Geld Beheptheid?

4 09 2011

Geen mens kan ‘n ander verkwalik omdat hulle ook maar ‘n geldjie wil maak nie.  Die lewe is duur en by die dag kom daar iets nuuts by waarvoor jy nie begroot het nie, waarvoor jy geen baat gaan vind nie, maar nogtans voor moet betaal.  Mens moet maar die rieme dun sny en jou verstand gebruik om nog geld in te bring as jy kop bo water wil hou.

Dit is seker met die agtergrond dat ‘n mens deesdae vir absoluut alles moet betaal.  As ons wil eerlik wees is dit nie net die regering inhaligheid nie.  Dit kom al ‘n dekade of twee aan.  Onthou die tyd wat ‘n kind altyd ‘n stukkie droëwors by die slaghuis oom gekry het?  In my tyd was dit eerder die uitsondering as die reël.  Net om een voorbeeld te noem.  Daardie stukkies droëwors vreet blykbaar te veel aan die wins.  Tog wonder ek of ‘n paar rand se verlies hier en daar, jou nie op die einde van die dag meer in die sak kan bring nie.

Neem gastehuise as ‘n voorbeeld.  Fyn bestuur van inkomste en uitgawes is kritiek wanneer jy wil oorleef in ‘n wisselvalige mark.  Gaste huise poog graag om ‘n huis weg van die huis te wees.  Baie moedig die gaste aan om ‘n glassie wyn of ‘n bier aan die einde van die dag te drink ook – gewoonlik in die vorm van ‘n “Honesty Bar”.  Jy skryf op wat jy drink en vereffen dit saam met jou rekening.  Ek het nie elke dag drank in my lewe nodig nie, daarom gebruik ek die “gasvryheid” nooit nie.

Een van my gunsteling gastehuise doen nie moeite met so ‘n kroeg nie.  Hulle pak ‘n verskeidenheid verversings in die yskas in die kamer en jy kan dit gebruik soos jy lekkerkry.  Weereens gebruik ek dit nie, maar ek voel baie gemakliker om keer op keer van hulle dienste gebruik te maak.  Waar ek gewoonlik eerder elke keer op ‘n ander plek sou oorslaap.

Nou die dag neem ek my een band in, omdat dit deesdae vinnig papperig word.  Die kere wat ek so iets laat na-gaan het, het dit my R50 uit die sak gejaag.  Die dag, by ‘n plek waar ek gewoonlik nie kom nie, maak hulle dit verniet vir my reg.  Raai waar sal ek voortaan my bande gaan koop?

Die norm is deesdae dat dokters ‘n bybetaling vereis – selfs nog voordat jy die dokter sien.  Al daardie R20 – R100 maak seker ‘n vet verskil op die einde van die dag.  Tog voel ek dat die dokter wat dit nie vra nie, meer in my as pasient belangstel as in my beursie.  Asof die persoon ‘n dokter geword het om mense te help en nie ryk te word nie.

Mense is geregtig daarop om betaal te word vir goedere of dienste wat hulle verskaf het.  Ek aanvaar dit so.  Daar is egter meer as net aanvaarding vir die wat nie op betaling vir alles aandring nie.  Respek dalk? Miskien net innige waardering.

Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Wie sing “She work’s hard for her money”?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Fikile Mbalula.

Advertisements

Aksies

Information

12 responses

4 09 2011
MaanKind

Ons probeer die Live and let Live benadering, maar dan maak baie mense weer vreeslik misbruik daarvan. Juis in die gastehuisbedryf. Vandag weer so situasie gehad, van iemand wat net eenvoudig nie uitgaan nie, al is uitgaantyd duidelik bespreek.
Moenie dink omdat jy inherent ordentlik is, meeste mense is nie, hoor!

6 09 2011
Xena Phoenix

Noudat jy praat van uitgaantye . . . ek was nou die dag in ‘n gastehuis waar daar orals – en ek bedoel ORALS – waarskuwings was hoe jy met R100 / uur beboet sal word as jy oor uitgaantye bly. Ek kan die frustrasie van die eienaars verstaan, maar as betalende gas was dit nie lekker om daarteen vas te kyk nog voordat ek my kamer gesien het nie. Daar was twee van dieselfde waarskuwings in die kamer self gewees. Weereens, nie iets waaraan ek skuldig is nie, maar die gastehuis sien my nooit weer nie.

4 09 2011
Olga

Tweede.
Donna Summer.
Probeer R900 bybetaling., of dan profesionele fooi, by ‘n spesialis. Dis blerrie daylight robbery. Want die mediese fonds kry nie R900 afslag op jou konsultasie nie, dis bloot ‘n “unrefundable” deposito op sy of haar profesionele diens. Poppydock man. Dis donnerse inhaligheid.

6 09 2011
Xena Phoenix

R900??? Blikemmer!! Wat help ‘n mediese fonds dan?

4 09 2011
Olga

😳 poppyCock!!!

5 09 2011
J W W

Deesdae gaan ALLES net oor geld geld en geld, reputasie is lankal nie meer in die minste belangrik nie, veral in die motor herstelwerk besighede, dit wil my blyk niemand gee meer ‘n moer om as die werk skeef gedoen is nie – ek reken dis seker maar oordat daar SO baie “suckers” daarbuite is…..

6 09 2011
Xena Phoenix

Dit is waar. Jy moet vir absolute nonsens betaal en dit draai gewoonlik by duisende. In ruil daarvoor kry jy net hoofbrekings.

5 09 2011
leonvonmoltke

Ek word ook sommer vinnig lojaal as mens voel jy het met iemand met integriteit te doen.

6 09 2011
Xena Phoenix

Een van die min dinge wat nog nie te koop is nie: Integriteit

5 09 2011
demoerin

Ek probeer altyd so ver moontlik die kleiner winkels onderstewaar mens nog bietjie persoonlike diens kan kry. En as ek goeie diens kry en voel hulle het my nie vir ‘n ride probeer vat nie, sal ek weer en weer teruggaan. Omdat ek nou so bietjie verder uit die stad uitbly, ry ek soms baie kilometers na plekke toe wat ek al vir jare ondersteun, omdat ek een of ander tyd in die verlede goeie diens/produkte gekry het.

6 09 2011
Xena Phoenix

Goeie vriendelike diens laat ‘n mens baie dinge oorsien. Ek gaan nog aan ‘n hartaanval beswyk met Kannie. Vet verskil tussen Kannie en Willie.

Ek vat nou die dag my horlosie in vir ‘n nuwe battery. Die dame vra my toe of hulle sommer my syfertjies (wat los gekom het) kan vasplak. Ek sidder nog oor hoeveel dit gaan kos, maar stem in. Dit is mos nie asof ek dit self sal kan doen nie. Hulle het langer gevat met die syfertjies, maar my net vir die nuwe battery laat betaal. Hulle sal my weer sien.

6 09 2011
Twilight

Ons het ‘n enkelbed met ekstra matras wat kan uitskuif nodig. Daar is net een winkel op die dorp wat spesialiseer in beddens en hulle het presies wat ons nodig het. Ons gaan kyk toe in die stad om te sien of ons dit nie goedkoper kan kry nie. Dis wel in die stad beskikbaar teen ongeveer R100 minder as met die afslag wat die mense hier ons sou gee. Dirk gaan terug na die eienaar van die winkel hier en vra hom of hy bereid sou wees om ons nog R100 afslag te gee. Hy stem toe. Ons het onmiddelik die bed by hom gekoop. Want nie alleen het hy ons tegemoet gekom nie, maar ons het boonop die vervoeronkoste van die stad af hierheen bespaar. Die winkel sal ek ook graag weer in die toekoms ondersteun.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: