Kos Mors

8 05 2011

As daar nou een ding is wat ek nie kan verdra nie, is dit om kos te mors.  Na my mening is dit een van die sondes wat per abuis uit die 10 gebooie gelaat is.  Dit stuit my teen die bors om enige iets wat eetbaar is te vermors. 

Noudie dag sien ek die winskoop in ‘n restaurant.  ‘n 500 g Kruisskyf en skyfies vir net R50.   Winskope soos dit kom nie sonder terme en voorwaardes nie.  In die geval kon dit aanbieding nie gedeel word nie en geen brakkiesakkies was toe gelaat nie.  Dit is dus ‘n halwe kilogram vleis vir net een mens.  Selfs al word die been in berekening gebring, is dit ‘n homp vleis.  Die aanbevole porsie per persoon is 85 g.  Gestel nou die aanbieding het net 350 g eetbare vleis, is dit genoeg vir 4 mense.  Of vir 2 vrate.  Punt is dat daar bittermin mense is wat reg sal laat geskiet aan die porsie. 

Die restaurant was egter volgepak en die kruisskywe het gehardloop.   Dit is net logies, hoekom aansienlik meer vir ‘n 200 g stuk vleis betaal as jy ‘n baie groter stuk vir heelwat minder kry?  Tog kan ek nie help om te wonder nie?  Wat word van alles wat die mense nie kon baasraak nie?  Dit is ‘n restaurant en hopelik hergebruik hulle nie die vleis in ander disse nie?  Maar wat word daarvan?  Kan daar iets anders gebeur as dat dit in dis asblik land?

Hoeveel vleis word in die loop van so ‘n aand weggegooi?  As dit nog aan die DBV of vir varkkos geskenk word, kan ek dit nog aanvaar.  Diere moet ook eet.  In die asblik gaan die maaiers feesvier, tensy die karwag of ‘n boemelaar dit eerste kan bereik.  Dit is dalk wat die storie so hartseer maak.  Voer iets aan iemand en hulle kry voedselvergiftiging, gaan jy hulle die res van hulle lewe onderhou (soos ‘n 5 ster restaurant in die Kaap kan getuig).  Grawe hulle dit uit die asblik uit, is dit op eie risiko.  Honger genees immers enige fiemies.

Hoeveel kos word so in ‘n restaurant vermors? As jy ‘n porsie groente bestel, kry jy gewoonlik ‘n ruim porsie.  Wat word van die groente wat uit jou ore uit loop?  Weereens – as jy daaraan gepeusel het, kan dit nie weer opgedien word nie. 

Ek sal beslis nie daarvan hou om kos te kry wat op ‘n vreemdeling se bord was nie.  Ek wonder tog om kliente nie toegelaat kan word om hulle eie groente of slaai op te skep soos per hulle behoefte nie.  Wat dan aan die einde oorbly kan dalk onder die personeel verdeel word.  As dit in hoeveelhede net genoeg vir ‘n paar uur gemaak word, behoort daar nie probleme te wees nie.

Vir ‘n restaurant wat nie brakkiesakkies toelaat nie, weet ek regtig nie of ek my geld daar wil toelaat nie.  Om onbeskaamd kos weg te gooi is om in die gesig van die wêreld se hongeriges te lag.  Onvergeeflik in my oë. 

Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Van watter land is Operasie Honger?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 2005


Aksies

Information

23 responses

8 05 2011
Olga

Eerste… Of is dit uiteindelik????

Suid Afrika.
Ek het ook ‘n broertjie dood aan kos mors. As ek vir iets betaal, voel ek dis myne. Om te eet of huis toe te neem. Spur se ribs of buffalo wings kan ek verstaan. Maar ek dink in die restaurant se geval is hulle onredelik en ongrondwetlik met geen brakkiesakkies nie.

9 05 2011
Xena Phoenix

Ek dink wat ook al in jou bord geland het, behoort joune wees. Dit is dan vol van jou kieme en spoeg en wat ook al.

Die verskil is dat Spur se ribs of buffalo wings nie op jou bord was nie.

Ek gee toe, die meeste plekke laat darem brakkiesakkies toe.

8 05 2011
seegogga

In ‘n restourant word brakkiesakkies toegelaat,behalwe wanneer daar ‘n spesiale aanbod is, bv eet soveel spareribs soos jy wil vir R50 ens. Dit is logies dat sakkies nie toegelaat word nie, want dan word die hele familie tuis ook gevoer met daadie R50. As ‘n Mens egter’n gewone bord kos van die spyskaart bestel, word ‘n sakkie altyd toegelaat, sover ek weet, want dis jou kos, jy het daarvoor betaal sodat die restaurant steeds wins maak. Afvalkos in ons resourant word netso in ‘n drom gegooi wat spesiaal vir die varkboerdery daar gesit is en ook deur hulle afgehaal word.
Ek is onseker wat die doel van die 500gm special is. Miskien wil die restpourant dmv weiering van sakkies die klient laat besef dat hy nie meer moet bestel as wat hy kan baasraak nie. ‘n Jong man eet 500gm met smaak, so hy kry hier ‘n winskopie, maar ‘n dame sal sukkel om dit baas te raak, moet dit dus nie bestel nie, want jy kan nie die oorskiet huis toe neem nie- of so-iets.

9 05 2011
Xena Phoenix

Die spesifieke plek is ‘n steakhouse. Hulle spesialiteit is vleis en soos ek verstaan – hompe daarvan.

Hulle kleinste porsie wat jy kan bestel (jy betaal dan per gewig) is 200 g. Ek is self ‘n groot eter, maar 200 g raak my soms baas.

Ek pik dalk onnodig op die restaurant, maar dit is waar dit my laat dink het.

9 05 2011
BB

Ongelukkig kan die meeste mense wat vir hulle self (mag) opskep, beslis nie hulle behoefte bepaal as hulle voor al daardie keuses te staan kom nie. Die grootste vermorsing sal jy teëkom in “buffet”-restaurante. Betaal R99 en eet soveel jy wil… daar is nou vir jou vermorsing! Mense reken dalk dat hulle daardie R99 se volle waarde sál kry! Ons eet nie by sulke plekke nie – bloot omdat mens dan regtig geneig is om jou te oorvreet en boonop raak ek so vies vir mense wat hulle borde tot oorlopens toe volskep en dit wat hulle nie van hou, word eenkant gestoot en dan gaan skep hulle maar iets van die ander disse… Mense wat kinders toelaat om self in te skep in so ‘n plek dryf my die mure op – die nagereg tafel lyk gewoonlik of ‘n orkaan hom getref het, soos kinders skep en mors. Dis afgryslik hoe mense tekere gaan in so ‘n plek.
Jip – die meeste restaurante het die een of ander reëling met o.a. varkboerderye, maar geen ander dier eet als wat voorkom nie, en restaurante het nie die tyd of inclination om kosreste van ‘n bord af te sorteer nie. Die dieretuin stel beslis nie belang in afvalkos van restaurante nie.
Behalwe vir die voorbeeld hierbo – word vermorsing van vleise darem verhinder deur brakkiesakkies, maar die meeste mense soek beslis nie hulle slaai en groentereste ook nie. Dus kan die restaurant nie regtig geblameer word nie – want gee hulle minder/kleiner groenteporsies en bv. skyfies mor die klant weer.
Soos Seegogga sê – die ‘special’ is vir mense wat die actually kan opeet – maar dit is ‘n stupid special – veral as die 300g steak dieselfde prys of duurder op die standaard spyskaart is. Wat hulle eintlik doen is om nuwe kliënte te lok – hulle eet dalk so lekker dat hulle volgende keer besluit om daar te gaan eet ongeag enige ‘special’.

9 05 2011
klippie

Ek stem saam, BB. Kinders wat vir hulleself skep, al kuier hulle net by ons, dryf my teen die mure op. Meeste van daardie kos beland hier in ons asblik want ons het nie ‘n varkboerdery nie. Baie ma’s skep ook vir hulle kinders op asof die 7 maer jare more gaan aanbreek. En dan beland alles weer net so in die asblik.

9 05 2011
Xena Phoenix

Klippie

Mens kry ook die ander uiterste wat my net so mal maak. Die ma en pa gaan aan die drink en niemand dink daaraan om die kind te voer nie. Veral as kinders kuier, kan ‘n mens verstaan dat hulle nie alles eet nie (die versnapperinge is te veel). Tog weet ek van baie ouers wat sal eet wat hulle bloedjies nie opeet nie.

9 05 2011
Xena Phoenix

Ek moet erken, ‘n buffet is my dood. Die probleem is dat ‘n mens mos van alles wil proe, al is dit nou net ‘n happie.

Ek kan verstaan dat porsies ‘n dilemma kan wees. Almal hou tog van ‘n restaurant wat nie suinig is nie. Ek moet erken, ek vat baie eerder die groente huis toe as die vleis. 😉

Wat my deksel is, is die hoeveelheid blaarslaai wat hulle in ‘n slaai gooi. Jy sien die homp liggroen en hier en daar ‘n mikroskopiese hoeveelheid iets anders. Skandalig. Mens kan ook net soveel blare eet.

9 05 2011
J W W

500g kan ek maklik baas raak – dit vat immers baie om my “unique physique” in stand te hou 😆

Maar ja ek is ook geleer mens mors nie met kos nie

9 05 2011
Xena Phoenix

JWW

Wanneer jy weer met vakansie gaan, sal ek jou die naam van die restaurant gee. Hulle belowe ook om dit vir jou te braai net soos jy daarvan hou.

9 05 2011
Selene Phoenix

Ek stem saam! Hou nie daarvan om kos te mors nie! Gelukkig eet my man sy hele bord kos op, en soms maak hy myne ook sommer klaar! 🙂 Moet sê hy mors niks nie! En die beentjies vat ons altyd vir ons honde!

Ek hou ook nie van self help nie, dis altyd ‘n gemors en mens skep extra diep want jy moet jou geld se waarde kry! En soms is die kos nie wat wonders nie, juis omdat dtit in so groot hoeveelhede gemaak word! Maar dis seker net sekere plekke – daar is ‘n restaurant hier by ons met heerlike Sondae buffet!

Stem ook saam BB !

9 05 2011
Xena Phoenix

Die self opskep idee is dalk nie so hot nie. 😉 Dit hang egter van restaurant tot restaurant af.

Sondae Buffet’s is van die duiwel.

9 05 2011
demoerin

Ek stem oor die kos mors…daar is niks erger nie. Dis weird dat die restaurant nie ‘n woefkardoes toelaat nie, want tog het jy vir daai stuk vleis betaal, dis nie asof jy ekstra bestel om huistoe te vat nie? Ja, ek sidder om te dink wat hulle emt die oorskiet doen.

9 05 2011
seegogga

Ongelukkig is daar mense wat ekstra bestel. Hulle weet voor hulle heilige siel hulle kan net 200gm opeet, maar besel nou die 500gm wat die reswtourant eintlik teen ‘n verliesaanbied om mense te lok wat dalk andersins nie sou kom nie. 500GM IS DUUR. Die sterk man kry darem nou ‘n special( en die rextourant maak niks uit om nie), maar hulle maak hulle geldjies uit die mense wa saam met om kom eet. As hulle ook die special bestel, verloor die restourant. Daarom word die hondesakkies in die geval van specials nie toegelaat nie. maw: bestel waarvoor jy kans sien!
Die varkplaas gee ons restourant elke Desember ‘n vark present. Ek weet nie wat die ander restourante se reeling is nie- dalk kry hule ‘n geldjie, hoewel min, vir die vakkos? In die geval van ‘n special is dit dan vir die restourant ook meer voordelig om die oorskiet ir die varke te gooi as vir die vrate.

9 05 2011
Xena Phoenix

500 g vir R50 teenoor R85 vir 200 g? Dit maak dan glad nie sin om die 200 g porsie te bestel nie – wel behalwe as jy ‘n oorywerige gewete het.

Ek dink as ‘n restaurant na sulke uiterstes moet gaan om kliente te werf, is daar ‘n rede hoekom hulle nie juis kliente het nie. As hulle dan nog so neerhalend na hulle kliente verwys, is dit seker geen wonder nie.

Daar is een ding wat mense oor en oor sal lok en dit is spesiale aandag. In plaas om ‘n halwe kilogram vleis in iemand se keel af te druk, gee eerder die kinders ‘n gratis roomys. Die kinders gaan sorg dat ma en pa elke keer daar gaan eet. Net as ‘n voorbeeld.

9 05 2011
Olga

wat gaan hulle met die vleis maak wat die kliënte nie opeet nie? Repe sny vir ghoulasj of die broodjies of wat noem hulle die broodjies? Gee eerder ‘n roomys vir die kinders of ‘n speelding. Ja, die spesiale aandag is die ding wat mense laat teruggaan. Ons het bestuurder by ‘n resaurant op die buurdorp gehad wat elke kersfees, nuwejaar, verjaardag sy gereelde kliente gesms het. Al het hy helfte van dieselfde restaurant op enige ander plek se skyfies bedien, het hy goed gedoen.

9 05 2011
Xena Phoenix

DMI

Wat vir my baie sleg is, is die karnar wat buite in die koue karre oppas. Daar is geen manier wat hy vir sy gesin T-Bone kan koop nie, nie eers om te deel nie. Tog word daar massas weggooi ( 😉 Of vir die swyne gegooi )

10 05 2011
demoerin

Presies. Dit maak my boos. Moenie die special doen as mense nie hulle oorskiet waarvoor hulle betaal het nie mag huistoe vat nie. Dit is sinneloos.

9 05 2011
leonvonmoltke

Baie dieselfde gebeur as jy mense onthaal by die huis. Ongelukkig…

9 05 2011
Xena Phoenix

😉 Hoe ongeskik is dit om self vir hulle op te skep?

10 05 2011
demoerin

Yip, ek is geleer dat jy eet wat jy in jou bord opskep. As jy nog wil hê kan jy altyd weer gaan skep, solank jy dit ook alles opeet. Dit maak mos net sin?

10 05 2011
BB

Ek vat nooit ‘n brakkiesakkie saam as ek by iemand genooi is vir ete nie! Ekke eet gewoonlik de laaste bak léég! 😳 (ek is al baie kere vertel dat ek ‘n gasvrou se droom is – (ok dis nou behalwe dié wat gedink het, hulle het nog kossies oor vir hulle gesinnetjie vir Maandagaand) – want dis die grootste kompliment ooit, issit nie? As jou bakke leeg geëet is!
Ek love veral by boereanties gaan eet. Die goeie ou standaard rys, vleis en ertappels – en boontjies en spinasie EN pampoenkoekies (ek eet die res vir nagereg met vla :mrgreen: ) – Ag man!! Ek was te lank laas by goeie ou stoere boere vir ete 😦

10 05 2011
Klip

Ek hou ook nie daarvan om kos te mors nie , ek het die ander dag vir my n 2kg rump steak bestel en ek het drie dae aan hom geeet.

Maar nou , hier gebeur dit nou die tweede keer met my . Ek kry n muisdrol in my atchar.

Lank terug koop ek Miami se mango atchar, en bring dit werk toe , want my familie eet nie die goed nie , skep toe sommer so klomp atchar oor my kos , en sien toe hierdie swart dingetjie , kyk en kyk weer , en al wat dit kan wees is n muis drol. Gee dit toe ook sommer dadelik weg vir een van die papmasjiene wat hier werk.

Laas week koop ek toe weer sulke homemade atchar by n papmasjien , en skep toe vandag weer oor my kos , en waaragtig weer n muisdrol.

My kollega het nou net vir my kom vra of hy ook van dit kan kry , het hom nie vertel wat ek ondervind het nie , dit moet net klaar kom . EK EET NOOIT WEER ATCHAR NIE

Hoe se hulle “Wat die oog nie sien maak die hart nie seer nie ” My hart is nou seer

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: