‘n Geheim

31 05 2011

Daar is net een probleem met ‘n geheim.  “Vertroulike inligting – hoogs geheim” is dalk ‘n beter uitdrukking.  Die probleem is dat dit dikwels te goed is om vir jouself te hou.  Iemand moet weet hoe betroubaar, uitgesoek en sommer net briljant dit jy is.

Ten spyte daarvan is daar goed wat jy liefs saam met jou graf toe moet neem.  Jy wil nie die “net een persoon vertel” bal aan die rol sit nie en net jou stilswye kan dit verhoed.  So skryf jy maar jou geheim in ‘n boek neer en steek dit sorgvuldig in ‘n verlate grot weg.  Eendag gaan vertroulikheid nie meer saak maak nie, maar daar sal dalk iemand wees wat jou daad kan bewonder.

Ek het die moord van die millennium gepleeg en daarmee weggekom.  Dit voor dosyne professionele fotograwe wat alles in ‘n oogwink aan die media kon uitlap.  Almal dink dit was net ‘n tragiese ongeluk.  Daar word soms beweringe van moord gefluister, maar niemand het dit ooit ernstig opgeneem nie.  Dit is maar net ‘n strooihalm waaraan die desperates geklou het.

Wat ‘n goeie ding is . . . die waarheid is meer bisar as enige fiksie.

My storie begin in 1989.  Ek het nou nie juis ‘n kantoor waarmee gespog kan word nie.  Diskresie is my middelnaam en my kliente waardeer hulle privaatheid.  Solank daar kontant betaal word, respekteer ek dit.

Die nat, mistroostige dag was my klient ‘n dame met ‘n burka gewees.  Haar uitstekende Engels het my nie verstom nie, ek kry dit baie.  Die koudbloedigheid van die dames verbaas my lankal nie meer nie.  Ek verstaan ten volle.  Eeue lank moor mense vir vryheid.

Met ‘n koninglike grasie en selfversekerheid het die dame voor my kom sit.   Ek kon sien hier kom groot geld.

“Ek verstaan jy is die beste huurmoordenaar beskikbaar.” het sy saaklik gesê.

Ek is ook al lankal gewoond daaraan dat daar nie doekies omgedraai word as my dienste benodig word nie.  Waar daar in die wêreldmagte se raadsale rondom die punt gedans word, is daar nie tyd vir mooi praatjies wanneer jy my vir jou vuil werk soek nie.

“Ek soek ‘n 50% deposito voordat jy een woord verder sê.  Die res is betaalbaar wanneer die taak voltooi is.” Het ek bruusk geblaf.

“Nie wat ek in gedagte gehad het nie.” Het sy geantwoord.

“Jammer Dame, hier speel ons volgens my reëls.” Ek het sommer ook opgestaan om haar die deur te wys.  Die beste in die besigheid is nie juis verleë oor bones nie.

“Jy maak ‘n fout, Meneer.” Het sy skouers opgehaal.  “Dit is my manier of die hele MI 6 is binne sekondes hier.  Jy is natuurlik welkom om dit te toets, maar dan sal ek na die tweede beste moet gaan soek.  Dit sal ‘n jammerte wees.”

Ek is nie die soort wat my deur ‘n gemaskerde teef aan die neus laat lei nie, maar ek was ook al lank genoeg in my veld om te weet dat enige iets moontlik is.

“Moenie my dreig nie!” het ek geknor, maar self geweet dat ek uitoorlê is.  As ek saam speel kon ek dalk weer die wenhand kry iewers.

“Ek sal jou vooruitbetaal vir jou dienste, ek verstaan jy is ‘n man wat hou by wat jy voorgeskryf is.” Het sy ongestoord voorgegaan.

Ek het belangstellend vorentoe geleun en gevra wie die teiken is.

“Ek” het sy kalm geantwoord.

“Ekskuus?” Julle moet verstaan, ek is ‘n huurmoordenaar.  Nie iemand wat sterwendes uit hulle lyding verlos nie.

“Ek.  Natuurlik nie vandag nie, maar wel voordat dit te laat is.”

“U sal moet verduidelik.” Het ek gefrons.

“Marilyn Monroe sal altyd ‘n legende wees.  Een van die redes daarvoor is dat sy nooit ooit in die publieke oog oud geword het nie.  Sy is met haar jeugdige gelaatstrekke verewig.  Juis daaroor sal sy nooit vergeet word nie.  Ek wil dieselfde doen.”

Ek kon nie help om die sarkasme krane oop te draai nie.  “Dame, u weet dat Marilyn Monroe bekend was voor haar afsterwe?  ‘n Tragiese dood maak u nie summier ‘n legende nie.”

“Dit is my afdeling, nie joune nie.” Het sy my koel meegedeel.

“Hoekom pleeg u nie net selfmoord nie?”

“’n Selfmoord gaan van my ‘n tragiese figuur maak.  Ek wil as die Koningin van Harte verewig word en dit sal ek nie kan regkry as mense dink ek het ineengestort nie.”

“Wat verwag u van my?”

“Ek verwag dat u my betyds moet doodmaak.  Voordat Moeder Natuur haar tol eis, maar op so ‘n manier dat die wêreld dekades lank oor my sal treur.  Ek wil verewig onthou word en daarmee moet jy my help.”

Terwyl sy praat sit sy ‘n tas op die tafel neer, knip dit oop en swaai die inhoud na my toe.

“Ek neem aan dit sal genoeg wees.  Ons kan die bedrag jaar na jaar opstoot, tot die tyd ryp is.”

“Wanneer sal die tyd ryp wees?” van alles wat ek al in my lewe moes gedoen het, het die een die koek gevat. In enige ander beroep sou ek ‘n boek daaroor kon skryf.

“Jy sal weet.  Solank ek in die publiek se goeie boekies is en ‘n goeie lewe gehad het.”

“Ek is nie heldersiende nie, Mevrou.  Ek moet darem seker weet wanneer u gereed is en waar om u te kry.”

Die dame lag eers honend en haal dan die burka af.  “Almal weet wie ek is en elke koerant basium uit waar ek is.”

Een kyk na haar blonde hare, steeds netjies nadat die burka af is en haar baba blou oë en ek moet haar gelyk gee.  Ek bevind my in die teenwoordigheid van een van die bekendste, gewildste en geliefste mens op aarde.  Een wat geroem word oor haar liefdadigheids werk in teenstrydigheid met die koue vrou wat ek leer ken het.  Een wat inderdaad die hele MI 6 in ‘n oogwenk op my kan sit.

“U majesteit.” Stotter ek verleë

“Die eintlike term is ‘U hoogheid’, maar dit daargelaat.  Ek neem aan u aanvaar die aanbod?”  Nog voordat ek kan antwoord, was sy by die deur uit.

Ek het nooit gehoor hoe sy van my te wete gekom het nie.  Getrou aan haar woord is my voorskot jaar na jaar verhoog, sonder dat ek weer met ‘n besoek vereer is.  Om my werk na behore uit te voer, moes ek elke tydskrif, elke koerant en elke biografië van haar my eie maak.

Af en toe wanneer ek dit die minste verwag het ek ‘n oproep gekry, sommer net ‘n bevestiging van die ooreenkoms tussen ons.  Hoe leër die uurglas geloop het, hoe kouer het my voete geraak.  Mens bestudeer nie iemand so lank in soveel besonderheid sonder om iets te voel nie.  Die meeste van my teikens het afsku en woede ontlok.  Sy het niks gedoen wat ‘n teregstelling regverdig het nie.

Later het ek van desperaatheid gedreig om media toe te gaan.  Dit was met die minagting behandel wat dit verdien het.  Wie sou my ooit geglo het?  Tussen al die ander spekulasies sou dit gou vervaag het in die lig van ‘n nuwe skandaal.  Nie dat enige skandaal ooit haar onskuld kon besoedel nie.

Die eerste keer wat sy ontevrede was met my diens was kort na haar egskeiding.  Ek het gevoel dat daar nog soveel is wat sy kon doen, maar sy het gevrees dat haar status daarmee heen is.  Ek was bekommerd oor haar twee jong seuns.  Sy het my verseker dat sy ‘n gesonde grondslag gelê het en dat hulle alles het waarvoor ‘n kind kan smag.  Die oppassers het hulle meer gesien en gehelp as wat sy.

Daar was die keer wat sy by haar berader ‘n ineenstorting gehad het.  Sy was woedend vir my dat ek toegelaat het dat sy die vernedering moes smaak.  ‘n Paar dae later het die woede oorgewaai na ‘n besoek aan ‘n landmynkamp waar ‘n paar foto’s met slagoffers weer harte gewen het.  Dit het egter die patroon van die laaste paar jaar geword.  Sy het gevoel dat sy op die afdraende pad is, maar ek het geweet sy sou weer hoër kon uitstyg.

In 1997 het ek weer ‘n oproep ontvang.  Soos altyd was dit nie nodig dat sy haarself moes identifiseer nie.

“Jy moet nou ‘n plan maak, die kontrak sal nie weer verleng word nie” het sy moeg gesê.

“Wat van jou kinders” het ek weer die holruggeryde, maar tog effektiewe verskoning probeer gebruik.

“Ek is besig om vir hulle ‘n verleentheid te word.  Ek wil eerder weg wees voordat hulle hulleself vir my kan skaam.”

“Ek dink nog steeds dit is drasties – “

“As jy dit nie wil doen nie, sal ek iemand anders kry”.  Ek kon hoor dat sy haar vererg het en het in gegee.  Ek was al jare terug betaal gewees en ek kon dit net so wel afhandel.

“Wanneer?”

“Net wanneer jy wil, maar verkieslik wanneer ek in die buiteland is.”

Dit was die laaste keer wat ek met haar gepraat het.

As ‘n laaste guns aan haar, sou ek die blaam vierkantig op die skouers van die papparazzi plaas.  Ek sou my een man moes opoffer.  Oor die pierewaaier saam met haar was ek minder bekommerd.  Sover ek kon vasstel het hy min gedoen buiten suurstof steel.

Ek het geweet die aasvoëls sou op hulle toesak die oomblik wat hulle die restaurant verlaat.  Natuurlik het my man alles in die stryd gewerp om hulle af te skuld, maar dit was soos verwag te vergeefs.  In die tonnel van die Pont de l’Alma pad in Parys het hy teen ‘n hoë spoed teen die versperring vasgejaag.  Niks meer was nodig nie.

In die vroeë oggend ure van Sondag, 31 Augustus 1997 het ek my eienaardigste opdrag afgehandel.  Die Koningin van Harte was weer aan die toppunt van die gewildheidsleer.  Die wêreld was in rou gedompel en sy is verewig in almal se harte vasgemessel.

Die hartseer het vergaan, maar die gedagtenis aan haar het nie.  Elke mylpaal wat haar seuns bereik, onthou die aardlinge haar weer.  Sonder skande en pragtig soos wat sy nou altyd sal wees.

(Die storie is heeltemaal fiktief, hoewel daar ooreenkomste met die waarheid is.)

Advertisements

Aksies

Information

4 responses

31 05 2011
Gerda. J

goeie storie. hoekom nie jou ‘man’ lewendig gehou nie?

1 06 2011
Adoonsie

Cool

Baie goed geskryf. Ek kon onmiddelik daai besoek aan die landmynkamp fotos in my geheue oproep. Sy was darem ‘n mooi vrou gewees.

Wonder of die nuwe prinses in haar voetspore sal kan volg ?

1 06 2011
Sonlig

OK…jy mag maar fiksie skryf!

1 06 2011
seegogga

Ek dink ook so! jy MAG maar skryf!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: