Privaatheid se grense

10 07 2011

Die laaste uitgawe van News of the World het gekom en gegaan.  Daarmee is ‘n lyn getrek onder die koerant se 168 jarige bestaan.  ‘n Korporatiewe besluit na politieke druk en die adverteerders wat so te sê as een man hulle besigheid elders geneem het.   

Die koerant kry seker net wat hom toekom.  Hulle het geen grense of privaatheid gerespekteer in hulle soeke na ‘n sappige storie nie.  Hulle skroom nie om by selfoon gespreke in te luister en die privaat gespreke voorbladnuus te maak nie.  Dit is nie net by politici, koninglikes en vermaaklikheidsterre waar dit gebly het nie. 

News of the World het in 2002 Milly Dowler van Surrey se selfoonboodskappe onderskep.  Milly is deur haar skool opsigter ontvoer en vermoor.  Haar familie het vir haar boodskappe gelos wat die koerant in stories gebruik word.  Mille se stemposboodskappe het vol geraak en hulle het van die ouer boodskappe afgevee.  Daarmee saam het hulle belangrike getuienis uitgewis en haar familie valse hoop gegee. 

Niemand kan News of the World van ‘n gewete of selfs ordentlikheid beskuldig nie.  Die adverteerders het hulle misnoeë hard en duidelik te kenne gegee.  Die polisie het van die betrokke joernaliste gearresteer vir hulle bydraes.  Tog wonder mens of die sluiting regtig nodig is.  Die meerderheid van die mense wat nou werkloos is, is seker doodonskuldig.  Die koerant kon seker teen die elemente opgetree het en die redaksie gesuiwer het.  Op die einde van die dag was dit seker bloot nie die insetkostes werd nie. 

Vraag is eerder of News of the World die enigste koerant wat daaraan skuldig is?  Ek twyfel.  Ek twyfel ook dat dit net in Engeland gebeur.  Dit is seker al die norm by baie koerante en nuusagentskappe.  Aan die een kant veg ons – in Suid-Afrika – hand en tand vir mediavryheid.  Tog is daar ‘n lyn tussen sensasie en nuus.  En basiese ordentlikheid is seker ‘n goeie beginsel in enige beroep. 

Hoeveel privaatheid het ‘n mens vandag nog regtig?  Die afgelope dekade kan jy elke besonderheid in jou lewe met die wêreld en sy maatjie deel.  Dit verbaas my altyd hoeveel goed van Twitter en Faceboek haal die koerante.  Ons praat van gewone mense, beslis nie mense wat ‘n lewe uit die publiek maak.  Tog is hierdie forums vrywillig, jy kan besluit wat jy daar wil bekend maak. 

Selfone en epos is egter veronderstel om privaat te wees.  ‘n Gesprek tussen A en B is net vir hulle ore (of oë) bedoel en behoort nie op aanvraag beskikbaar te wees nie.  Veral nie sonder jou toestemming nie.  Met ‘n selfoon is jou kom en gaan nie eers privaat nie, omdat die selfoon redelik akuraat nagespoor kan word.  Big brother kan enige oomblik sy oog op jou draai, of jy nou daarvan hou of nie. 

As jou privaatheid dan vir jou belanrik is, wat bly dan oor?  Liggies in iemand se oor fluister en hoop daar is nie ekstra ore wat luister nie?  ‘n Brief skryf en met rooi lak verseël?  Of moet jy maar net eerder jou mond hou?

Wat dink julle?  Waar begin die mense se basiese reg tot privaatheid?

Breinvasbrand:  Wie was die laaste redakteur van die News of the World?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Clifford Brook Stevens.


Aksies

Information

5 responses

10 07 2011
MaanKind

Die internet het grense heeltemal laat vervaag. Mense blog en Facebook en Twitter hulle lewens oop, en is dan verras as daardie nuus elders uitlek/gebruik/misbruik word. Maar soos met alles gaan dit vir my oor intensie.

10 07 2011
Olga

eerste!
Colin myler?

10 07 2011
Olga

ekskuus maankind.. Tweede!

10 07 2011
alleman

Dis maar nog net die begin. Die korrupsie rondom News Corp se koerante strek baie verder as die NoW en privaatheid, en gaan ook oor omkoopgeld aan die polisie en Rupert Murdoch se mag oor politici van albei die groot partye. Dis soos ‘n kanker in die Britse politiek, maar hopelik sal die ding nou uitgesny kan word.

11 07 2011
Gerda. J

dis mos wat persvryheid meen? om oor alles en almal te berig?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: