Seevakansie

29 12 2011

Almal wil in die see speel

Dit is die bitch in my wat praat.  Vir baie Suid-Afrikaners is dit tradisie om aan die einde van elke jaar tassies te pak en ‘n paar dae by die see te gaan afpak.  In baie gesinne word daar pligsgetrou elke maand ‘n paar rand eenkant gehou vir die bederfie van ‘n week of twee langs die strand.  Niks verkeerd daarmee nie.  Dit is tog hoe dit behoort te werk.

Van waar ek egter sit lyk dit vir my of amper elke Jan Rap en sy maat by die see sit.  In Desember (hoogseisoen) vir weke lank.  Ander se bankstate is maar duister, maar tog kan ek nie help om te wonder nie.  Ek gun elke mens om soms hulle voete in die see te gaan afspoel, maar dit is en bly ‘n luukse (behalwe as jy met jou een voet op ‘n piesangskil staan en nog nooit die see gesien het).  ‘n Luukse:  iets waarsonder jy goed oor die weg kan kom as dit moet.  Spaar is een ding, maar ten koste van wat?

Ek is dalk konserwatief in daardie opsigte, maar op my lys van prioriteite kom ‘n vakansie na ‘n mediesefonds, versekering en voorsiening vir my ou dag.  Die laasgenoemde is ‘n vraatsige wolf en ek doen seker nog lank nie genoeg daaromtrent nie, maar daar is darem ‘n goeie begin.  Dit gaan my verstand te bowe hoe mense wat nie die bogenoemde (en ander noodsaaklikhede) in plek het nie, jaar na jaar vir weke lank kan gaan vakansie hou.  In Desember wat verseker die duurste tyd van die jaar is.  Ek meen, dit is nou nie ‘n vinnige wegglip naweek net om ‘n bietjie seelug te gaan inasem nie.

Dit is my siening gebore uit my ervaringe.  Ander mense het dalk ‘n baie goedkoop manier om dit reg te kry.  My idee van ‘n seevakansie is nie om in die oggende wakker te word, af te slenter strand toe, die heeldag daar te lê en dan wanneer die son sak terug te slenter nie.  Ek sal foto’s gaan soek, alles wat die omgewing bied gaan uitprobeer (museums, akwariums, reservate).  As ek nooit op die strand self kom nie, sal ek nie eers gepla wees nie.  Ek gaan beslis nie my aandete in die see vang nie en die kanse dat ek enigsins vir myself gaan kos maak, is maar skraal.  Ander mense sal my idee as lasterlik beskou.

As ‘n mens deur tydskrifte blaai, blyk dit asof mense graag by kennisse en verlangse familie gaan afpak vir die vakansie.  Sonder om soveel as ‘n brood tot die huishouding by te dra nie.  Dit laat dan basies net jou reiskostes en reputasie om te betaal.  Is mense regtig jaar na jaar so onbeskaamd dikvellig?

Wat is jou idee van die ideale seevakansie?  Hoe begroot jy daarvoor?  Beskou jy ‘n seevakansie as ‘n noodsaaklikheid of ‘n luukse?

Advertisements

Aksies

Information

5 responses

29 12 2011
MaanKind

Hou my blog dop, ek gaan nog baie daaroor skryf. Ek is die familie by die see, en dit is vir my ‘n moerse voorreg as my familie kom kuier. Hier was gister familie wat in die Paarl vakansie hou, hulle het vir die dag by ons kom kuier, verlede jaar was hulle ‘n week hier by ons. Jongmense met 3 kids, wat andersins nie ‘n seevakansie kon bekostig nie. Ek gun elke kind ‘n vakansie by die see, en ons treat hulle sover ons kan.. Ons het gister vir hulle gesnyde spanspek en waatlemoen afgepiekel stand toe, daarna het ons vir hulle ‘n lekker ete kom kook, en toe sewe van hulle deur ons twee badkamers gejaag en gevoer. En ons is dankbaar om dit vir hulle te kan doen.

29 12 2011
pienkpantoffels

Vakansie bly maar ‘n kontroversiële onderwerp. Ek verkies ‘n stil vakansie, waar net ek en my man betrokke is met ons klein karavaantjie. Hopelik weer volgende jaar. Ek hou nie van op die strand lê nie, ek hou nie van son nie. Ek verkies berge, riviertjies, watervalle en bowenal stilte.

29 12 2011
murphy

Vir ons is dit beslis ‘n luukse en een wat ons nie die jaar kon bekostig nie. Seetoegaan is nie vir my die alfa en omega nie, ek worry nie eintlik daaroor nie. Ek verkies eintlik ‘n binnelandse vakansie, dit voel vir my minder gejaagd en ek voel nie so blootgestel aan al die kranksinnige Valies nie.

29 12 2011
Olga

ek is n weskus-kind. See toe, kan net sowel huis toe wees. Ek dink dit is uiters onbedagsaam om by fam te gaan afpak en te verwag om huisvesting, kos en vermaak te kry. Dan weer, dis net so onbedagsaam van fam by die kus wie awl and sundry nooi om te kom afpak, dan steen en been kla as die mense nie 24/7 met hul deurbring nie.

29 12 2011
J W W

Ek sal nooit in die mal seisoen see toe gaan nie…. te veel mense, en kriminele elemente, en alles is mur duur…. Ek gaan veel eerder buite seisoen, Sodwana toe, daar kan ek met die 4×4 op die strand ry en hoef niks te dra nie, veral die swaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaar coolbokse !

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: