Waardige Genade

11 07 2011

Die dilemma van die pensioenarisse van Transnet breek ‘n mens se hart.  Mense wat hulle lewe – party tot 40 jaar – aan Transnet gewy het, word vandag soos honger plakkerskamp honde behandel.  Jare lank het hulle getrou tot die verpligte pensioenfonds bygedra, waarskynlik met die idee dat dit hulle in hulle oudag gaan dra.  Vandag is daar die wrede ontnugtering dat dit skaars ‘n druppel in die emmer is.  Met niemand wat regtig ‘n snars omgee nie.  Die administrateurs gee nie ‘n duiwel om nie, hulle hoef nie op die pensioen te oorleef nie.

Beeld wemel van briewe van die pensioenarisse wat hulle lot bekla.  Hulle kry blykbaar jaarliks ‘n 2 % verhoging in hulle pensioen, minder as die helfte van inflasie.  In perspektief geplaas, mense wat bakhand by die staat staan kry ‘n veel groter verhoging jaarliks.  Sonder dat hulle ‘n sent tot die fonds bygedra het.  Hulle is in ‘n beter posisie as mense wat dekades lank vir aftrede gespaar het.

As daar nie geld is nie, is daar nie geld nie.  As ek die storie regverstaan, het die pensioentrekkers wel toegang tot ‘n mediese fonds.  Daar kry hulle iets soos R600 vir doktersbesoeke ‘n jaar.  Dit is teen die huidige kostes minder as 3 ‘n jaar.  Hopeloos ontoereikend vir mense wat geneig is tot gesondheidsprobleme.  As dit op is, is dit op – hulle moet self sien kom klaar.  Self betaal met geld wat hulle nie het nie of sterf.  So eenvoudig soos dit.

Almal wil graag gesond en met waardigheid oud word.  Die wyse ding is om ekstra te spaar waar jy kan, maar dit bly nogtans skrikwekkend dat dit bloot net nie genoeg is nie.  Inflasie ken nie genade en sonder niemand uit nie.  Waar laat dit bejaardes?  Na jare se bydraes na onderskeie fondse, belasting en liefdadigheid?  Bloot net ‘n las tot die samelewing? Trotse mense wat hulle deel gedoen het om die samelewing te bou?

Is dit enigsins die moeite werd om tot ‘n pensioenfonds by te dra as die administrateurs daarmee kan maak en breek soos hulle lekker kry?  Was daar uit foute van die verlede geleer?  Ek kan maar net bid en hoop dat dit wel die geval is.

Vraag is seker wat staan ons te doen.  Bejaardes is deel van die samelewing en kan nie net weggegooi word nie.  Oud word is die verloop van die lewe.  Enige een kan eendag in dieselfde bootjie land.

Voordat ek ‘n massa polsvreet van stapel stuur, deel ek ‘n stukkie interessantheid met julle.  Die Amish glo glad nie in versekering of staatstoelaag nie.  Hulle sal byvoorbeeld self hulle ou mense versorg tot die dood.  Juis omdat hulle nie eis nie, is hulle vrygestel van belasting tot die fondse.

Breinvasbrand:  Wanneer is Sanlam gestig?

Breinlosbrand:  Rebekah Brooks


Aksies

Information

3 responses

11 07 2011
JWW

Junie 1918 was Sanlam gestig…. mens kan skaars glo die klomp verneukers is al so lank besig om mense te belieg en bedrieg !!!!

Kyk, ek voel baie jammer vir oumense, oudword is nie vir sissies nie, maar mens moet ook soms self verantwoordelikheid aanvaan vir jou eie heil !

11 07 2011
Olga

Wie voel ‘n vy vir die volgende? Solank elkeen sy eie beuel kan blaas en vir sy eie gat kan sorg ten koste van ‘n ander is die wêreld mos reg. Die spoorweg mense kry nog hulle lewe lank ‘n rowwe deal, ek het mos al geteef oor my vriendin se pa wat tot vandag toe ‘n moerse bydrae tot die mediese fonds maak. Toe hy ‘n jaar of wat terug geval en sy heup gebreek het, het Midmed R40 000 deposito geeis om hom te behandel. Die kortval sou dan binne 30 dae betaalbaar wees. Hy is uiteindelik in ‘n staatshospitaal geopereer. Ek wonder tog wat gaan van ons word. Homer het 22 jaar vir dieselfde maatskappy gewerk. Ewentwel, toe druk uit die staat hulle genoop het om van pensioen na provident oor te gaan, het ons 40% wat ons moes vat, belê by Sanlam. Hulle het in drie jaar die geld verloor dat daar omtrent 8% van die oorspronklike belegging oor was. Die man van Sanlam het nie by ons gestaan nie. Hy was te besig om vir sy eie gat te sorg.

12 07 2011
demoerin

Dis ‘n baie teer sakie by my die. Veral in die gevalle waar die ouer garde uitgebuit word met die skelms en hulle piramide skemas (en ek hoop daar die sharks brand almal in die hel). Die ding is verder, Sanlam en Old Mutual ens. is ook maar net maatskappye wat wins moet maak en so aan, so jy gaan die polis afgesmeer word waar die ou die meeste kommissie gaan maak en die meeste gaan bydra tot die maatskappy se wins. As mens nie self kan besluit nie is daar genoeg onafhanklike mense daarbuite wat jou gesonde advies sal gee, teen ‘n fooi ja, maar selfs R1,000 nou is beter as om oor 10 jaar met niks te sit.

Ek glo daar moet dedicated klinieke wees wat net na die oues van dae omsien. Plekke waar hulle vinnig en gemaklik versorg kan word. Ek glo ook verder dat die kinders van ons ou mense van hulle partytjie en vakansie budgets kan opoffer om te verseker dat hulle ouers wat nie ordeklike medies kan beskostig nie te help.

Ag jinne, ek kan aangaan en aangaan….

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: