Iemand het my eendag vertel dat hulle masjiene hulle nederig hou. Die masjien het male sonder tal net doodeenvoudig geweier om te werk soos moet dit moes. Die man kon dan doen wat hy wou, op sy kop staan en Jan Pierrewiet deur sy anus fluit, dit sou nie gewerk het nie. Hulle was dan genoodsaak om op hulle knieë voor die masjien te staan. Soms het dit gewerk en soms nie. Maar een ding was gewis: daardie masjiene het hulle nederig gehou.
Ek moet dalk noem dat (as ek reg kan onthou) die gebeure in die 80’s afgespeel het. ‘n Tyd waarin Suid-Afrika nie die nuutste speelgoed kan koop het soos dit hulle gepas het nie. Nie dat die ooms van die tyd hulle laat vermaak nie, hulle het net doodeenvoudig self die nuutste wonder gebou. Wat gewoonlik heel goed gewerk het, maar daar was ook soms gesukkel.
Sanksies is al lankal iets van die verlede. As ons wil eerlik wees, moet ons erken dat ons met die jare saam arrogant geword het. Niks is buite ons bereik nie en ons dink nie daaraan dat ons feilbaar is nie. Met die regte hulpbronne, die nodige kennis en ‘n bietjie geluk kan enige iets bereik word. Hoekom dan nie? Enige inligting waarna jy tog kan smag is beskikbaar op enige tyd en enige plek. Al wat jy hoef te doen is om dit reg aan te wend.
Waaroor moet ‘n mens dan nou ook nederig wees? Dit is dalk die fout wat ons maak, een wat een of ander duistere mag gereeld ons neuse deurvryf. Ons word nog gereeld aan ons eie onmag herinner – in my geval is dit wanneer die internet nie so maklik beskikbaar is nie. Waar die ooms in die verlede nog hier en daar aan iets kon karring of skop, sit ons met ons hande in ons hare. As dit nie werk nie, werk dit nie. Jy kan niks meer doen as om seker te maak dat alles wat moes in, in is nie.
Miskien is die internet daar om ons geduld te leer. Geen vinnige oplossing nie, niemand wie se fortuin jy kan vertel nie, niks wat geskop kan word nie. Jy moet maar net weer probeer – en weer en weer en weer. Tot jy miskien jou doelwit bereik. Die les sluit dalk volharding in. Dit is baie makliker om jou doelwit te verander as om deur te druk met wat jy oorspronklik beplan het.
Dus, Groot Internet Vermaker, ek kry die boodskap. Kan ek nou betroubare, vinnige, altyd werkende internet kry?
Hoe hou julle die Groot Internet Vermaker gelukkig? Kan ‘n mens dit iets voer, iets offer of ‘n produk aanskaf wat jou nooit in die steek laat nie? Is dit dalk net n verlore geveg en moet ek net leer om op my tande te byt?
Breinvasbrand: Wat is die bestandele van “Humble Pie” (letterlik)?
Breinlosbrand: Gerda was reg met Noord.
Wie runnik saam?