Iemand moet die vark wees

20 01 2012

Ek wroeg al met die vraag vandat ek dit by Skemer gelees het. 

Een van die treffendste tonele vir my uit “Pearl Harbor” is wanneer Evelyn, ‘n verpleegster, uit moet gaan en moet besluit wie behandel moet word en wie eerder moet sterf.  ‘n Posisie wat ek vir een haar nie beny nie.  Nogtans was dit ‘n baie nodige rol.  Daar was net soveel dokters, verpleegsters, beddens en toerusting.  Nie almal kon behandel word nie, daar moes dus die beste van ‘n baie slegte saak gemaak word. 

Dit was oorlog en daar was nie tyd vir ‘n debat in verskeie raadsale en konferensies nie.  Tog is daar mense wat daagliks hulle in min of meer dieselfde bootjies bevind.  Soms kan die kwessie aangegee word na ‘n kwartaalikse vergadering waar daar in rand en sent besluite geneem word.  Besluite wat iemand lam van verligting kan maak, maar mense ook in ‘n put van hulpeloosheid kan dompel waar al die woede in die wêreld niks kan vermag nie.  Geregverdige woede dalk, maar nogtans futiel.  Iemand gaan blameer word. 

As daar individueel na ‘n saak gekyk word, is dit maklik om ‘n oordeel te vel.  Die besluitnemers het gewoonlik meer as een geval wat vir behandeling skree. 

Kom ons trek die ander skoene aan en gebruik ‘n eenvoudige scenario.  Jy is die dokter aan diens en daar is skielik ‘n uitbraak van ‘n onnoembare siekte.  Dood tree gewoonlik binne ‘n uur in en die pasiente stroom in.  Jy het die volgende mense wie van jou verwag om hulle te behandel.

  • Pasient A:  die Staatspresident.  Diegene wat nie vir hom gestem het nie, was doodeenvoudig nie by die stemstasies nie.  Hy doen goeie werk wat almal tevrede stel en sy kritici kry geen modder om na hom te gooi nie.
  • Pasient B:  ‘n 23 jarige verstandelik en fisiek gestremde vrou wat van ander se hulp afhanklik is. 
  • Pasient C:  ‘n Enkelma van twee kinders
  • Pasient D:  ‘n Tienerseun wat ‘n belowende toekoms as ‘n rugbyspeler kan verwag.
  • Pasient E:  ‘n Pragtige 4 jarige poplap, haar ouers se enigste kind
  • Pasient F:  ‘n Man wat die broodwinner van sy gesin is in die fleur van sy lewe.
  • Pasient G:  ‘n Stout laerskoolseun van ‘n gesin van 6 kinders.  Die ouers sukkel maar om kop bo water te hou
  • Pasient H:  ‘n Ouma van 90 jaar oud, wat terminaal siek is aan breinkanker
  • Pasient  I:  ‘n 49 jarige vrou wat ‘n sopkombuis vir 300 honger mense bestuur
  • Pasient J:   ‘n Hawelose boemelaar met ‘n paar inskrywings op sy misdaadrekord.

In die hele land is daar net 5 eenhede van die teenmiddel vir die onnoembare siekte.  Jy het 2 by jou en die ander 3 gaan heel waarskynlik nie betyds opdaag nie.  Jy moet optree en jy moet nou optree.

Wie gaan jy eerste behandel?  Wie gaan op die kortlys wees vir die volgende behandeling?  Hoe gaan jy besluit? 

Ongeag van jou besluit, gaan 5 – 8 mense doodgaan as gevolg van jou besluit.  Daar gaan iemand wees wat gaan omgee en jou gaan verkwalik daaroor.  Jy gaan die vark in die verhaal wees al  het jy wel 2 – 5 mense se lewens gered.  Punt is dat jy iemand se lewe hoër geag as ‘n ander s’n en nie almal gaam met jou redenasie saamstem nie.  Die wat iemand verloor het, gaan jou haat. 

Breinvasbrand:  Wanneer is die Wêreld Gesondheids Organisasie gestig?

Breinlosbrand:  Bileam was reg met 1 Mei.

Advertisements

Aksies

Information

10 responses

20 01 2012
MaanKind

Ek kan soooo assosieer, ek moet baie dae die vark wees op ‘n manier. Dis baie moeilik om NEE te sê vir iemand vol hoop, maar ter wille van myself en ook die ander persoon, is dit beter.

20 01 2012
Selene Phoenix

Sjoewee dis ‘n moeilike een… net twee mense?

Ek sal maar die president red, en die enkel ma. Ja ek het die mense geoordeel hier, maar hoe anders? Moet ek stokkies agter my rug hou?

Ek het myself maar in hulle posisie probeer sit… as ek dodelik siek was, baie oud is en geen doel in die lewe het nie sal ek maar eerder my lewe op offer vir die ander persoon.

Dan sal ek die drie kinders red.

Ek is nog steeds nie seker oor my keuses nie, maar dis nou maar my keuses.

20 01 2012
Olga

kyk, noem my gerus n slapgat. Ek sou die 2 gered het wie op eie stoom by my kon uitkom.

20 01 2012
Olga

o, ja, 07/04/1948.

20 01 2012
Xena Phoenix

Ek moet seker self ook antwoord:

Ek sou eerste die enkelma en die broodwinner gered het. Die implikasie van hulle dood sou die “ergste” gewees het. As die noodvoorraad opdaag, sou ek die kinders chronologies (first come, first serve) red. Sou daar een of ander wonderwerk wees, sou ek met die uitsondering van die ou tannie en die president die ander in chronologiese volgorde red.

Die president sou 9 de wees. As is die hoofdienaar van die land en as hy enige eergevoel vir sy posisie het sal hy nie toelaat dat iemand ten koste van hom gered word nie. Niemand is onvervangbaar nie.

Of die ouma enigsins gered moet word is ‘n heelander vraagstuk. Dit gaan haar lyding onnatuurlik uitrek.

20 01 2012
Twilight

Goeie inskrywing! Jy illustreer baie goed hoe moeilik dit sou wees om op grond van sosiale waarde so ‘n besluit te neem. Kom ek maak dit nog moeiliker.

I Die Staatpresident sal voor die volgende verkiesing moet bedank omdat te veel vrae gevra word oor sy baie geld in ‘n oorsese bankrekening.
II Die verstandelik en fisiek gestremde vrou het ‘n werkie in ‘n fabriek wat sy goed en pligsgetrou doen met haar een hand wat sy so op ‘n manier kan gebruik. (Niemand anders kan of wil dit doen nie, want dis te eentonig en dit kan ook nie regtig gemeganiseer word nie.) Met die bietjie geldjies wat sy verdien en ‘n klein toelaag omdat sy gestremd is, kan sy finansieel help om haar baie arm gesin se kos te koop.
III Die enkelma van twee kinders is aan dwelms verslaaf en haar kinders trek maar so saam met haar van een hool na ‘n ander.
IV Die belowende jong rugbyster het ‘n ego so groot soos ons sterrestelsel. Hy is ‘n regte twit.
V Die vierjarige gaan ‘n minder skattige grootmens wees. Sy gaan bra gewoon wees, om die waarheid te praat. Nie regtig iets bydra tot die samelewing nie.
VI Die broodwinner molesteer sy dogter.
VII Die stoutseun is stout omdat hy baie intelligent is en deur volwassenes se manipulasie sien. Hy is ‘n toekomstige uitvinder van ‘n kuur vir kanker.
VIII Die ouma van 90 se pensioen onderhou al haar kinders en kleinkinders.
iX Die sopkombuisbestuurder steek ‘n persentasie van die fondse wat bedoel is vir die armes, in haar sak.
X Die hawelose boemelaar gaan homself uit sy situasie red, nadat die tannie van 90 hom in die hospitaal onder hande geneem het en hom help bekeer het en hy gaan die sopkombuis oorneem en regverdig bestuur.

Maar sien, niemand gaan hierdie goed weet of selfs kan voorspel nie. So, ek stel voor jy sit al die name in ‘n hoed en trek dit. Of first come, first serve.

Baie dikwels is daar nie noodwendig ‘n toutrekkery vir geld nie of neem die persoon wat wag om ‘n orgaan nie iemand anders se plek op nie (soos klein Amelia ). Dan is iemand ‘n kans op lewe weier op grond van ‘n vreemdeling se persepsie van daardie persoon, bloot net verkeerd.

20 01 2012
Xena Phoenix

Nou weet ons hoekom bly die administrateurs net by die mediese feite. In “My sister’s keeper” vertel hulle van hoe die etiese raad besluit oor nuwe behandelings. Dit maak natuurlik nie die keuses makliker nie. Veral nie as jy net ‘n uur het nie.

First come, first serve of lootjies is seker net so ‘n “aanvaarbare” manier as enige iets anders.

20 01 2012
Twilight

He- he, ek wou presies dieselfde gese het van die president! As hy sy sout werd is sou hy homself opgeoffer het..

20 01 2012
Son

Goeie bliksem, ek wil nie ooit in my lewe nodig hê om oor mense se lewe en dood te besluit nie – dis net te “random” en hoe sal ons ooit weet wie is of gaan ‘n bate vir die samelewing wees, soos duidelik uit Twilight se antwoord geillustreer is.

Maar, in die geval van Amelia is dit nie lewe of dood vir ander mense nie, haar eie familie wil ‘n nier skenk. Dis net plein dwislik dat di ehospitaal haar nie wil help nie.

Mens MOET na elke geval se meriete kyk.

20 01 2012
J W W

Ek sou beslis eerder die medisyne wegmoer voor ek ‘n politikus red.

My 2 keuses sal wees die broodwinner end ie 49 jarige sopkombuis bestuurder.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: