‘n Mens kan nog iets eet sonder vleis, jy kan kos eet sonder groente en daar is baie disse wat jy sonder Mrs Balls kan voorstel. Tog, die oomblik wat potte uitgehaal word, word daar na uie gesoek. Amper enige iets wat souterig is, word gewoonlik met uie vergesel. Daar is wel die uitsonderings van allergië en fiemies, maar waar ek vandaan kom is kos nie kos sonder uie nie.
In beginsel het ek niks teen uie nie. Ek eet dit sonder ‘n om te kla of dit nou sigbaar, grof, fyn, rou of gaar is. Wat my wel grief is om dit te verwerk. Die skil van een ui kan nog gaan. Die opkerf of rasper daarvan is ‘n ander storie. Ek is in snot en trane as ek dit net sorteer. Nie ‘n aangename prentjie waar ‘n mens met kos werk nie.
Daar is omtrent vir elke dis wat uie benodig ‘n raad hoe om traan oë te vermy. Blybaar brand dit nie jou oë as jy dit onder water skil nie. Baie mense sweer dood dat as jy brille dra, die ui jou nie kan looi nie. ‘n Ui wat in die vrieskas rus, wek glo nie trane nie. ‘n Stuk brood in jou mond, sorg dat die waterwerke afbly. Die nuutste een is glo dat jou oë nie kan brand as jy kougom kou nie.
Ek het lank gelede al moed opgegee met al die wenke. In ‘n era van genetiese manipulasie, hoekom het niemand al ‘n ui so bewerk dat dit nie meer tande het nie? Dit is teen my menseregte om so te ly as gevolg van ‘n plant. Hoekom brand dit nie ‘n mens se oë as jy dit rou op ‘n broodjie of in ‘n slaai kry nie?
Hoe beskerm jy jouself as jy met uie werk? Het uie jou al ooit in ‘n verleentheid gebring? Wat is jou gunsteling uie verwerking?
Breinvasbrand: Wat word saam met uie as ‘n drie eenheid gesien in Cajun Kookkuns?
Breinlosbrand: Selene was reg dat dit dieselfde skrywer gehad het. Olga was reg met Stella Blakemore.
Wie runnik saam?