Pikkewyne

20 08 2011

Dit is nogal vermaaklik die vrees wat sommige mense vir nonne of dan susters – soos hulle verkies om genoem te word – het.  Dit is gewoonlik mense wat nog nooit ‘n suster met die hand gegroet het nie.  Eerder ‘n kleintyd vrees van die gewade wat dalk net te vreemd vir ‘n boereklong of -nooi was.  Eintlik ‘n baie onsinnige vrees waaroor ‘n mens nog kan lag. 

Daar is egter mense wat ‘n heilige vrees vir nonne het wat uit persoonlike ervaring spruit.  Daar was blykbaar ‘n tyd toe van hulle soos opregte hekse opgetree het.  Dit was veral ‘n verskyning in Katolieke skole.  Kinders was aan baie streng dissipline onderwerp en was genadeloos gestraf.  Die stories wat mens hoor laat ‘n mens sterk aan kinder mishandeling dink.  Dit is ook ‘n kant wat meer en meer in die media gebruik word om susters uit te beeld.

Ek vind die beeld van susters baie vreemd.  Ek kan natuurlik nie sê dat mense oor hulle ervaring met die susters jok nie.  Tog is dit ook moontlik dat die susters ‘n produk van die tye was.  Waar kinders nie gehoor was nie en ‘n oorveeg gegee was wanneer hulle wel gesien was.  ‘n Tyd waarna baie mense terug hunker. 

Dit is ook nie ‘n vergesogte idee nie.  Een van my vriendinne was in presies dieselfde Katoliekeskool as haar ma, met nogal heelwat van dieselfde susters nog aan beheer van sake.  Haar ma en tannie se ervarings in die skool klink soos rillers.  Daar was byvoorbeeld ‘n insident waar hulle voor die hele skool ‘n deftige loesing gekry het omdat hulle lekkers gesteel het.  Hulle was duidelik vertel dat die lekkers vir arm kinders bedoel is.  Hulle was wel behoeftig en het aangeneem die lekkers was vir hulle bedoel was.  Die susters het verskil.  My vriendin in teenstelling dink net in liefde terug na haar non-onderwysers. Die vertellinge klink vir haar ook onwerklik.  Dit spreek natuurlik boekdele dat haar ma haar na dieselfde skool gestuur het. 

My persoonlike ervaring met susters maak dat ek moeilik sluk aan die ervaringe.  Ek het al baie susters met die hand gegroet en kan nie sê dat ek al ooit vir een bang was nie.  Of dat ek dink dat een van hulle tot wreedheid instaat is nie.  Inteendeel, ek het die meeste van hulle vreeslik geniet. 

My ervaring van suster is dat hulle oor die algemeen sagmoedig, baie pret en so mal soos paashase is.  Selfs die waarvan ek nie noodwendig gehou het nie. 

Daar was byvoorbeeld Sr Mary wat besluit het dat ek nou oud genoeg is vir katkisasieklasse.  Ek en die rooitaal was destyds glad nie gemaklik met mekaar nie, maar sy het gesorg dat iemand vir my in Afrikaans klasse kon aanbied.  Sr Maura wat altyd die kinders gaan haal het vir katkisasie en ons geleer het om te sing.  Haar bakkie was altyd vol gewees, niemand het dus probeer weghardloop van die klasse nie.  Sr Bridie wat ons graag laat optredes doen het.  Ek het nie te veel van haar gehou nie omdat ek nie altyd van haar sienswyse gehou het nie.  Sr Bridie was egter nie skaam om haar naam met ‘n plank te slaan vir ‘n bietjie pret nie.

Daar was ook ‘n Sr Claire gewees, ‘n Ierse non soos die ander en wat blykbaar ‘n vuil humeur gehad het.  Nie dat ek dit ooit gesien het nie.  Sr Claire was ook ‘n verpleegster gewees en het die mobiele kliniek gedoen.  Ek wonder nogal wat het sy omtrent voorbehoeding gedoen het, dit was verseker deel van haar pligte gewees.  As ek nog kontak met haar gehad het, het ek haar beslis gevra.  Daar was ook ‘n Sr Moira met wie ek nie veel te doen gehad het nie. 

Ek het op universiteit ‘n Sr Jennifer ontmoet, die heel eerste Suid-Afrikaanse non wat ek ontmoet het.  Sy was ‘n teologie dosent in die Katolieke kweekskool.  Ek het al van die predikante gehoor dat sy nie stront van hulle gevat het nie, maar ek het nogal baie van haar gehou.  Ek het een Sondag saam met ‘n predikant by ‘n groep susters koffie gedrink.  Toe hy voorstel hulle oorreed my om by hulle geledere aan te sluit, byt die oudste een amper sy kop afgebyt.  Sy het my vertel ek moet eerder ‘n priester gaan word. 

Ek gaan nie deur almal draf wat ek ontmoet het nie, daar is net te veel.  Almal dames wat goed tuis sou gewees het in Sister Act of Sound of Music.  Mense wat ek met ‘n glimlag op my gesig en ‘n vonkel in die oog onthou en van wie ek baie moeilik iets slegs sal glo.  Ek hoop dat my kinders eendag die voorreg sal hê om susters soos hulle te ontmoet.

Hoe voel jy oor nonne?


Aksies

Information

5 responses

20 08 2011
MaanKind

Ek het nog nooit ooit een geken nie. So hulle is vir my misterieus, ek ken hulle uit flieks en boeke.

20 08 2011
Olga

Ek het nie ‘n probleem met nonne nie, maar dan weer, ek was ‘n kind van die mafia kerk. Elk geval, my sussies was in ‘n katolieke laerskool. Hulle het ook met liefde van hulle onnies gepraat. Een het my kleinsussie weke lank gejag. Altyd: “Little girl, little girl.” Dan het die little girl gemaak dat sy weg kom. Die “bat” het haar geintimideer. Toe sy my sus uiteindelik in ‘n klaskamer opgespoor het, het sy haar dadelik gevra “Are you A or L’s daughter?” Geen twyfel enigsins nie. My Ma was die A, haar sussie die L. En die bat? My ouma se niggie. Haar enigste in S. A.

20 08 2011
Bileam se Donkie

Na die Camino het ek baie meer sagmoedigheid vir die Katolieke kerk in my Protestantse hartjie! Ek is net dankbaar ons het nie die selibaat nie, ek sou nooit dit kon doen nie (of nie kon doen nie?)
Ek glo die meeste se bedoelings is heel opreg, om die Here en hulle naaste te dien, en nonne doen uitstekende werk, soos Moeder Theresa.
Vir my is dit egter baie lekkerder om die Here saam met my huweliksmaat te dien…
Soos ek dikwels sê- ek sal ook nie nonne en hulle paadjie in die lewe veroordeel nie, Ek verstaan dit nie, maar ek veroordeel ook glad nie…

21 08 2011
Son

Ons is nie Katolieke nie, maar ek en my sussie is albei gebore in die “Home” in Worcester, waar die verpleegsters ook nonne is. Snaaks, my ma se dokter was ‘n Jood. My sussie is 5 jaar na my gebore en al was ek net 5 jaar oud, onthou ek steeds hoe sag die nonne was met die babas, en ook toe hulle my sussie vir my gewys het. Ek was nog nooit bang vir nonne nie. Ek wou twee dinge word toe ek klein was, ‘n Indiaan en ‘n Non 😆 In die donker tye van my lewe het ek soms gewens ek het ‘n klooster gehad waar ek kon gaan wegkruip.

21 08 2011
Toortsie

Ons het grootgeword met respek vir nonne. Nooit met hul te doen gehad nie, maar in ons huir het niemand disrespekvol van hul gepraat nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: