Van Huis tot Huis

10 11 2011

Ek het my melktande aan Fiela se kind uitgebyt.  Vandat ek die eerste keer die storie gekyk het, kon ek nie verstaan hoekom Benjamin opsluit weggeneem moes word van Fiela nie.  Hy was versorg en gelukkig – hoekom krap waar dit nie jeuk nie?  Vandag verstaan ek dit nog minder, sy omstandighede by die vermoedelike biologiese familie was ver van ideaal.  Nie net het hulle finansieel swaar gekry nie, hy was keer op keer uitgebuit.

Benjamin was seker die eerste voorval van huis tot huis wat ek teëgekom het.  In vergelyking met ander kinders het hy dit seker redelik gelukkig getref, maar dit vra nogal ongemaklike vrae.  As jou kind weggeraak het en jy kry haar of hom jare later gelukkig in ‘n ander familie, wat maak jy dan?  Sal jy dankbaar wees dat hy/sy veilig is en goed versorg is?  Dalk kontak behou, maar die kind los waar hy of sy is?  Of gaan jy die gemesde kalf slag en die kind dwing om by sy / haar regte huis te bly?

Geen maklike antwoord na enige kant nie.  Tog kan ek so vinnig 2 ware voorvalle oproep waar ‘n soortgelyke besluit geneem moes word.  Die eerste is die geval van Michaela Hunter wat ‘n jaar nadat sy ontvoer was weer huis toe moes gaan.  Toegegee, die ontvoerder was tronk toe en die “pleegpa” het haar self polisie toe geneem.  ‘n Ander geval was een waar twee ma’s ontdek het hulle seuns is in die hospitaal omgeruil.  Aanvanklik is daar besluit gewees om dinge te laat soos dit is.  En toe wil die een ma haar eie bloed terug hê.

Dit is seker een ding as daar oor ‘n kind tougetrek word.  Hy / sy is seker geregtig op ‘n paar issues, maar ten minste weet hy / sy dat daar iemand is wat hom / haar bittergraag wil hê.  Wat van die kind wat nie ‘n plek het wat nêrens sy / haar huis kan noem nie?  Kinders wat deur hulle eie ouers verwerp of verstoot is en dan soos ‘n klein brakkie van huis tot huis aangegee word.  Net sodat iemand kan besluit dat die brakkie nie regtig oulik is nie en die hele idee van pleegsorg nie so romanties is soos verwag nie.  Dit is tog maar net ‘n kind en wat is meer aanpasbaar as ‘n kind?

Die blote gedagte gee my koue rillings.  Ek sal nie eers ‘n brakkie so van een huis na ‘n ander aangee nie, wat nog van ‘n kind.  Tog kan ek seker nie oordeel nie, om mee te begin sal ek nie ‘n brakkie kry as ek nie seker is dat ek bereid is om met die op en af tye te lewe nie.  Waar dit ‘n kind aangaan, sal ek nog harder oor die saak dink.

Maar . . . almal is nie ek nie.  ‘n Kind is baie aanpasbaar, maar hulle is selfs nog meer aantasbaar.  So ‘n ontwrigte kind, gaan ‘n ontwrigte grootmens word.  En dit is nie maklik omkeerbaar nie.

Breinvasbrand:  Wie is Anne van Green Gables se aanneem ouers?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Nokia

Advertisements

Aksies

Information

6 responses

10 11 2011
Gerda. J

matthew en sy suster marilla cuthbert. eerste.

10 11 2011
Gerda. J

dis hartseer as mense kinderlewens so opmors. die kind word dan ook n grootmens sonder vastigheid of lojaliteit.

10 11 2011
Olga

dan is daar ander skuim, gerda, wie by hul ouers groot geword het sonder dat hul vastigheid of lojaliteit het.

10 11 2011
Olga

die fiela se kind angle is n ander ene. Ek het anderdag weer daaraan gedink. Dit was in alle opsigte tot sy nadeel. Emosioneel, fisies en fisiek. Ou van rooyen wie fiela uitskel en van sy werf wegjaag, dan eet hy tog alles wat sy gebring het, slaap onder die karos wat sy gebring en het geen gewetenswroeging omdat hy die kind sonder n kombers laat nie. Ek wonder tog op watter stadium het barta besef benjamin was nie haar verlore kind nie.

10 11 2011
Selene Phoenix

Dis hartseer as kinders so van huis tot huis moet gaan sonder vastigheid.
Ek weet toe my sus se man uitgeroep was vir “domestic violence” het hy ‘n pragtige dogtertjie gekry wat seker maande laas ‘n bad gesien het… maar hulle kon niks doen nie, die ouers het nie die kind “mishandel” nie.

Maar wat is die beste, los haar daar of sit haar in ‘n ander huis wat sy nie ken nie en dalk rebel want dis al wat sy ken?

Dit laat my ook dink aan daai Michelle Pheifer ? fliek waar haar seun wegraak, en jare later kom klop hy aan haar deur om haar gras te sny vir extra geld en sy herken hom. Hy het in ‘n goeie huis groot geword en kon nie by hulle aanpas nie.

Ek sal lyk my Fiela se Kind moet lees… 😉

10 11 2011
MaanKind

Ek wonder baie oor Michaela Hunter, sy bly spook by my

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: