Min Dae

18 05 2011

Vroeër die jaar het ons gehoor dat 21 Mei blykbaar die weerkoms gaan wees.  Dit nou volgens die drogbeelde van ene Harold Camping en blykbaar is daar baie mense wat hom glo.  Ek het selfs nou die dag verby ‘n reklame bord gery waar dit ook verkondig word.  Daardie goed is soos ek verstaan nie goedkoop nie, maar tog was iemand bereid om om die kostes aan te gaan.  Daar is ook ‘n teorie dat die aarde gaan vergaan op 21 Desember 2012. 

Eerlik?  Die laaste ding waaroor ek my sal bekommer.  Ek sien baie uit na payday op 25 Mei en ek maak al planne vir 2015.  Ek sien geen rede hoekom ek nie 133 jaar oud kan word nie.  Daarmee bedoel ek 133 jaar oud op moeder aarde sonder dat ek my ooit buite haar atmosfeer sal begewe nie.  Ons is wel ‘n einde van die wêreld belowe, maar ek is redelik oortuig dat dit nie ‘n voorspelbare datum sal wees nie. 

Ek het dalk ‘n onregverdige voordeel.  Ek kan ‘n week lank my tong uitsteek as ek op 22 Mei 2011 en 22 Desember nog hier is.  Die mense wat daarin onwrinkbaar glo het nie daardie luukse nie.  Sou hulle wel gelyk hê, wel dan het hulle nog steeds hulle gatte saam met ons gesien.  Hulle sal nie sout in die “ongelowiges” se wonde kan vryf nie. 

Ek het eendag iewers gelees dat NASA nie ‘n waarskuwing sal uitreik as hulle besef die aarde gaan vergaan nie.  Daar was blykbaar in die verlede al ‘n paar vloekskote gewees.  Die pandemonium wat gaan uitbreek, die verwarring en die totale wanhoop gaan glo meer skade as goed doen.  Ek kan nogal die punt van die argument insien.  As jy byvoorbeeld hoor dat die aarde binne ‘n paar uur ‘n geskiedenisles wees, wat kan jy nou eintlik doen?  Dalk bid asof jou lewe daarvan afhang.  Punt is dat ons dalk dink dat ons magtig is, maar eintlik is die mens so weerloos en so uitgelewer aan genade . . .

Vraag is eerder wat sal jy doen as jy weet dat jy nie die verantwoordelikheid van jou dade hoef te dra nie?  Jy kan ‘n Ferrari koop en afskryf sonder dat jy ‘n sent hoef te betaal?  Jy kan mense wat jy nie kan uitstaan nie vertel wat jy van hulle dink.  Jy kan die tyd gebruik om ‘n laaste paar drome te verwesenlik. 

Of gebruik ‘n mens die tyd om reg te maak wat jy verbrou het?  Jou verskonings te vra waar dit nog uitstaande is en om te vergewe wat jy nog nie oor jou hart kon kry nie?  Maak dit enigsins sin as daar oor ure of minute dalk niks sal wees nie?  Spandeer ‘n mens die laaste paar oomblikke net met die wat vir jou saak maak?  Om saam die ewigheid in te gaan?

Wat sal jy doen?  Sal jy verkies om te weet wanneer die aarde vergaan?

Breinvasbrand:  Wie was die regisseur van 2012?

Breinslosbrand:  Westerlike provinsie met 63.