Suid-Afrika het, soos die meeste ander lande, ‘n wet dat elke mens van ‘n sekere ouderdom op een of ander manier skool moet gaan. Dit hou seker in ‘n mate die bloedjies van die straat af en ontwikkel die brein – wel, ten minste soort van. Skool is nie die enigste plek waar ‘n kind kan kennis op doen nie. Dit is ook nie die enigste plek om die brein te ontwikkel nie. Ek sal selfs so ver gaan as om te sê dat skool seker maar die minste is vir die ontwikkeling van ‘n kind.
Dit ter syde, skole is nou ook nie juis bruikbaar met hulle silabus nie. Wanneer laas moes jy ‘n trig probleem oplos? Het jy al ooit in jou lewe buite skoolverband kaartwerk gedoen? ‘n Woord in lettergrepe verdeel of ‘n rympatroon uitgewerk? Genugtig, wanneer laas het jy omgegee of iets ‘n selfstandige naamword of selfs ‘n werk word is? Jou algemene kennis het waarskynlik ‘n stoot in die regte rigting gekry, maar hoe dikwels neem ‘n mens aan Flinkdink deel?
Goed, ek soek darem nie ‘n samelewing met nog meer kluite as wat daar op die oomblik is nie. Die goed lyk dalk onbruikbaar, maar daar was tog ‘n doel daaragter. Al was dit net om ons almal “Jacks of all Trades” te maak, tot ons die dag besluit het waarvan ons meesters wil wees. Die basiese fondasie het ons beslis nie slegter af gelaat nie.
Ek wonder tog of skole dalk nie ‘n paar meer bruikbare goed kan inwerk nie. Om mee te begin, ons is Suid-Afrikaners en selfs die suidpunt van Afrika raak onmenslik warm. Dit is net natuurlik om in water af te koel, maar kyk net hoeveel mense verdrink elke jaar. Behoort elke kind nie sommer in Gr 1 te leer swem nie?
Hoekom word almal nie in Gr 11 geleer hoe om te bestuur nie? As deel van die leerplan, ek meen, mens verwag deesdae dat almal ‘n lisensie moet hê. Op die manier kan daar verseker word dat hulle die regte manier geleer word. Maak dit sommer deel van die vereisde om st 9 te slaag (en op die manier ‘n lisensie te verwerf).
Ek dink daar moet dalk ‘n basiese kursus van regte (bedoelende die wet) ingedruk word. Iets soos arbeidsreg is van toepassing op almal, maar die meeste mense se kennis is gegrond op wat hulle iewers gehoor het. Wie weet hoe jy in die hof moet optree? Het julle geweet dat die polisie nie ‘n lid van die publiek hulp mag weier nie? As jy byvoorbeeld nie ‘n slaapplek vir die aand het nie, kan jy by die polisie aanklop en hulle moet jou help. Daar is altyd ‘n moontlikheid dat ‘n mens vir ‘n noodgeval iewers heen moet jaag. Jy kan (moet?) egter polisie begeleiding daarvoor kry, wat dit nie net makliker maak nie, maar ook veiliger.
Skole behoort ook sommer kinders te leer hoe om persoonlike belasting te doen. Dit is oor die algemeen baie eenvoudig en dit is ‘n mors om altyd iemand aan te stel om dit te doen.
Net ‘n paar gedagtes. Ek weet ouers kan baie van die goed self vir kinders leer, maar hulle kan ook self die kinders Afrikaans, Engels en Geskiedenis leer. Lewens Orientering kan soveel verder strek as veilige seks. Iemand moet net gaan dink wat nog benodig word.
Wat behoort nog by die leerplan ingesluit te word?
Breinlosbrand: Wat het die Maasdorp en Keurboslaan reekse in gemeen?
Breinlosbrand: Olga was reg met Live Strong.
Wie runnik saam?