Platteland vs die stad

24 07 2011

Sodom en Gomorra is seker van die bekendste plekke op aarde.  Ten spyte daarvan dat hulle al in die heel eerste boek van die Bybel verwoes was oor die sedeloosheid wat daar geheers het.  Ons praat nou van Abraham se dae – lank voor slawerny in Egipte en die land van melk en heuning.  Daar is mense wat nie so lekker weet wat die hoofstad van die land of provinsie is waarin hulle woon nie.  Hulle weet wel alles van Sodom en Gomorra af.

Wel, alles is dalk wyd gestel.  Kom ons sê eerder dat hulle Sodom en Gomorra ken as hulle dit sien en weet dat dit broeiplek van alle booshede is.  Dit is nou in verwysing na enige plek wat moontlik ‘n stad genoem kan word.  Stad is dalk ‘n bietjie ambisieus, enige groter plek word summier ‘n Sodom in die oë van ‘n plattelander.

Die vergelyking is nogal eenvoudig.  Alles wat sleg, boos en ongesond is kom van die stad.  Die platteland is meer heilsaam, gesonder en heiliger.  Die stad is die hel en die oorsprong van alle kwaad.  Die platteland is eintlik die hemel en gestroop van alles wat sleg is.  Min mense sal daarmee stry, veral nie die stedelinge nie.

Dit is net ontbloot van enige waarheid.

In die platteland is die keuses maar beperk, veral waar dit vermaak vir die tieners aangaan.  In terme van buitemuurse aktiwiteite is daar selde meer te kies as rugby en netbal.  Daar kan miskien ‘n koor wees, en hoewel dit dalk ‘n baie goeie koor is, beteken dit nie juis veel vir kulturele verskeidenheid nie.  Die sokkie twee keer ‘n kwartaal en ‘n biblioteek wat miskien vol boeke is, is nie genoeg om ledigheid se nek om te draai nie.

Dus is die duiwel se oorkussing ook maar lekker snoesig en kan hy orals vir slagoffers soek.  En die teelaarde is vrugbaar. Dit is dus geen geheim dat plattelandse kinders kan rook, drink en rondslaap nie.  Hulle het beslis ook toegang tot dwelms.  Onheile wat in die stad verwag word, maar waarteen die platteland nie immuun is nie.

Dit is natuurlik nie net die plattelandse kinders wat versoekings moet weerstaan nie.  Drink en teel is twee baie gewilde sporte in die platteland.  Selfs in die platteland kan drank ‘n mens ‘n vark maak en die teel gedeelte word nie noodwendig gehou vir jou wettige eggenoot nie.  Almal in die platteland sit nie elke Sondagoggend in die kerk nie en plattelanders moet ook maar jaag om alles te doen wat gedoen moet word.

Hoekom word die stede dan nog steeds uitgesonder as Sodom en Gomorra?  Siende dat daar mense is wat in die stad dieselfde lewenstyl handaf as wat van plattelanders verwag word?  Hoekom klop plattelanders hulle nog steeds self op die skouers en beskou hulleself as mense met goeie waardes net omdat hulle van die platteland af kom?

Enige mens moet toegee dat daar wel ‘n mate van ‘n lewenstyl verskil tussen die plattelander en die stedeling is.  Stedelinge spandeer meer tyd in ‘n kar ‘n dag en is oor die algemeen meer verdraagsaam.

Is hulle of maak ek myself nou skuldig aan stedelike snobisme?

Breinvasbrand:  Van watter stad af het Deloris van Cartier gevlug om in die St. Katherine klooster te gaan skuil?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Leonardo da Vinci.


Aksies

Information

21 responses

24 07 2011
Son

Stedelinge is meer verdraagsaam?! Nee! Met die res van jou inskrywing stem ek heelhartig saam, maar beslis nie met daai sinnetjie nie 🙂

25 07 2011
Xena Phoenix

Natuurlik Tannie Gypsy. In die platteland sal hulle nog hier en daar probeer om iemand wat gay is, reg te foeter. In die stad kyk iemand skaars op. Om een voorbeeld te noem.

24 07 2011
toortsie

Al wat ek weet…. in die platteland loop die duiwel ook maar lekker rond!! Die verskil is net…. hier weet ALMAL dit as dit gebeur!
Ek het nou die dag gesê dat in die ou dae het die boere vroeg opgestaan, of so was dit bekend. Lyk my die rolle het HEELTEMAL omgeruil. Stedelinge moet deesdae so vroeg uit die vere om spitsverkeer, ens te trotseer.

25 07 2011
Xena Phoenix

😉 Kyk, dit was darem nie ek wat gesê het die plattelanders is bemoeisiek nie.

24 07 2011
Bileam se Donkie

Aai, het ek darem pak slae gekry op litnet oor daardie Sodom storie! En ek het dit nie eers geskryf nie!

In elk geval- uitstekende blog. Nee, die platteland het nie minder gevare as die stad nie. Die kinders hier kan ook enige dwelm op die mark baie vinnig in die hande kry. Sommige hou Punchbowl Parties- kry enige voorskrifmedisyne, gooi dit alles in ‘n bak, en elke uur moet jy een pil trek en drink. Russiese roelette!

Maar die wonderlikse van om nie in die stad te bly nie- daardie gebrek aan verkeer! Ek kan binne 5 minute in enige plek van ons dorp wees… Dit maak die verkeer net baie erg as ‘n mens wel die dag Sodom toe moet gaan om mense in die hospitale te besoek…

25 07 2011
Xena Phoenix

Gee so ‘n bietjie die link van daardie Sodom storie?

Dankie.

Ek sidder vir daardie punch bowel storie. In my dae het ons jellybabies in drank gegooi. Die verkeer in die stad is ‘n nagmerrie, helaas, mens kan ook nie alles kry nie. 🙂

26 07 2011
Bileam se Donkie

Die persoon wat my aangeval het se blog is, sonder dat ek dit gevra het, deur litnet gestop vir haatspraak, en daardeur is sy kommentare ook uitgewis. Maar dit was nogal ‘n epiese bekgeveg gewees, hoofsaaklik van sy kant af. Hy het my woes aangeval op die punt dat geen dominee iets oor die behandeling van vroue mag sê nie, omdat die Here vir Lot gered het, wat sy eie dogters vir ‘n skare gegooi het om verkrag te word daar in Sodom in Gen 19.

Dit het hier plaasgevind, maar daardie aanvalle is saam met die blog deur litnet geskrap. Ek het eenvoudig nie geantwoord nie…
http://blogs.litnet.co.za/Bileamsedonkie/pappie-is-die-baas-van-hierdie-huis

26 07 2011
Xena Phoenix

O ja!! Ek het dit gelees – op WP natuurlik. Ek kan nie glo mense het hulle tot haatspraak gewend daaroor nie.

24 07 2011
Olga

die platteland se kindeq het beslis minder om hulle mee besig te hou. Die ouers nk. Dan loer hul heeldag deur die gordyne om ander se sondes raak te sien en kyk in die proses die onheil in hul eie kringe mis.
Die stad se verlokkings neem dalk langer om die platteland te bereik, maar dit kom wel hier uit.

25 07 2011
Xena Phoenix

Die voordeel is seker dat die platteland se versoekings darem nooit in die stad uitkom nie. :mrgreen:

24 07 2011
Gerda. J

reno
plattelanders is baie bang as ons kinders moet stad toe trek om te werk of verder leer oor dat ons nie weet hoe gaan di stad se baie afleiding hulle beinvloed nie.reno
plattelanders is baie bang as ons kinders moet stad toe trek om te werk of verder leer oor dat ons nie weet hoe gaan di stad se baie afleiding hulle beinvloed nie.

25 07 2011
Xena Phoenix

Dit het seker ook te maak met die stad se beeld – of dit nou verdiend is of nie. Solank die regte waardes vasgelê is, is daar niks te vrees van die wye verskeidenheid van vermaak wat die stad bied nie.

25 07 2011
J W W

Wel, deesdae sal ek eerder verkies om op die platteland te woon, en ek meen iewers baie ver weg van baskawing, solank daar net ‘n bottle stoor naby is, ‘n slaghuis en petrol stasie is ek happy !!!

25 07 2011
Xena Phoenix

Toemaar, die meeste plattelandse dorpies het meer drankwinkels as kerke.

25 07 2011
Olga

net 1 ding jww. Opi platteland het ons nie slaggate in ons strate nie. Maar ons het darem nog pad om die slaggate.

25 07 2011
demoerin

Dit is hoekom ek op my eie stukkie “platteland” bly, naby genoeg aan die wrede stad 😆

25 07 2011
Xena Phoenix

Ver genoeg dat jou bure nie teen hulle sin alles hoor wat in jou huis aangaan nie, maar naby genoeg om gou te gaan fliek as die lus jou pak.

25 07 2011
Selene Phoenix

JWW
Toemaar, daar is gewoontlik meer drankwinkels as enige iets anders in ‘n plattelandse dorpie! Die een waar my oupa hulle ‘n plaas gehad het, het 5 gehad in een dorpie (uitsluitend die pups en restaurante) en net een petrol stasie!

Ek het die rus geniet op die plaas, maar was maar baie dankbaar om terug te wees by die huis! Daar is nie veel om te doen nie, swem in die dam en jaag bollie aan saam die plaas kinders. Ek mis dit nogals.

Elke plek het maar sy negatiewe punte… en die drug kingpins het nie grense nie, hulle verkoop aan wie en waar ookal!

25 07 2011
Xena Phoenix

Ek het nie regtig ‘n probleem met die stad of die platteland nie. In altwee lewe ek my eie lewe en verwag dat dit gerespekteer moet word.

25 07 2011
klippie

Nee wat, waar daar mense is is daar versoekings en sonde.
Miskien is stedelinge meer verdraagsaam omdat hulle hulle bloot nie steur aan hulle medemens nie.

25 07 2011
Xena Phoenix

Ek dink darem nie dit is heeltemal waar nie. Stedelinge meng dalk nie in nie, maar hulle help gewoonlik waar hulle kan.

Lewer kommentaar op Xena Phoenix Kanselleer antwoord