekverlof ingespan vir trek, lang naweke of sommer net omdat mense nie lus is nie.  Baie mense vertaal die maksimum siek verlof van 6 weke in 3 jaar as ‘n addisionele 2 weke ‘n jaar.

Dit is niks nuuts nie en dit is geen geheim nie.  Wel, die enigste geheim is diegene wat siek pleit inderwaarheid dink mense glo hulle is siek.  Diarree is immers ‘n baie gemaklike sieke.  Kom in een dag, waai in een dag en niemand is lus om oor die besonderhede uit te vra nie.  Behalwe nou as die persoon dom genoeg is om in ‘n baas vas te loop.  Jy kan bittermoeilik inkopies doen, krieket kyk of rondloop as jy nie jou stert van die toilet af kan lig nie.

Hierdie kamma-siekdae kos nogal ‘n aardige bedraggie jaarliks.  Baie besighede begin mense blatant omkoop om die siekerigheid te vermy.  Dit geskiet soms met ‘n bonussie as jy nie siekverlof geëis het nie of in sommige gevalle ‘n geskenkbewys.  Hoe goed dit werk, sal ek nou nie kan sê nie.  My ervaring is in elk geval dat so ‘n siekverlof wat nie te gereeld gebeur word nie, gewoonlik in goeie gesindheid aanvaar word.  As iemand nou aspris hulle 2 weke ekstra verlof wil inwerk nie, gaan daar gefrons word.

Die teenoorgestelde geld ook.  Mense wat soos lyke lyk en dan gaan werk.  Dit lyk of hulle enige oomblik kan omkap, maar as jy sien sit hulle kiertsregop by hulle werkstasie.  Al kos dit hulle dood of steek ‘n paar mense aan wat drasties hoop op siek verlof.  Die ywer kan ‘n mens waardeer tot op die punt waar dit bloot stupid is.

Dan kry ‘n mens die wat bloot net siek in die kop is en die siekheid kan siekverlof net mooi niks aandoen nie.  Daar is hoeveel mense wat met skete en pyne rondloop net vir simpatie.  Sou die simpatie begin taan, raak die pyne en skete erger.  Wat eers pateties is, is wanneer hulle ‘n dokter van die laste probeer oortuig.  Toegegee, die klompie wil nie op ‘n hopie sit en hulle self bejammer nie.  Hulle soek toeskouers en daag dus eerder op vir werk.

Daar is dan die ma’s wat hulle kinders siek maak / hou vir een of ander vreemde rede.  Dit is ‘n beskryfde toestand, maar dit is siek op talle vlakke.  Hoe mense hulle gewete so kan verkrag om mense te manipuleer, weet ek nie.

Laaste maar nie die minste nie is die Shaiks en Selebi’s van die lewe.  Hoe Selebi so vinnig so dodelik siek kon word na sy appél misluk het, weet ek nie.  Steve Biko is seker net ‘n meer aangename tronk as Sun City.  Miskien pak sy niere regtig op, maar niemand sal my kan oortuig dat Shaik iets meer as ‘n taai klap makeer het nie.  Dat hy boonop daarmee weggekom het, is om van te kots.  Hy is seker die “Siek Pleit Koning”.

Het jy al ooit siek gepleit sonder ‘n rede?  Wat dink jy van mense wat dit doen?

Breinvasbrand:  Wat word die toestand genoem waar ma’s hulle kinders moedswillig siek maak?

Breinlosbrand:  Olga was eerste reg met “The Body”.

Advertisements

Aksies

Information

11 responses

24 01 2012
Die Skribent

Ek is skuldig! Soos duisende, nee, miljoene ander mense het ek al ‘n migraine of kwaai maaggriep opgedoen as daar vir my ‘n onaangename konfrontasie voorgelê het. Deesdae kry ek maar eerder die swaarkry met lekkerkry klaar – dan’s dit verby, overs-kedovers!

24 01 2012
Xena Phoenix

Ek kan eerlik sê dat ek in my lewe net een keer siek verlof gehad het. Ek het ‘n doktersbrief gehad en het gevoel ek gaan dood.

24 01 2012
Celia

Daar is min dinge in die lewe wat my so kwaad maak as mense wat een of ander aansteeklike pes het en dan kom werk met hulle MartieMartel*** houding. Hulle steek bloot net almal aan en sommige van ons het klein kindertjies wat weke lank kan sukkel om dan weer gesond te word. As jou neus loop en jy nies gaan kry vir jou medikasie EN BLY BY DIE HUIS totdat jou kieme minder is.

24 01 2012
Xena Phoenix

Ek verstaan jou pyn, hoewel ek in ‘n sekere mate self skuldig is (darem nie in ‘n oopplan kantoor nie).

24 01 2012
demoerin

My probleem is ek is geseën met baie goeie gesondheid. Niemand sal my glo as ek siek pleit nie 😆
Vir die mense wat dit so fake..al wat ek te sê het is die wiel draai.

24 01 2012
Xena Phoenix

Noudat jy dit noem, ek het self al gewonder of die mense nie bang is hulle raak regtig siek nie.

24 01 2012
Olga

munchausen by proxy.

Ek het so iemand geken. Sy het my 1keer gese: ‘kan jy glo, dis al vrydag en nie 1 van die kinders was al siek nie’
n uur later het sy die dr uit geroep.
Nee, ek speel ni siek nie.

24 01 2012
Xena Phoenix

Maar siende dat jy vir jouself werk, gaan jy mos weet as jy jok. 😉 Sulke ma’s is scary

24 01 2012
MaanKind

My kind kon so siek speel. Een goeie dag het ek haar streng vermaan om ‘n Disprin te drink en skool toe te gaan. Ek was skaars by die werk, toe bel sy my en deel my triomfantlik mee dat sy dokter toe was, en sy het pampoentjies En Duitse masels. Afgeboek vir 2 weke…

24 01 2012
Xena Phoenix

Yikes!!! Ek neem aan sy het lank daardie een onder jou neus gevryf.

25 01 2012
Twilight

Nee, ek hou te min van siek wees om nog siek te speel! Meestal verkeer ek in ‘n toestand van ontkenning wanneer ek wel siek word. Maar dan het ek ook al gesien dat as mens iets soos griep kry (wat ek darem bloedweining kry) dit nie help om ‘n held te probeer wees nie. Bly in die bed vir ‘n dag of twee en jy gee jou liggaam kans om beter te herstel, steek nie ander aan met jou pes nie en, les bes, jy terg jouself nie dat jy produktief is terwyl jy eintlik meer tyd spandeer daaraan om jou neus uit te blaas nie. Aanvaar ook dit gaan tyd neem vir die virus om uit jou lyf uit te kom. Dit help jou nie jy hol dokter toe na drie dae se siekwees nie. Hy kan boggerol vir jou doen, hoewel hy waarskynlik te (gierig?) ordentlik gaan wees om jou dit prontuit te sê. Ek hou my redelik ongevoelig as my huismense siek word. Ek sal dokter waar ek kan, maar ek moedig nie pieperigheid aan nie – tensy ek kan sien dat die kind/man regtig siek is. Ken te veel mense met ipekonders en dit irriteer my grensloos. As jy my aandag wil hê, soek dit op ‘n ander manier!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: