Sleuteltjie-Sleuteltjie

9 05 2011

Seegogga het my uitgedaag om ‘n krater oomblik te beskryf wat my met sleutels getref het.  Al het my sleutels ‘n vendetta teen my, is daar nou nie regtig iets wat die moeite werd is om oor te vertel nie.  Ek het eendag my sleutels op ‘n strand verloor, maar het dit darem ontdek (en gekry) voordat die see dit opgeëis het.  Ek moes al verskeie kere terug hol kerk toe omdat die sleutels in die bank wegkruipertjie gespeel het.  Dit het ook al meer as een keer in ‘n publieke badkamer agtergebly.  Daar was ook die een onvergeetlike keer toe my sleutels in die Spur voetjies gegroei het.  Iemand het hulle egter gesien hol, hulle gevang en vir die bestuurder gegee.

Sien?  Niks om oor huistoe te skryf nie.  Ek het wel al bloed gesweet nadat ek ‘n kar verloor het.  As verstrooid jou middelnaam is, bekommer jy jou nie as jou kar nie is waar jy dink dit moet wees nie.  Dit is nie abnormaal om te vergeet waar jy parkeer het nie.  Dit help gewoonlik om jou stappe na te spoor of net mooi te dink en te hoop niemand sien jou nie.  Dit is ‘n perd van ‘n ander kleur as dit nie help nie.

Ek was een van die massas gewees wat my lisensie gekry het jare voordat ek ‘n kar gekry het.  As dit ‘n gat in jou sak brand, spring jy om elke denkbare geleentheid te ry.  As jy nou nog boonop alleen kan ry, loop jy so ‘n paar sentimeters bo die grond.  Anders was ek net mooi aan niks gewoond nie.

So ry ek die dag in dorp toe, laai my ma af en gaan parkeer die kar.  Nou om die storie mooi te verstaan, moet ek noem dat die dorpie Carolina is.  ‘n Plek met net 2 supermarkte, 2  parkeer areas en die sentrale sake sektor net 3 blokke lank is.  My ma raak aan die koop en sy stuur my om die kar te gaan haal.  Geen probleem, ek vlieg daar uit om die kar te gaan haal.  Daar is net een tegniese probleempie.  Ek kry die kar nêrens nie.  Ek loop van die een supermark tot die volgende een en terug – maar niks. 

Ek is op die punt oortuig dat die kar van eienaar verwissel het en begin nou net wonder wat ek vir my ma gaan sê.  Terwyl ek terugstap bestudeer ek die sleutels baie aandagtig.  Toe tref dit my soos ‘n hamer tussen die oë.  Ek het na die verkeerde kar gesoek.  Die sleutels in my hand wys dat ons met my pa se kar gery het en nie met my ma se kar soos ek gesoek het nie.  Nadat ek dit besef het, het ek sommer geweet waar die kar is.  Nadat ek seker 10 keer daar verby geloop het.

Het jy al jou kar verloor?

Breinvasbrand:  Wanneer is die Yale slot maatskappy gestig?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Suid-Afrika.





Lunch Week 18 / 11

9 05 2011

Algemene Kennis

  1. Wie was die uitvinder van die rekenaarmuis?
  2. Waar is Gambit, die grootste dolfyn in gevangenis, se huis?
  3. In skaak, hoeveel pionne is daar aan ‘n kant?
  4. Wie is die aanbieder van Suvivor SA?
  5. Wat is die geboortesteen van Mei?