
Ek het altyd verstaan dat die mens ‘n sensoriese wese is. Ons maak elke dag op ons 5 – goed 6 vir sommiges – sintuie staat om ons deur die lewe te help. Een van die belangrikste funksies van sintuie is tog seker om ons te help om te onderskei. Sou smaak enigsins waarde gehad het as vleis soos groente geproe het? Kinders word ook van kleins af geleer om tussen dinge te onderskei, iets wat hulle inderwaarheid hulle lewe lank gaan gebruik. Mens sou verwag dat daar niks fout daarmee gaan wees nie.
Duidelik is ek nog saam met Noag in die ark, waarskynlik nog foutiewelik besig om te verseker dat daar net een paar van elke dier op die ark is – siende dat verskille ongegrond en oorbodig is. Dit kom my voor dat mens deesdae veronderstel is om te kyk, maar nie te sien nie. Verskille en onderskeid is vinnig besig om Aanstoot Gee as die hoofsonde te onttroon.
Ek lees nou die dag van ‘n kleuterskool in Swede waar die onderwysers geen onderskeid tussen geslag maak nie. Onderskeid is dalk nie die regte woord nie. Die skool poog glo om kinders die unieke geleentheid te gee om te wees net mooi wat hulle wil wees. Daar word dus nie na seuns as seuns of meisies as meisies verwys nie. Daar word dus daarmee gehoop dat hulle as sulks nie stereotipiese geslagsrolle gaan aanneem nie.
Huh? Is dit dan nou verkeerd om ‘n seun te wees? Of dan nou ‘n meisie? Ek meen ‘n seun het ‘n penis en ‘n meisie ‘n vagina en as sulks is hulle verskillend. Punt. Goed, daar is die uitsonderings, maar wragtig, om die kinders hulle geslag te ontsê is seker ‘n bietjie wild. Ons lewe mos al lankal in ‘n tyd wat ‘n kind enige iets kan doen wat hy of sy wil. Ek sien regtig nie die doel daarvan om hulle almal geslaglose wesens te maak nie.
Toe ek nog ‘n kinders was, het ons al klaar gespeel waarmee ons wou. Ek het my eie gewere en karre gehad en my broers het hulle eie poppe gehad. Ek het dalk baie meer poppe as hulle gehad, maar dit beteken nie noodwendig dat ek meer pop gespeel het hulle nie. Ons was wel bewus daarvan dat ek ‘n dogtertjie is en hulle seuntjies. Die enigste verskil was dat hulle kon staan en piepie. Seker iets wat nou heeltemaal taboe is omdat ‘n vrou dit nie met selfrespek kan doen nie. Sy kan nogtans probeer as dit haar behaag.
Die verskil is ook op genetiese vlak. ‘n Man het ‘n XY chromosoom en ‘n vrou ‘n XX chromosoom. Dit alles lei tot verskillende hormone, eienskappe ens om van die vrou ‘n beter mens te maak. 😉 Kinders gaan dit een of ander tyd ervaar, waarna sal hulle dit kan toeskryf as daar nie eers op die mees basiese vlak onderskeid gemaak mag word nie?
Die punt is daar is ‘n verskil – ‘n sigbare verskil. Moet jou oë nou aangekla word as wat jy sien nie alles dieselfde is nie? Verskil is daar – aanvaar dit, beleef dit. Dit is pret en maak die lewe interessant. Bou ‘n brug of grou ‘n tonnel, maar kom oor dit. Al is jy hoe polities korrek, daar gaan ‘n verskil wees. Tussen man en vrou, swart en wit, lank en kort, wit en swart, tier en leeu.
Van die verskille gaan die een dalk meer geskik maak vir iets as die ander. Dit beteken nie dat die ander nie kan probeer en dalk suksesvol wees nie. Iewers moet daar tog ‘n punt van aanvaarding wees. Voordat iets hof toe gesleep word omdat ‘n vrou nie sperms kan produseer nie en ‘n man nie ‘n kind kan verwag nie.
Hoe voel julle?
Breinvasbrand: Watter jaar is Ken as ‘n mans vriend vir Barbie bekend gestel?
Breinlosbrand: Ek het nooit die vraag klaar gevra nie. Growing up Dane se antwoord is seker net so reg soos enige iemand anders s’n. Ek wou eintlik weet Watter rol het Leonardo DiCaprio in Growing Pains gespeel. Die antwoord daarvoor is Luke Brower.
Wie runnik saam?