Ek het nog altyd gedink ek sal daarvan hou om terug te gaan skool toe. Weer as ‘n leerling, so st 8 ouderdom. Ek het net een doel ingedagte as ek weer agter ‘n skoolbank inskuif. Ek wil sien hoe vinnig ek uit die skool uit geskop kan word.
Ten spyte van my stoute streep, was ek eintlik baie voorbeeldig op skool gewees. Ek het redelik goeie punte behaal en het oor die algemeen gedoen wat van my verwag word. Daar was tye wat my mond my in die moeilikheid gekry het, maar niks waaroor daar huistoe geskryf was nie. Die onderwysers het dit wys geag om die aftog te blaas, voordat ek lekker op dreef was. Ek het nooit ‘n detensie brief of iets gekry nie.
Ek sal dus die skool so ‘n bietjie op horings wil neem – die onderdrukte rebel in my los laat. Ek gaan laat opdaag vir klasse en loop as die onderwysers my verveel. Ek gaan die onnies vertel as hulle stront praat en ek gaan hulle elke kans wat ek kry vas vra. Ek sal hulle sommer vertel om van hulle troontjies af te klim as hulle dink hulle is verhewe bo die gewone aardlinge. Ek gaan glad nie huiswerk doen nie en ek gaan nie iets soos handboeke hê nie. Dit is sonde om ‘n boom te mors vir niks. Ek hoop om darem tot die eerste toets te hou, net sodat ek vir die onnie kan vertel om onder die klip te gaan soek.
Dit klink na vet pret, maar helaas. Soos ek verstaan gaan dit in elk geval deesdae so in die skole. Wat natuurlik net my pret bederf.
Sal jy graag wil terug gaan skool toe – as dit is soos dit was toe jy laas op skool was? Wat sal jy graag wil gaan doen?
Wie runnik saam?