Trane trekkers

5 11 2011

Ek het die eerste keer van “My Sister’s Keeper” gehoor in ‘n resensie van Tannie Gypsie daaroor.  My verbeelding was dadelik geprikkel en my goeie vriendin Google het my die storie vertel.  Julle weet, net sodat ek nie vrek van nuuskierigheid voor ek die boek verslind nie.  Kort daarna het die fliek uitgekom en ek het natuurlik gaan kyk.  Kort oor lank het almal in die fliek rondom my gesnik asof hulle harte breek.  Ek kon vir ‘n verandering die hartseer insien, maar het droë-oog baie geamuseerd gedink wag net tot die einde – julle tjank julle vandag wragtig dood.

Gelukkig vir hulle het die vervaardigers die einde verander.  Moontlik gelukkig vir my ook, anders het ek dalk my rekord verloor dat geen fliek my na trane kon dryf nie.   Hopeloos te vlak daarvoor.  En glo my, mense het my al getoets en hulle moes maar erken dat daar geen salf aan my te smeer was nie.

Ek onthou die aand wat ek Pearl Harbour gaan kyk het, toe wag een van die seniors my in die voorportaal van die koshuis in.  Ek het skaars in geloop, toe wou sy my oë ondersoek – vas oortuig dat tot ek aan die grens moes gaan.  Sy moes teleurgesteld wegdraai – daar was niks.  Tot vandag toe snap ek nou nie heeltemal wat so hartseer was nie.  As jy na ‘n fliek gaan kyk oor die Tweede Wêreldoorlog gaan kyk, gaan die mense mos doodgaan.

Daar was wel al ‘n paar knop-in-die-keel oomblikke in flieks gewees.  Hier is volgens my van die hartseerste flieks / oomblikke in flieks.

  • The Notebook – Die man gaan lees elke dag vir sy vrou wat aan Alzheimers ly hulle liefdesverhaal.  Dan gebeur die onmoontlike wonderwerk en sy onthou hom en hulle lewe saam.  Hy is verheug en hulle dans saam – voordat sy weer alles vergeet en dink hy is ‘n vreemdeling wat haar molesteer.
  • Titanic – Ek sal nooit kan oe en ah oor ‘n skip wat gesink het nie.  Dit is vir my net ‘n voorbeeld van hoogmoed wat tot ‘n val kom.  Tog, in die sogenaamde trefferfliek is daar ‘n toneel wat my die wêreld uitmekaar sal laat skeur.  Die derdeklas passasiers word in die ruim toegesluit, sodat hulle nie die eersteklaspassasiers vertrap nie.  Die meeste baklei hard om daar uit te kom, maar party besef dat dit te vergeefs is.  Die een ma vat haar kinders rustig bed toe en lees hulle ‘n slaaptyd storie.  Sy probeer hulle aan die slaap kry voordat hulle verdrink.
  • The Reader – ek is ‘n sucker vir ‘n goeie storie van die Tweede Wêreldoorlog.  Daar is ‘n paar flieks wat ek nog moet sien wat seker ook die lys sal kan haal.  Die hartseerste van The Reader is die vermorsing van een mens net omdat sy nie kan lees nie.  Sy is dalk afsydig, maar haar hart klop op die regte plek.  Te trots om te erken dat sy nie kan lees nie, land sy in die tronk vir iets wat sy nie gedoen het nie.  Daar leer sy met die hulp van ‘n ou vriend haarself lees en skryf.  Maar dan verkies sy die dood bo die wêreld.
  • Artificial Intelligence – ‘n Robot seuntjie met die emosies van ‘n mens.  Hy raak lief vir sy mense ma, maar haar regte seun vir wie hy moes instaan, kan hom nie verdra nie.  Na ‘n paar jaloerse uitbarstings moet die robot geneem word om vernietig te word.  Die ma kry dit nie oor haar hart nie en sy laai hom in ‘n bos af.  Waar hy histeries word omdat hy nie kan verstaan hoekom sy ma hom verlaat nie.
  • Million Dollar Baby – Die beste fliek wat ek die meeste haat.  Daar is twee tonele wat ek hartseer kan noem, maar dit maak my seker meer kwaad as hartseer.  Die vrou vorder fluks in bokskringe.  Voordat sy enige iets vir haarself koop, sien sy eers na haar familie wat in ‘n trailer park woon om.  Toe breek sy haar nek in ‘n bokskryt en word ‘n invalide.  Sy vra vir haar familie en haar afrigter laat hulle kom.  Maar hulle daag nooit by die hospitaal op nie – tot die dag van hulle vertrek.  Net sodat sy haar bates aan hulle kan oorteken sodat hulle nie kaalgat is wanneer sy sterf nie.  Ek persoonlik voel nogal baie lekker daaroor dat sy nie teken nie.  Die tweede toneel waarna ek wil verwys kom wanneer niemand haar wil help om dood te gaan nie.  Sy probeer dan selfmoord pleeg deur haar tong te byt.
  • My Sister’s Keeper – ‘n Jong meisie wat van kanker doodgaan.  Toe sy die eerste keer gediagnoseer is, het haar ouers ‘n kind laat skep om die ideale skenker vir haar te wees.  Skielik wil die skenker nie meer saamspeel en haar nier vir haar suster opoffer nie.  Julle kry die idee, ek hoef nie verder uit te brei nie
  • The Green Mile – ‘n Groot, reusagtige man, met die kleinste hartjie denkbaar.  Hy word skuldig bevind op die moord en verkragting van twee klein dogtertjies, maar hy is onskuldig.  Die hoofwag besef dit en wil hom help om uit die tronk te kom.  Die man sien egter nie meer kans om in ‘n wêreld te bly waar mense slegte goed aan mekaar doen nie.  Wanneer hy in die elektriese stoel sit, is hy nog steeds bang vir die donker en vra dat hulle nie sy gesig bedek nie.
Dit is my lysie.  Wat dink jy is die hartseerste flieks / tonele?

 

Advertisements

Aksies

Information

6 responses

5 11 2011
MaanKind

Iris het sommer ‘n klomp

5 11 2011
Olga

Weg is my ellle lange txt. Ek haaaaaaaaaaaaaaaat wp.

5 11 2011
Olga

Te veel om op te noem. Ek het drie van die genoemde flieks gesien. Al drie hartseer gevind, titanic minder. Ek dink Titanic was absoluut te veel geadverteer. Fiela se kind waar Benjamin van Fiela weggeskeur word. Waar hy die ou teertou Van Rooyen so smeek om hom na sy ma te laat gaan.

Sophie’s choice waar sy gedwing word om tussen haar kinders te kies. Waar die dogtertjie weggely word gaskamers toe.

Feitlik die hele Shindler’s list.

6 11 2011
Klip

Pik ek die anner dag n traantjie toe ek die fliek “Australia” sien , en nou die aand die fliek “Hachiko, a dogs story”. Gelukkig was ek alleen , en toe die fliek klaar is het ek by my honde in die donker gaan sit tot laat in die nag.

6 11 2011
Olga

Ek wil nie eers honde stories kyk nie. My oë sal hulleself deurentyd was. Netnou dink Bessie en Rusty dat ek grens. Ari gedori, Toughey sal mos nooit weer buite slaap nie.

7 11 2011
Selene Phoenix

Ek is ‘n sucker vir huil… my oë traan sommer vir niks nie! Ek hou nie daarvan om sulke flieks in die fliek te gaan kyk nie, wil nie so rooi oog daaruit stap nie.

My Ma het so lekker gehuil in Titanic dat my Pa skoon kwaad geword het want hoekom wil mens die fliek weer gaan sien as dit jou die 1ste keer dan so hartseer gemaak het? LOL

Jy het meeste van my tranetrekkers genoem… sal bietjie dink aan ander!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: