Die Galg Skop Weer

14 11 2011

Die Galg van C-Max Gevangenes in Pretoria is gerestoureer en die keer is die publiek welkom.  Seker nuus wat baie Suid-Afrikaners met groot vreugde sal begroet, maar net totdat hulle hoor dat niemand gehang gaan word nie.  Wanneer die galg op 8 Desember geopen gaan word, gaan dit net ‘n kykie op die verlede wees.  Daar word immers gehoop dat mense sal besef dat die staat nooit die reg moet hê om ‘n lewe te neem nie.

Dit is bykans al ‘n tradisie om geweldadige misdaad aan gebrek van die doodstraf toe te skryf.  Amper asof ‘n swaaiende lyk mense sal verhoed om ‘n kind te verkrag, ‘n kind te vermoor, ou mense te martel of sadistiese genot te put uit ‘n ander te verneder, aan te rand en hulle dood te maak.  As ‘n mens na die ywer kyk waarmee sommiges graag die galg weer in gebruik wil sien, is daar maar min verskil tussen hulle denke en die een wat op die galg staan gemaak word.

Anders as wat ons graag onsself wysmaak, is Suid-Afrikaanse tronke glad nie ‘n piekniek nie.  Dit is ‘n walglike nes waaruit enige normale mens wil bly.  Niemand spring op en af om tronk toe te gaan nie.  Kyk maar hoe word daar alles in die stryd gewerp om daar uit te bly en hoeveel ontsnap pogings daar is.  Tronke is oorvol en die doodstraf kan dalk die oorbevolking (oor jare) hokslaan, maar dinge is nie so eenvoudig nie.

Die blote feit dat jy die doodstraf verdien, beteken nie noodwendig dat jy dit gaan kry nie.  As ‘n mens na statistieke kyk (ek praat van wat ek kan onthou), is daar amper ‘n 50% kans dat jy nooit aangekeer gaan word wanneer jy ‘n misdaad begaan nie.  Die kanse dat jy skuldig bevind word, is maar iets soos 20 %.  Ek is seker dat ‘n misdadiger nie juis daaroor slaap gaan verloor nie.  Selfs wag daar ‘n galg aan die einde van die pad, is daar ten minste ‘n 80 % kans dat jy dit gaan vermy.  Voordat die regstelsel opgeknap gaan word, gaan ‘n moontlike doodstraf niks verander nie.

Dit is ook nou nie dat die regstelsel sonder foute is nie.  Mense word nog steeds onskuldig tronk toe gestuur en selfs onskuldig terreggestel.  As dit gebeur, is daar geen manier om die veroordeelde te vergoed nie.   Ek dink ook nie dat dit moord is, wanneer jy ‘n aanvaller dood om jou of jou geliefdes se lewe te red nie (soos wanneer iemand jou aanval).  Die Suid-Afrikaanse regstelsel verskil van my.  Sou die galg weer in gebruik geneem word, gaan die selfverdedigers – maklike veroordeeldes – waarskynlik swaai.  Die geregtiges gaan gestraf word en die skuldiges gaan nog meer beskerm word.

Wat my veral koue rillings gee betreffende die doodstraf, is die korrupsie wat in Suid-Afrika hoogty vier.  Ek is glad nie so seker dat die doodstraf nie aangewend sal word om ‘n pyn in iemand se gat te verwyder nie.  Die staat het al hoeveel kere bewys dat hulle horende doof en siende blind is vir logika.  Gaan hulle gestuit word was hulle voel iemand kom hulle te na?  Of daar ‘n geldige saak is of nie?

Tog, watter ander straf is gepas vir ‘n kinderverkragter of kindermoordenaar?  Veral waar iemand in ‘n vertrouensposisie die skuldige is?  Mense wat doodeenvoudig nie rehabiliteerbaar is nie?

Goeie vraag, een wat ek nie kan beantwoord nie.  Ek moet egter erken dat ek die rede vir die doodstraf kan insien.  Maar wanneer alles opgeweeg word, is ek teen die doodstraf.  Ek is nie bereid om die laksman te wees nie of ‘n ander se lewe te neem nie.  Ek verwag dit ook nie van ‘n ander nie.

Hoe voel julle daaroor?  Hoe sal julle moord definieer?

Breinvasbrand:  Veroordeeldes in Suid-Afrika was om middernag ingelig dat hulle die oggend gehang sou word.  Hoe laat was hulle terreggestel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met McFadden

Advertisements

Aksies

Information

6 responses

14 11 2011
J W W

Vir my is dit redelik eenvoudig – oog vir ‘n oog

Jy neem ‘n lewe, jy gee ‘n lewe.

Maar ja ons regstelsel is so swak dit kan nie eers oorweeg word nie.

MAAR – dink daaraan, wie betaal vir die lewenslange gevangene se verblyf, kos, klere selfs mediese sorg ? dis die belasting betaler, dis dalk nog die slagoffer se ma, of pa, broer, of suster wat moet help sorg dat die skuim wat jou geliefde doodgemaak het versorg raak in die tronk – nou HOE de mur kan dit reg wees? In elk geval is daar mos ‘n verbod op “cruel & unusual punishment” en wat anders is dit as jy jou lewe lank in die hel wat ‘n tronk is moet bly ? ? ? Galg is so outyds, ‘n loodpil is baie baie meer effektief en goedkoper !

14 11 2011
Gerda. J

6vm.
dis barbaars. tog kinderverkragting en moord, bewuste, beplande moord is ook barbaarse dade.

14 11 2011
toortsie

KASTREER DIE VERKRAGTER!

14 11 2011
Selene Phoenix

Dit sou soveel makliker gewees het as mens 100% seker was die persoon is skuldig… want jammer maar ek glo daar is baie onskuldige mense in die tronk!

Ja ek vir een wou nog altyd die doodstraf terug he, maar aan die ander kant mens verdien seker ‘n tweede kans? Ons moet tog vergewe… maar hoe vergewe jy iemand wat jou familie wreed vermoor het? Of kind verkrag het?

Ek vir een wil natuurlik he mense wat diere mishadel verniet vir die DBV gaan werk en hokke skoon maak ens… maar mens kan nie dat ‘n verkragter met die kinders gaan werk nie…

14 11 2011
Olga

jy is reg onskuldiges sal gehang word terwyl die koelbloedige wetters gaan los loop nes dit die geval is sedert die middel ’90s.

14 11 2011
seegogga

Ek dink die doodstraf is hier afgeskaf voor die Nuwe SA om die inwoners te beskerm- kyk hoe gaan dit in die res van Afrika! Ek stem saam met Toortsie- kastyereer die verkragter en kindermolesteerder. Nie net sal dit mans tweekeer laat dink nie, maar hulle ook minder aggressief maak. En verkragting is mos ‘n geweldsmisdaad. Die kans om weg te kom met misdaad is. omdat mense verkeerd opgevoed word en die stelsel nie effektief beoefen word nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: