Jaareind Partytjies

17 11 2011

Dis die maand November, die maand van partytjie hou.  Die maand wat elke plek waar jy op een of ander manier betrokke is hulle pond vleis soek.  Die maand wat jou verskonings vinnig uithardloop en dat jy na die ou getroues moet terugval.  Ek meen, hoeveel keer kan jy nou by die huis bly omdat jou gunsteling advertensie op gaan kom en jy dit nie kan mis nie?

Daar is seker meriete daaraan om ‘n jaar in ‘n tydlyn voor te stel.  In Januarie begin alles met ‘n groot gejuig.  Die wiele kom aan die draai, topspoed teen die middel van die maand.  Mens kry eers tyd om in April asem te skep.  Die keer is die wegspring stadiger, maar die spoed word opgebou.  Na die winter kom almal agter die pas is te stadig vir alles wat gedoen moet word.  In Oktober sleep jou tong al op die grond, maar daar is alles wat moet klaar.  Dan kom November en alle moontlike vrye tyd word deur sosiale verpligtinge opgesuig.  Dan is dit Desember waar jy maak of jy werk en darem ‘n bietjie tyd kry om jou wiele te pomp en jou battery na te gaan.

Maar ek praat nou van November (Oom Leipoldt se woorde verdraai so lekker).  Orals waar jou naam opgegee was, kom daar nou ‘n opdrag om hulle jaareindfunksie by te woon.  Ek wonder altyd vir wat?  Al kan ‘n tydlyn gebruik word, is jare eintlik sirkels.  Volgende jaar gaan ‘n mens tog maar net aan waar jy opgehou het.  Mens kan maar net hoop.

Dit begin by die werk se funksie – in werkstyd sodat geen verskoning nodig is nie.  Ek het al probeer om afsprake in die tyd te maak, maar wanneer ek my oë uitvee is dit geskuif en moet ek saam gaan partikie.  Goed en wel, lang dienstoekennings moet iewers uitgedeel word en die baas moet iewers dankie sê.  Die kos is lekker en almal vergat hulle name op die dansbaan.  Ek skop darem nie te heftig nie.

Dit is al die ander wat my lam maak.  Orals waar jy antwoord gegee het, nooi jou vir hulle afsluiting.  Elke komitee, elke vereniging, orals waar hulle jou naam ken – al ken jy nou nie juis hulle name of is jy lus om dit te leer ken nie.  Selfs die kerk en gimnasium.  Regtig?  Is die groot afsluitings regtig so noodsaaklik?

Ek is maar op my beste ‘n suurknol en sê maklik nee sonder ‘n verskoning.  Ek kan self nie beweeg met my dagboek nie.  Wat nog van iemand wat van sosiale geleenthede hou?  Wat is in elk geval fout met ‘n kaartjie wat “Happy Happy” sê?

Hou jy van die tyd van die jaar?  Hou jy van al die funksies wat nou kop uitsteek?

Breinvasbrand:  Wat is die geboortesteen van November?

Breinlosbrand:  JWW was reg met Oubaas


Aksies

Information

5 responses

17 11 2011
Selene Phoenix

Topaz (Geel)

Ons jaareind funksie lyk my is nou die 10de Dec! Sjoe darem nie oor Sisters nie!! Laas jaar was rof met river rafting so die jaar chill ons in die bos en groet ek dalk ou grootpoot met die hand! 🙂

17 11 2011
MaanKind

Dankie tog! Ons enigste jaareindfunksie is die bier wat ons nou op die deck by die strand gaan drink, om onsself te beloon vir ‘n groot job wat afgehandel is.

17 11 2011
J W W

En die blog se jaar eind party ?

Ek verpes eintlik die tyd van die jaar, al die winkels met die blink liggies en koop koop koop, sale, etc etc, om nie te praat van die vervelige kersmusiek wat heeltyd blaker nie. . . dieselfde ou liedjie die afgelope 36 jaar al !!!!

17 11 2011
Sonlig

Ek vind dit ook uitputtend! Genugtig, daar is party dae waar alles gelyk wil gebeur en ons suckers breek gewoonlik ons rûe om by soveel as moontlik uit te kom.

Dit help ook nie as die hele familie boonop nog in November verjaar nie!

17 11 2011
Olga

Almal wie my ken bel met die uitnodiging en antwoord ook sommer namens my. so ek is veilig. Homer weet hy kan gaan net waar hy wil, solank hy nie verwag dat ek saam met hom sal gaan nie. Ek lief egter “kerskarole. Of ius dit karoolse?”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: