Kar Vermaak

19 08 2011

Met die aantal ure wat ‘n mens in ‘n kar deurbring, moet ‘n mens jou soms met iets vermaak.  Ja, selfs al bestuur jy.  Daar gaan in elk geval nie veel bestuur aan as jy botstil staan in ‘n see van ander karre nie.

Dit is seker een van die redes hoekom dit goed gevind is om karre met radio’s toe te rus.  Dit is volgens my een van die aarde se groot lekkerstes – wanneer een van jou gatskop lekker liedjies toevallig speel wanneer jy in jou kar is.  Dit is gewoonlik ook wanneer jy baie hard gaan saamsing.  Sou dit wees dat jou eie stem jou irriteer, kan jy die radio harder stel dat jy jouself nie hoor nie.

So wag ek nou die dag by ‘n verkeerslig toe I love Rock ‘n Roll op die radio kom.  Daar is twee ander mense saam met my in die kar en ons sing te lustig saam.  Al was dit nou die Britney Cover en nie die Joan Jett oorspronklike nie.  Die volgende oomblik begin die ou agter in die kar hom simpel lag.  Ek oorweeg dit eers om hom te vertel om te loop, maar hy wys dat ons na die kar langsaan moet kyk.  Die meisie daarin het ook gejive op dieselfde lied.  Die New Seekers het mos gesing dat hulle die wêreld wil leer om te sing.  Hulle het nooit die krag van die regte liedjie op die regte oomblik in ‘n kar radio nie.

Ek hou nogal daarvan om rond te kyk as ek in die kar is.  Ek ry elke oggend verby 3 bewaarskole oppad werk toe en die kleintjies gee my nogal baie plesier.  Die vasberade manier hoe van die kleingoed hulle tassies vat om hulle dagtaak te gaan aanpak.  Soos nou die oggend toe ‘n dogtertjie van omtrent 2 my aandag vang.  Julle moet sien, haar koppie kom skaars bokant die tas uit, maar sy suiker voort.  Haar hele houding vertel dat sy verantwoordelik is om al die wêreld se probleme op te los EN dit gaan reg kry.  Dan het die mense nie meer hoop vir die jeug nie.

Die ander dag, weer by ‘n verkeerslig, steek daar iets in my oog.  Wragtig ‘n vroumens agter my wie se hare sletrooi gekleur is.  Natuurlik om by die sexy rooi tertjie (dit is ‘n goedkoop sportmodel) te pas.  Ek kon sommer ook sien dat haar sonbril spesiaal vir haar kar gekoop is.

Baie mense hou daarvan om speletjies te speel terwyl hulle ry.  Dit is nogal vet pret om te raai wie eerste die see gaan sien, honderde kilometers van die see af.  Toe ons klein was het my ma ons altyd met die een gevang.  Sy sou ons vertel het dat sy iets weet wat ons nie weet nie.  Dit is mos ‘n oortreding van die 20ste verbod en ons wou ook weet wat sy weet.  Wanneer sy Piet Retief in die verte gesien het (onregverdig – sy het mos voor gesit) het sy ons vertel dat sy geweet het dat sy Piet Retief voor ons sou sien.

Hoe vermaak jy jouself in die kar?

Breinvasbrand:  Wie het die rol van Miss Daisy gespeel in “Driving Miss Daisy”?

Breinlosbrand:  DMI was reg met SAMWU

Advertisements

Aksies

Information

7 responses

19 08 2011
leonvonmoltke

Ek luister lekker musiek!

19 08 2011
demoerin

Ek dink dit was Jessica Tandy?

19 08 2011
demoerin

Ek hou nogal van 702 luister, veral as die mense wat inbel en die gaste op mekaar gil…dis groot vermaak. Ander wissel ek maar af met musiek as die stroom depro nuus te veel raak.
Ons het nuwe speletjie in kar, ons het lys van 01 tot 99 gemaak en poog om al die nommers af te tik vanaf die nuwe Gauteng nommerplate.

19 08 2011
Olga

as daar in ons dorp 3 karry by dieselfde 4 rigting stop is, dan is dit haas n verkeersknoop. So ek ry my ry en kom huis toe. Ek speel net ‘dodge’ met die slaggate en berge vulsel om te keer dat my kar se engin uitval as ek in so n slaggat prop sou vasry.

19 08 2011
Gerda. J

in ons kontrei kan n mens dit nie waag om jou oe van die pad af te haal nie. nie eers as jy n passasier is nie. die slaggate bespring jou sommer. maar in die stad is ek e besig om te vergaap aan almal. somtyds sal ons voorspel waarheen almal gaan.

19 08 2011
MaanKind

Ek dink lekker as ek alleen ry. Met ander in die karr, gesels ek.

19 08 2011
Nadia

Ons is op die oomblik oor die kop geslaan met kar koop – blogstorie volg – so ek het nou lekker saam gelees. Ek het groot geword in die ou Suidwes en elke tweede jaar het ons die pad Kaap toe aangedurf om by die familie te gaan kuier. Om die tyd om te kry het ons altyd pad krieket gespeel. Elke motor wat verby kom is 1 lopie, ‘n Merc is 4 en ‘n lorrie 6. ‘n Paaltjie het geval as ‘n Volkswagen verby gery het. Ek dink egter as mens vandag tussen Vredendal en die Kaap hierdie speletjie moet speel op die N7 sal daar ‘n paar rekords spat met die aantal lorries op daai stukkie pad. Lekker naweek! 😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: