Prys van waarin jy glo

15 05 2011

So dikwels word mense aangemoedig om op te staan waarin hulle glo.  Dit klink so edelmoedig, dapper,  die regte ding om te doen.  Dit kom egter met termes en voorwaardes.  Dit kan ook met ‘n prys kom, een wat nie net deur jou vereffen moet word nie.

Ek het ook uiteindelik so ver gekom om “Fees van die Ongenooides” te lees. Die storie van Wynand van Wyk het my nogal aangegryp.  Wynand was een van die wat voor die oorlog gemaan het dat die Boere versigtig moet wees waarvoor hulle wens.  Wynand was ‘n man vir vrede en het nie gedink oorlog sal ‘n oplossing wees nie. 

Ten spyte daarvan het hy toe die oorlog aangekondig is, gedoen wat sy volk, familie en vrou van hom verwag het.  Hy het teen sy beterwete aangesluit en gaan baklei.  Met bedenkinge wat hy af en toe geopper het.  Hy was uitgeskel van ‘n lafaard tot ‘n verraaier en het dus maar voort baklei.  Tot die vroue en kinders in kampe opgesluit is.  Wynand het hom toe vir vrede beywer.  Hy het nie meer saam baklei nie, maar het ook nie teen sy volk gedraai nie. 

Dit het hom die verwyte en agterdog van sy mense op die hals gehaal.  Sy eie broer het hom met ‘n geweer gedreig om verder te baklei.  Sy vrou het hom nooit vir die “verraad” vergewe nie, sy het selfs die dood van hulle enigste kind aan sy voete gelê.  Nogal ironies, hy het juis vir vrede gepleit om die sterftes in die kampe te probeer verhoed.  Tot die einde van sy lewe het hy probeer versoen, maar sy wou van niks weet nie.  Selfs vir jare na sy dood het sy hom verag vir wat hy gedoen het – iets waarin hy geglo het. 

Die probleem om vir iets op te staan waarin jy glo, is dat nie almal saam met jou glo nie.  Niemand sien dalk jou punt in of keur dit goed nie.  Aan die een kant beteken dit nie dat die meerderheid altyd reg is nie maar terselfde tyd kan ‘n mens ook nie aanvaar dat die minderheid of enkeling altyd reg is nie. Reg en verkeerd vereffen nie altyd die kostes van ‘n besluit nie.

Ek het eendag in ‘n onderhoud van Beyers Naude gesien het, waarin hy beweer het dat hy net oor een ding spyt is.  Sy gesin het almal gely onder sy besluite wat hy as gesinshoof gemaak het.  Die ding waarvoor hy opgestaan het, sonder dat hy hulle ooit gevra het of dit iets is waarvoor hulle wou opstaan.  Hulle het bloot nie ‘n keuse gehad het nie.

Daar word gesê dat “Evil prevails where good men do nothing”.  Was al die SS soldate en Nazi wagte voor die voet sleg gewees?  Het nie een agtergekom dat hulle nou eintlik booshede verrig nie?  Al het hulle net opdragte uitgevoer, kon hulle seker vir hulle self besluit wat reg en verkeerd is.  Sou ‘n luukse van ‘n keuse vir hulle beskore gewees het?  Wat sou met hulle geliefdes gebeur het as hulle vir Hitler en Himmler ‘n vinger gegooi het?  Daar is immers ook ‘n gesegde van “Charity begins at home”.

Dit kan nogal ‘n tameletjie raak.  Moet jy jou gewete verkrag omdat jy jou familie wil beskerm of hulle verwagtinge nie wil teleurstel nie?  Moet jy opstaan vir wat jy in glo ten spyte van die prys?  Of moet jy ‘n balansstaat opstel van jy (julle) kan wen en verloor met jou durf, moet en/of domastrantheid. 

Wat weeg swaarder?  Jou geliefdes of jou gewete?

Breinvasbrand:  Oor watter jare het die tweede Vryheidsoorlog gestrek?

Breinlosbrand:  Seegogga was reg met Enkel, Dubbel, Koningin en Koning.  Olga was reg dat ons van ‘n 3/4 bed vergeet het, wat tussen Enkel en Dubbel hoort.


Aksies

Information

13 responses

15 05 2011
Olga

Eerste!!!!
1899 tot 1902, dink ek.

15 05 2011
Olga

My voete is al lam gestaan vir dit waarin ek glo. Enkelinge voer altyd ‘n verlore stryd. Die res, vir jy tog maar ook opstaan, is gewoonlik te slapgat om hulle bekke te rep. Kyk maar die skole stelsel vandag. Ek sê julle, dis twak. Nou trek ek maar ook my skouers op en sê: “Dankie tog, my kinders is klaar met skool.”

16 05 2011
Xena Phoenix

Behalwe die enkelinge wat kan toor. Neem bv Oprah. Wanneer sy besluit om op ‘n seepkis te klim, spring die hele wêreld kort voor lank saam met haar daar op.

15 05 2011
Twilight

As jy die antwoord op hierdie ene kry, laat my ook weet…

16 05 2011
Xena Phoenix

😉

Hoe vervelig sou die aarde nie gewees het as ‘n mens al die antwoorde geken het nie.

16 05 2011
J W W

Gewete, het nie meer so iets nie – ek het dit jae terug laat uithaal.

16 05 2011
Olga

Waar het jy dit laat doen?

16 05 2011
Xena Phoenix

Het hulle dit nie vir jou uitgehaal toe jy by die krip begin werk het nie. 😉

16 05 2011
seegogga

Jy skryf iets waaroor ek al jare lank wonder. Wat as al daardie Duitsers wat dalk nie saamgestem het nie, opgestaan het en geweier het? Dit laat my so dink aan Raka en Koki. Ek dink daar is baie Koki’s onder ons. Maar Koki was nie getroud nie( sover die gedig vertel). Hoeveel van ons is “between the devil and the deep blue sea?”

16 05 2011
Xena Phoenix

Ek het al gehoor dat dit iets is waaroor die deelnemers baie skaam is. Ongelukkig kan ‘n mens nie iets aan gedane sake doen nie.

Dit verstom my regtig dat daar vandag nog mense tot verantwoording geroep word met wat in die tweede wêreld oorlog gebeur het.

16 05 2011
Celia Neveling

Ek het my hele lewe lank opgestaan vir dit waarin ek glo, nooit aan my familie en gesin en vriende gedink nie en hulle het baie keer swaar gekry omdat ek besig was om te doen wat niemand anders wou nie. Totdat ek betrokke geraak het in ‘n arbeidsaak. Alhoewel ek dit gewen het en finansieël goed gedoen het was dit nie die wroeging werd nie, maar veral was dit nie my gesin en familie en vriende se hartseer werd nie. So, vandag doen ek so min as moontlik om ander te ontstel en meestal bly ek stil en gaan aan met my eie goed.

Terloops, hierdie is ‘n uitstekende inskrywing, wel gedaan.

16 05 2011
Xena Phoenix

Dankie, bly jy het dit geniet.

In my volgende lewe wil ek ‘n Griekse Filosoof wees.

Dit is baie jammer dat ‘n mens nie net sonder gevolge kan doen wat jy glo reg is nie. Veral aangesien jou besluite nie net jouself raak nie.

17 05 2011
Seekat

Na die tweede wereld oorlog was daar vir mense gevrae wat naby van die konsentrasie kampe gebly het en baie het gese dat hulle het nie geweet wat daar aangegaan het nie. Vandag gebeur die selfde in Suid Afrika en baie sal vir jou se ons weet nie daarvan nie al is dit onder hulle neuse. Wat is die antwoord ek weet nie. Meestal gebeur daar eers iets as jy niks meer het om te verloor nie dan sal jy opstaan vir wat jy in glo want die kosteberekening is wat het ek om te verloor?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: