Wat die oog nie sien nie

31 05 2011

Daar word gesê dat ‘n prentjie dieselfde effek as ‘n 100o woorde het.  Ek het vandag weer presies die waarheid van die gesegde ingesien.  Ek het teen laat middag weer ‘n oog oor die geveg van die dag gegooi.  Elke jan raap en sy maat het ‘n eiertjie daaroor gelê en ‘n paar ooggetuies het dit nodig gevind om hulle grafiese weergawe te gee.  Dit alles was hanteerbaar, maar toe sien ek die merrie met besering en al.  ‘n Foto en dit was die vinnigste dat ek ‘n webblad toegeklap het. 

Om een of ander rede kan ek iets wat beskryf word uitstaan.  Ek sal dit lees en dit in konteks plaas en aangaan.  ‘n Foto of beeldmateriaal is ‘n ander storie.  Dit kan dae of selfs weke lank by my spook.  Dalk maak my brein nie prentjies van alles wat ek lees of vertel word nie.  Ook nie heeltemaal waar nie, ek kan van die weirdste goed prentjies maak. 

Ek dink dit is dalk nader aan die waarheid dat ek sorg dat ek nie prentjies maak wanneer ek van ontstellende goed lees of hoor nie.  Natuurlik het ‘n mens nie ‘n keuse waar dit beeldmateriaal aangaan nie.  Die prentjie word by jou keel afgedruk en jy kan dit dan nie ondaan maak nie. 

Die ironie is dat ‘n prentjie my gewoonlik meer ontstig as die ware Jakob.  Ek onthou ‘n keer wat ons een hond geskiet was en veearts toe moes gaan.  Ek is ‘n selferkende pissie waar dit pyn en lyding aangaan, maar om een of ander rede is ek saam die ondersoek kamer in.  Ek  het op die ou einde die veearts gehelp toe al die dapperes en groot bekke verdwyn het.  Ek het gekyk hoe die wond skoon gemaak en verbind word. 

Op dieselfde manier het ek geen probleem om noodhulp te doen nie.  Ek gril my net dood vir ‘n laserasie op ‘n foto.  Ek kan kyk hoe ‘n naald in my arm gedruk word en dink ek sal iemand ‘n inspuiting kan gee.  Ek kan nie verklaar hoekom dit so grillerig op ‘n foto is nie.  Ek was al by ‘n slagpale waar ek gesien het hoe diere geslag word.  Alles in “real life” en dit het my nie juis iets gedoen nie.

Eienaardig, ek weet.  Dalk omdat die ware Jakob nie daar is om jou te skok nie.  Dit gebeur net, dit word nie met ‘n doel gedoen nie.  Dalk is daar dan net nie tyd vir issues nie.  Of dalk is ek net weird?

Hoe voel julle oor grafiese beskrywings, beeldmateriaal of vertellinge?  Wat laat jou maag draai?

Breinvasbrand:  Hoeveel oë het ‘n sprinkaan?

Breinlosbrand:  Olga was reg met uie, seldery en rissie.


Aksies

Information

5 responses

1 06 2011
J W W

Ek hou van prentjies, veral as daar mooie meisies in min klere paradeer ! 👿

1 06 2011
Olga

ek lees ook eerder grisly goed as om dit te sien. Die perd storie wys net hoe bloeddorstig die mens al geword het. Hul is teleurgestel omdat hul nie gesien het hoe die perd geskiet was nie. Ai, soms is die prys van menswees verskriklik hoog.

1 06 2011
Olga

5 oe.
Ek moet tog die volgende sprinkaan wat ek sien vang en ondersoek om die ander 3 oe te kry. Ek kan wragtig net die 2 saamgdstelde oe onthou.

1 06 2011
seegogga

Gelukkig sit ek hier ver en weet niks van perdestories af nie. Klink grusome.

1 06 2011
mnr.muller

Wel, volgens Howard Gardner se meervoudige intelligensie-model is sommige mense bloot meer ingestel op beelde, ander op musiek, of liggaamlike beweging, ens.

Ek dink wat ‘n prentjie doen (teenoor die werklikheid), is dit stimuleer jou verbeelding – en dít roep dan allerlei fisiese en emosionele herinneringe op van verskillende soorgelyke ervaringe, wat jou verbeelde werklikheid dan meer intens maak – ook omdat jy nie die adrenalien het wat inskop om jou gefokus te hou, soos in ‘n noodgeval nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: