Hiep Hiep

11 05 2011

My moermetertjie wou-wou vanoggend rooi toe skiet toe ek van die regering se planne lees om grondeise te heropen.  Bid jou aan dat hulle mense wil toelaat vir grond wat voor 1913 in hulle besit was.  Ek meen, 1913 is al 98 jaar weg.  Wie weet waar het jou voorouers 98 jaar terug gebly?  Weet is een ding, maar hoe bewys jy dit?  Ek wil nou regtig nie lelik wees nie, maar kon die “naturelle” in 1913 of selfs voor dit lees en skryf?  Hoe weet die een wat die grond toeken dat dit nie ‘n vet lieg is nie?

Toe tref die moontlikhede my.  Niemand het mos nou ooit gesê dat net “naturelle” mag eis nie.  Daar bestaan mos al jare lank nie meer ras in die land nie.  Wat van my oupagrootjie-grootjie-grootjie-grootjie se grond wat ons familie deur die jare met ‘n slenter ontval het?  Ek kan boonop nie my hand op die Bybel sit dat ek nie dalk ‘n Hottentot oumagrootjie of 2 gehad het nie.  Dit kom ons mos toe en die regering is regverdig genoeg om ons grondjie aan ons terug te besorg.  Ek behoort eintlik dankbaar te wees vir die insig van ‘n man soos Gugile Nkwinti.

My oupa het my vertel van ons voorvader wat eendag sommer net daar van sy skippie in Tafelberg geklim het om te bly.  Dit was in die laat 1700’s gewees.  Wel, Oupagroot was maar ‘n rustelose siel gewees.  Die Kaap van Storms was ‘n plek wat sy lewe weerkaats het.  Hy was nie ‘n baie ryk man nie, maar vindingryk soos min ander.  Seker al wat Oumagroot oorreed het om met hom en sy beduiwelheid te trou.

Dit is juis sy vindingrykheid wat hom die guns en vrygewigheid van een van die Hottentotstamme gewen het.  Oupa kon nie die stamleier sy naam so mooi onthou nie, hy het hom sommer Abel genoem.  Ek neem maar aan dit was sy “Europese” naam, maar dit sal seker nie so moeilik wees om sy regte naam te kry nie.

Abel se Stambul het eendag in ‘n gat geval en sy rug gebreek.  Daar was net een probleem gewees, die Stambul se pa was onlangs geslag en die Stambul het nog nie ‘n bulletjie nagelaat nie.  Sonder die bul sou Abel en sy stam nie meer erken word nie.  Oupagroot het van die dilemma gehoor, die stambul gaan melk en toe ‘n paar koeie help dek.  Die Hottentotte wou hom stenig omdat hy so onrespekvol was, maar hy het Abel oortuig om te wag.  En wragies, een van die koeie het gevat en dit was toe nog boonop ‘n bulletjie.

Abel was so dankbaar, dat hy vir Oupagroot sy waardevolste stukkie grond gegee het.

Oumagroot het gedink dat dit hopeloos te winderig is en het maar met die kinders in die stad agtergebly.  Die kinders het maar hier en daar saam met Oupagroot gaan bly op sy Bulgrond, tot daar een was wat geweier het om terug stad toe te gaan.  So is die Bulgrond (vandag bekend as Kaappunt) van een generasie na die volgende oorgedra.  Daar was een beduiwelde kind gewees wat deur die grond gekies is.  Tot rondom 1897, toe een van die voorouers net een kind gehad het, wat bloot nie beduiweld was nie.

Dit was nie ‘n krisis nie, die volgende geslag sou wel die beduiwelde een opgelewer het.  Soos die noodlot dit wou hê, was die voorouer nie juis te haastig om te trou nie en die gebied het in 1908 wederregtelik staatsgrond geword.  In 1926 was dit toe ‘n natuurreservaat verklaar.  Tot die groot verlies van die Phoenix familie.  Die beduiwelde kind was dalk laat, maar die kind het gekom.  Vandag sou dit in my besit gewees het.

Danksy ons eerbare minister sal dit binnekort wel op my boeke staan.  Ek meen: my oupa het my die storie vertel voordat ek gebore is en my ouma sê my oupa jok nooit nie.

Die minister hoef nie bekommerd te wees dat ek nie plek deur my gat sal trek nie.  Ek behou myself die reg voor om een of ander tyd ‘n kasteeltjie te bou, maar aanvanklik sal ek doodgelukkig in die gehuggie bly.

Sanparke kan nog steeds met hulle bedrywighede voortgaan, mits ek so ‘n persentasietjie van die inkomste (insluitende hekgeld) kan kry.  Dit is net regverdig.  Verder sal oortreders van my en Sanparke se reëls een keer gewaarsku word voordat hulle in die see versuip word.  Ek wil seker maak my nageslagte gaan nog die grond wat hulle toekom hê.

Wanneer open die eise?  Ek kan nie wag om my skoene op my eie grondjie gekoop met Oupagroot se vindingrykheid te gaan uitskop nie.

Ek en die minister sal ook moet praat God’s Window wat ek met bloed gekoop het, maar dit kan eers wag.

Waar het jou ouma- of oupagroot vir jou ‘n grondjie gelos wat jy deur die eerbare minister kan gaan opeis?

Breinvasbrand:  Wat is die mees Suidelike punt van Afrika?

Breinlosbrand:  Olga was reg met joernalis.


Aksies

Information

15 responses

11 05 2011
seegogga

HA!!!! Uiteindelik ken ek ook ‘n antwoord!!! Kaap Agulhas!!! yippieeeee!!!!!!

11 05 2011
Olga

die ou grondjie waar o.a jhb internasionaal staan, het aan my oupa koos behoort.

12 05 2011
Xena Phoenix

Dit is ‘n nice stukkie grond. 😉 Jy beter solank na die regte vorms soek, netnou lieg iemand dit onder jou bas uit. 😆

12 05 2011
J W W

Ja nee kyk…. dis nog ‘n lekker bog storie, ek praat nou van di regering… alles wat hulle aanraak verander in stront !

12 05 2011
Xena Phoenix

JIp, dit is hoekom ek die reg voorbehou om enige politikus op my grondjie te verdrink

12 05 2011
demoerin

My Ouma se familie het die plaas besit waar Dobsonville, en nog groot gedeelte van Soweto op staan – ek wil dit nie terug hê nie – ek sal ‘n skikking oorweeg of al daai mense moet maar trek.
😆 Snaaks, vriendin wat saam met my gewerk het so familieplaas was waar die uniegebou nou staan – dit kan nogal fun and games veroorsaak.

12 05 2011
Things my father said « OLGA SE OKSELTJIES

[…] Grieters wou weet waar het my voorouers vir my ‘n grondjie verpas wat oompie Gugile Nkwinti aan my gaan terug besorg. […]

12 05 2011
Selene Phoenix

Goeie more!

Ek is seker ek is familie van Jan van Riebeeck… so ek pak solank my tassies, wou nog altyd in ‘n kasteel bly!! 😀

12 05 2011
Xena Phoenix

Tannie Anne gaan vir jou spook!!!!

Noudat ek daaraan dink, ek het ook ‘n wêreldbekende spook.

12 05 2011
Sonlig

Dis reg – daar is niks wat sê dis net natuurhelle wat mag eis nie.

Ek het onlangs gehoor daar was nog net één wit grondeis in die geskiedenis (Ek bieg ek het nie nou tyd of lus om dié brokkie te verifieer nie) en die eiser het sy saak gewén! Ek dink daar was familiegrafte op die grond.

12 05 2011
Xena Phoenix

WoW

Ek moet gaan soek en oplees. Ek het juis gewonder wat nou van die plase waar daar van die blanke familie begrawe is.

12 05 2011
sisi dudu

he lo my swieties. het djulle gamis vir sisi dudu?

12 05 2011
Xena Phoenix

Hi Dudu

Is jy bly dat jy nog ‘n paar stukkies grond kan kry? Moet nou net nie vraatsig word nie. 😉 Waar gaan jy eis?

12 05 2011
Sonlig

Chips! Chips! Julle!! sisi dudu is hier! 😉

12 05 2011
Xena Phoenix

Straaltjie, jy moet versigtig wees. Dudu sal jou sommer met die besem bykom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: