Wit bediendes

9 01 2012

Die hoofnar het weer sy tong uitgegrou en nou soek hy wit bediendes.  Ek neem aan dat dit benede sy waardigheid om soms ‘n tydskrif deur te blaai of dalk is die Huisgenoot net bokant sy vuurmaakplek.  Deur die jare was daar gereeld artikels oor wit bediendes gewees.  Ek onthou byvoorbeel ‘n vrou met kort grys hare wat vir Mandela huisgehou het.  O heng, verskoon my, siende dat sy ‘n huishoudster genoem is, tel sy seker nie.  Daar was wel ander.  Die onlangste wat ek kan onthou (en ek lees net ou Huisgenote) is die vrou wat vir twee swart vrouens char.  Die ironie is dat nie een van haar werkgewers werk nie, hulle leef van toelae.

Ek moet egter toegee dat al is wit bediendes niks nuut nie, maar dit bly nog eerder die uitsondering as die reël.  Tog wonder ek oor hoe ek sal voel oor ‘n blanke vrou wat in my diens staan om my huis leefbaar te hou.

Om mee te begin is dit juis blanke vrouens wat my huis leefbaar hou.  Ek het nie ‘n gereelde bediende nie en moet dus self inspring.  Toegegee, ek is nie van die flukstes nie, maar ek hou darem ‘n mate van ordelikheid.  Ek het geen probleem daarmee om my eie toilette skoon te maak nie.  Ek kry wel met tye ‘n vrou in om die plek ordentlik skoon te maak.  Uit luiheid, nie omdat ek die werk benede myself vind nie.  Inderwaarheid is my ma dikwels die vrou wat voel dat my huis ‘n regruk nodig het en die nodige doen.

Ek weet nie hoe ek sal voel om ‘n blanke vrou / meisie  / seun aan te stel om my huis reg te ruk nie.  Ek sal beslis nie die vrou wat my met tye help oorsien net om ‘n ander vreemde toegang tot my huis en besittings te gee nie.  Hoe minder mense weet wat in my huis aangaan, hoe beter.  Ek wonder egter of ‘n blanke nie spesiale toegewings of voorkeurbehandeling gaan soek nie.

As Thembi my help, nooi ek haar bv om self vir haar koffie of tee te maak.  Gaan Susan sommer koekies ook soek (nie dat ek ‘n probleem het dat Thembi haar aan my koekies help as daar is nie).  Gaan Susan bereid wees om die meubels weg te trek om te vee / stofsuig? Sal sy op haar knieë gaan om onder iets skoon te maak?  Of gaan Susan net so oppervlakkig soos ek skoonmaak en verwag om daarmee weg te kom omdat ons sogenaamde eende van dieselfde dam is?

Wanneer mens ‘n bediende tot jou huis toelaat, is daar sekere goed wat jy weet jy moet verwag.  Onder andere dat hulle van jou kan skinder of jou goed netjies met hulle self sal deel.  ‘n Blanke bediende gaan nie die uitsondering wees nie.  Ek vermoed nogal dat daar meer eise en uitbuiting sal wees.

Ons hoor dag na dag meer en meer van blanke armoede en blanke plakkerskampe.  Hoeveel van daardie mense het al probeer om as huis- of tuinhulp werk te kry?  Ek weet nie.  Dit is seker net makliker om Coke te drink, te rook en te wag vir pakkies om afgelewer te word.

Is ek nou onregverdig teenoor arm blankes of is hulle regtig te goed om hulle hande in koue water te druk?

Breinvasbrand:  Wie was die butler in “The Nanny”?

Breinlosbrand:  Duitsland

Advertisements

Aksies

Information

11 responses

9 01 2012
MaanKind

Well said. EK stem meestal nogal saam met jou sieninge weet jy?

9 01 2012
Xena Phoenix

Great minds, Maankind, great minds. 😉

9 01 2012
murphy

Ek sal baie weird voel as ‘n wit vrou in my huis moet werk. Dit wys jou hoe ingebore is ons vooroordele eintlik, né!

9 01 2012
Xena Phoenix

Weet jy – as ‘n blanke seun (of meisie) bv aan my deur kom klop om in my tuin te werk, sal ek hom (haar) graag die geleentheidwerkie gee. Ek hou nie van die idee van ‘n voltydse bediende nie, dus kan ek seker nie ‘n mening gee nie. MAAR ek het ‘n gevoelente dat die blanke bediende selfs nog meer probleme as die swart een kan gee.

Dit gesê – baie mense het blanke au pairs wat maar huiswerk ook doen. Baie van hulle het nie probleme met die au pairs nie.

9 01 2012
Olga

miles?
Die arm blankes, in plakkerkampe, is na my mening veral die soort wie nie hulle hande in kouewater sal druk nie.

Buurvrou uit my kinderjare het ons 1 dag vertel hoedat haar ma strykgoed ingeneem het. Sy het onder andere vir indier en kleurlinge gesinne ook gestryk. Dit was in die depressie jare. Sy het dit gedoen tot 1948 toe sy oorlede is. So ou oepsie, dis niks nuut nie.

9 01 2012
Xena Phoenix

Presies!!! Van daardie boeretannies het nie geskrik vir werk nie. Ek het al baie gewonder hoeveel mense wat ‘n ekstra geldjie nodig het, kan nie wasgoed van die huis afdoen nie. Bloot die feit dat dit blanke hande gaan wees, gaan die prys daarvoor aan uitbuiting laat grens.

9 01 2012
Olga

Laat my nou dink aan ‘n diens wat vandag vir my by die huis gedoen is. Dit is 85% duurder as in 2009 en is sonder ‘n blertsie sjampoe of reukwater of ‘n strikkie gedoen. Beste van alles is, die withande het ‘n foon vasgehou en die swarthande moes die werk gedoen het.

9 01 2012
Xena Phoenix

Dit is ‘n onderwerp wat ek nog een of ander tyd wil aanroer. Mens is geneig om blank en kwaliteit met mekaar te verbind. Deesdae val dit my meer en meer op dat mens kwaliteit teen ‘n aansienlike beter prys by “swart” maatskappye kan kry.

‘n Simpel voorbeeld. Ek hou nogal van Ocean Basket, maar die een naaste aan my se diens en kos is vrot. Die een waar ek altyd heen gaan se diens is flink, porsies ruim en alles is baie smaaklik. By die eersgenoemde het ek ‘n paar wit gesigte sien rondstaan, maar niks doen. By die laasgenoemde is daar ‘n swart bestuurder (dalk eienaar, ek weet nie) wat seker maak alles spark.

9 01 2012
Olga

85% se gat. Ek het my kwitansie bekyk. Dis net mooi 100% verhoging.

9 01 2012
Selene Phoenix

Ek sal dit ook vreemd vind om ‘n wit vrou in diens te neem… seker maar omdat ons dit nie gewoond is nie. In die UK werk die wit mense in ander se huise, en dis niks nuut nie… dit was vir my vreemd om hulle agter die tille te sien en die mans wat geboue bou ens.

Ek maak seker ons toilette is skoon voor my bediende kom, en ek sit die skottelgoedwasser aan so sy pak net uit en ek was al ons wasgoed self – sy stryk net. Ek help waar ek kan, want jammer maar net omdat jy ‘n bediende het hoef jy nie soos ‘n vark te lewe nie.

9 01 2012
Xena Phoenix

Ek onthou hoe vreemd was dit vir my toe ek eendag uitvind dat baie mense swart mans as bediendes het. 😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: