Die Liewe Bed

12 05 2011

Ek haat huiswerk.  Dit is nie net ‘n ondankbare werk nie, maar dit lyk amper asof dit nooit einde kry nie.  Werk wat nou net afgehandel is, moet binne ‘n dag of twee (as jy gelukkig is) herhaal word.  Ek dink nie daar is enige werksbevrediging in huiswerk nie.

Oor die algemeen is huiswerk dan seker maar soos die Engelse sê “a necessary evil”.  Jy doen dit, omdat jy dit moet doen.  Ek meen, die troon by jou huis behoort die een plek te wees waar jy sonder voorbehoud kan neerplons.  Die een plek wat jy weet veilig is en waar jy met ‘n geruste hart van jou afvalstowwe ontslae kan raak.  Niemand kan tog in ‘n vuil bad skoon kom nie.

Verder is voedselvergiftiging glad nie lekker nie.  Jy moet gereeld jou kanse met kos vat, in jou eie huis kan jy dalkies jou hand oorspeel.  Jy verloor genoeg stukkies vel deur ‘n dag dat jy nie aan gister (of die vorige week) se vel moet vasklou nie.  Papier is nou ook nie so duur dat jy op die TV / Tafel / Watookal boodskappe moet los nie.  Dit kan boonop jou sinusse aanval en dit is nooit lekker nie.  Daar is dus ‘n bietjie logika in.

Wel, tot ‘n mens in die slaapkamer en meer spesifiek die bed kom.  Om een of ander rede word ons van kleintyd af geleer dat jy jou bed moet opmaak.  Hoekom?  Elke keer wat jy vir dit kyk, is daar “bewyse” wat lyk asof dit nooit opgemaak is nie.  Die netheid verdwyn by die deur uit die oomblik wat jy daarop gaan sit.  Ja, ek sit en lê soms op my bed al het ek geen behoefte aan slaap nie.  Elke aand klim jy tog weer in dieselfde beddegoed in en krap dit van vooraf deurmekaar.  Dit gaan nie skoner wees as jy dit opgemaak het het nie.  Hoekom doen ons dit dan aan ons self?

Waarskynlik net omdat dit beter gaan lyk as iemand in jou slaapkamer kom.  Ek wil my amper verstout om te sê dat die meeste mense wat niemand in hulle kamer verwag nie, nie hulle beddens opmaak nie.  Dit is vermorsde energie waarmee jy niks wen en niks voor kan wys nie.  Dit is buitendien so maklik om ‘n deur toe te trek as daar onverwags gaste opdaag.

Maak jy elke liewe dag jou bed op?  Van vooraf, sonder om net die komberse ‘n bietjie reg te trek?  Maak jy dit op ‘n koshuis / army manier op?  Is daar nog mens wat nie van pas lakens gebruik maak nie?  Gebruik net ‘n laken oor jou matras of het jy ‘n tweede laken ook?  Maak jy jou bed op as jy in ‘n hotel of gastehuis oorslaap?

Breinvasbrand:  Rangskik in volgorde van grote:  Koning; Dubbel; Enkel; Koningin.

Breinlosbrand:  Seegogga was reg met Kaap Agulhas.





Lunch Week 18 / 11

12 05 2011

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Boot; Clutch; Starter; Plug; Bonnet; Vonkprop; Knormoer; Motorkap;  Kattebak; Koppelaar

Gemeenskaplike faktor?