Verdwyn tussen Neus en Ore

14 06 2011

Ek het nog altyd die internet as ‘n speelplek beskou.  Ek praat spesifiek nou van blogs.  Dit is ‘n feit soos ‘n perd dat mense enige baadjie daarmee kan aantrek, want die geskrewe woord bly baie geduldig.  Onlangs weer is ‘n man byvoorbeeld uitgevang wat gemaak het of hy ‘n Gay Meisie van een of ander Arabiese land was.  Hy het die wêreld op hol gehad met “haar lot”, maar dit was alles goed wat hy uit sy duim gesuig het.

Bloggers het ook ‘n manier om te kom en te gaan.  Ek wil my amper verstout om te sê dat wanneer eers een keer aan blog gewoond geraak het, is hulle altyd terug vir nog.  Al het hulle ‘n blog uitgewis, met ‘n groot seremonie bedank of net ‘n heeltemaal ander baadjie aangetrek.  Dit vat gewoonlik nie te lank om ‘n redelike bekende blogger in ‘n nuwe gewaad te identifiseer nie.  Soms is dit net ‘n bekende skryfstyl wat jy nie kan plaas nie.  Dit is dan soos ‘n stukkie vleis in jou tande.

Bloggers, penvriende en ander mense wat ‘n mens van uit die lug vang is egter ook mense.  Hulle word toegegooi onder werk of het ‘n persoonlike krisis en dan word hulle blog (en virtuele kennisse) op die agtergrond geskuif.  Hulle kry ‘n akute aanval van internetloosheid en dan moet die blog maar ook stof vergaar.  Sommige raak net moeg vir die storie, vang skrik of het nie meer ‘n blog as ‘n kruk nodig nie.  Vergete of verlate blogs is dus ook nie juis ‘n ongewone verskyning nie.

Maar omdat bloggers tog ook van vlees en bloed gemaak is, kan ‘n verlate blog (of ‘n penvriend wat nie meer daar is nie, mxit kontak wat net verdwyn het ens) ook beteken dat die eienaar iets oorgekom het.  Dit is gewoonlik skokkende nuus, al het jy nie eers noodwendig van die persoon gehou nie.  Wanneer ‘n blog skielik stil raak, wonder mens tog wat gebeur het.  Jy het ook nie altyd persoonlike, epos of facebook kontak nie.

Die vraag is of so ‘n blogger (of iets) ‘n verpligting teenoor hulle volgers het?  As jy om een of ander rede nie by jou blog uitkom nie, behoort jy te verduidelik?  As jy nie meer lus is nie, moet jy dan groet?  Dit beteken egter nie dat die mense wat jou volg of kontak noodwendig gaan weet as daar moeilikheid is nie.

Aan die ander kant, maak dit werklik saak as die volgers nie weet wat van jou geword het nie?  Blog het tog ‘n raaiselagtige element, juis omdat jy nie die skrywer persoonlik ken nie.

Hoe voel julle?  Raak julle bekommerd as iemand net skielik verdwyn?  Sal jy wil weet as die bloggers wat jy volg iets oorgekom het?

Breinvasbrand:  Wie het die term blog (van weblog af) geskep?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Dimitri Tsafendas

Advertisements

Aksies

Information

10 responses

14 06 2011
pienkpantoffels

Ja, ek raak bekommerd en wonder of hulle nog okay is. Veral bloggers wie ek gereeld lees.

14 06 2011
Olga

Ek sou ook graag wou weet. Al het hulle net gesê: “Jou strontstories verveel my nou.” Dis dieselfde met mxit mense. (My wyse ou moedertjie sou gesê het dat dit net goeie maniere is.)o Antw op breinvasbrand _________________________

15 06 2011
J W W

Ja nee kyk – die interwebs – ernstige besigheid die….

15 06 2011
Xena Phoenix

Sorry!! 😳

Vraag is op

15 06 2011
Sonlig

Dis seker maar menslik om te wonder as iemand skielik stil raak. Ek dink darem nie ‘n blogskrywer het ‘n verpligting of verantwoordelikheid teenoor die lesers maar ‘n one-liner’tjie soos “Ek het ‘n breek nodig” of “That’s all for now folks!” is darem beter as ‘n blog wat net skielik verdwyn en almal wonder wie’t wat gesê.

Partykeer is dit bloot net dat ons bietjie moet werk vir ‘n slag! Ek self het nodig om tans so ‘n bietjie van ‘n lae profiel te handhaaf – anders sal my kierangs dalk braai.

Ek het ook so bietjie van FB afgeklim en dis verbasend hoe die in-mandjie op my tafel leër geraak het. Ek moet sê… 😳 …dis nogal moeiliker as wat ek gedink het, maar buiten vir die feit dat ek so bietjie besig is op die oomblik, het ek dalk nodig om aan myself te bewys dat ek nie aan sosiale media (spesifiek FB) verslaaf is nie. Sal sien of ek by die 40-dae merk kan uitkom sonder om te loer…

15 06 2011
Selene Phoenix

In die een kant glo ek mens moet darem ‘n waarskuwing gee as jy nie meer gaan blog nie… ek her ‘n blog wat ek redelik volg, en as sy more net verdwyn sal ek vies wees.

Maar in die ander kant, jy hoef seker nie… dis jou keuse as jy wil voort gaan of nie! En natuurlik in die geval as jy sou dood gaan, sal mens seker nooit weet nie want baie min mense weet seker van jou blog?

O ja ant is: Peter Merholz

15 06 2011
Gerda. J

hoekom raak my kommentaar altyd weg? praat ek so baie strooi?

15 06 2011
MaanKind

Ek sou wou weet. Die mense van my blog-kring word deel van my werklikheid, of ek hulle ooit ontmoet, of nie.

15 06 2011
demoerin

Ek sal wonder wat het gebeur, so ek glo as daar iets met my gebeur sal ek wel ‘n nota gooi. Seker maar net goeie maniere, alhoewel jy seker geen verpligting het nie. Ek stuur nou nog af en toe (meer af as toe) ‘n e-pos aan ouens wat al ophou blog het, net om te hoor of hulle nog skop.

15 06 2011
Xena Phoenix

Ek gooi ook soms ‘n epos om te kyk of iemand nog lewe.

Die groot probleem is seker wanneer jy skielik op ‘n trippie Pluto toe is en nie self by jou blog kan uitkom om te sê wat van jou geword het nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: