‘n Week na die plaaslike verkiesing en die handskoene is af. Daar word kaalvuis onder die verskillende partye ingeklim in die hoop om iemand wat luister na hulle kant toe te beweeg. Al moet daar nou oor elke oop toilet in die land vuisgeslaan word, elkeen is daarop uit om die ander so ver as moontlik te diskrediteer. Al is dit maar net om jouself te oortuig dat jou party nog kan skop, hoe pateties die skoppie ookal is.
Die goed wat die ANC deesdae kwytraak (of dan toelaat om gesê te word) laat mens in ‘n koue sweet uitslaan. Die jongste is dat alle blankes misdadigers is wat alles van die swartes gesteel het. Die 10 % blanke bevolking het glo 90 % van die land se rykdom. Blankes moet glo soos misdadigers misbehandel word en die massas moet sonder betaling opeis wat hulle glo toe kom. Die ANC moet my tog net laat weet waar my blanke vel as betaling vir wildsplase aanvaar word. Verkieslik grond met ‘n stukkie strand, ek soek ‘n dolfyn met ‘n seer hart.
Terselfde tyd word die DA beskuldig daarvan dat hulle ‘n spel van kleur politiek speel. Dit omdat hulle ‘n swart man en ‘n kleurlingvrou as burgermeesterkandidate vir, onderskeidelik, Johannesburg en kaapstad genomineer het. Ek is nie seker wat die ras van Brandom Topham, die kandidaat vir Pretoria is nie, maar ek dink nie hy is ‘n stoere boer nie.
Terselfde tyd verkondig die ANC graag dat ‘n stem vir die DA, ‘n stem vir Apartheid is. Dit laat mens nogal wonder wie is nou eintlik skuldig aan kleur politiek. Dit is asof die ANC niks vir hulle munisipaliteite kan wys nie en nou die DA moet slegmaak so ver hulle gaan. Ek gee toe dat die DA ook maar lekker die ANC sleg sê, maar die DA kan iets wys vir die plekke waar hulle regeer het. Dalk wel met ‘n oop toilet hier en daar, maar dramaties beter as die ANC wat ook maar oop toilette het. Die DA jeug het net nie die ANC gekeer om die glips reg te stel nie, die ANC het bloot net nie omgegee nie.
Die DA belowe beter dienste vir almal. Die ANC belowe om te steel wat nie aan hulle behoort nie en dit wat oorbly nadat die vet katte gevreet het te verdeel. Die uiteinde gaan slegter omstandighede vir almal wees.
Niemand is seker verbaas dat die DA heelwat gekleurde kandidate laat nomineer nie. Beter dienste vir almal sluit immers wit, swart, pienk, geel, blou en pers in. Sonder om die regte van een groep te minag. Die nominasies het my dus nie verbaas nie.
Wat my wel vir ‘n 6 geslaan het, is dat die ANC wel ‘n paar wit nominasies het. Kan iemand hulleself verkiesbaar stel vir ‘n party wat hulle verag en wegwens?
Ek het dit al dikwels gesê en ek gaan dit weer herhaal. Die enigste manier wat Suid-Afrika die land kan word wat ons graag wil hê dit moet wees, is wanneer Suid-Afrikaners hulle issues vergeet en skouer aan die wiel sit. Vergeet van kleur en doen wat gedoen moet word. Die ANC is duidelik nie van plan om kleurblind te word nie. Die DA? Ons sal seker eers regtig sien as hulle in beheer is. Hopelik met heel paaie, skoon en veilige strate, skole wat opvoed en hospitale waar jy jou lewe kan waag.
Pla kleurpolitiek jou?
Breinvasbrand: Wat is Helen Zille se beroep gewees voordat sy politiek toe is?
Breinlosbrand: 1868
Wie runnik saam?