Huis, paleis, pondok, varkhok

30 04 2011

Daar is ‘n Engelse gesegde wat daarop sinspeel dat dit niks is om ‘n huis te bekom nie, maar dat dit nie in enige aap se broek sit om ‘n huis ‘n tuiste te maak nie. 

Jou huis, selfs al is dit ‘n pandok, is tog sekerlik die een plek waar jy ten alle tuis moet voel.  Ek twyfel sterk of jy dit in ‘n skouhuis, een wat Top Billing toe mik sal kan reg kry.  Aan die ander kant, ‘n varkhok deug ook nie.  Mens moet darem nie die durf bymekaar skraap om jou tuiste in die oë te kyk nie. 

Hoe maak ‘n mens ‘n huis ‘n tuiste?  Gaan dit oor die meubels wat jy uitgesoek het en met sorg gerangskik het?  Gaan dit oor die blote verteenwoordiging van die mense in die huis?  Of is dit wanneer die huis die persoonlikheid van die mense wat daarin woon weerspeel? 

Terselfde tyd, waarna kyk jy heel eerste as jy in iemand se huis inkom?

Vertel my vandag julle vooroordele, filosofie ens betreffende huise.





Ek gaan leer seil

29 04 2011

Hallo Maatjies!

Dit is darem ‘n skande!  😡  Ek is ‘n heksie wat ‘n meulekopter kan vlieg, maar ek kan nie ‘n kar seil nie.  😳  Die maatjies gaan dink ek is te dom om te seil.  👿  En julle weet mos almal, ek is die slimste en mooiste heksie ooit! Daarom moet ek leer seil! 

Daar is net een klein ou technikon probleempie!  😳  Karre sit soos ‘n sak aan my!  😈  Hoe moet my hande by die petrol bykom en my voete die wielroer vashou?  😕  Ek is nie ‘n stuk gomtor wat kan rek tot ek alles bykom nie!!  👿

Die karmakers dink sommer hulle is koningin by!  Maar ek sal hulle wys!  😈  Ek gaan al die karretjies klein toor en dan kan net ek seil!  :mrgreen:  Dit sal hulle ‘n les leer.  🙄

Ek moet nou gou die regte toorwoorde gaan soek!  😀  Tata, Maatjies





Die Troue

29 04 2011

Dit is die dag waaroor almal deesdae praat.  Party kan nie wag vir die skouspel nie en ander kan nie weer ophou kerm oor die sirkus nie.  Punt is dat min mense heeltemaal koud gelaat word deur die troue van die dekade.  Moontlik die grootste troue ooit.

Die hele troue amuseer my geweldig.  Nee, ek geen nie regtig om hoe lank hulle getroud gaan bly en of Kate die mas kan opkom nie.  Die mense se reaksie is vir my soveel meer interessant.  Maak enige berig ook William en Kate oop en gaan direk na die kommentaar.  Daar is ‘n magdom van mense wat nie een goeie woord oor die troue te sê het nie.  Hulle is glo so naar dat hulle nie by hulle oë kan uitsien nie,  maar sal nogtans op elke artikel ingaan om nog meer gal te braak.

Wie gee om?  Wel, siende dat daar mense is wat die dag by die werk afgevat het spesiaal vir die troue, neem ek aan dat daar baie mense is wat wel omgee.  Hulle is daar om elke oomblik te geniet – dalk as ‘n huldeblyk aan die gestorwe koningin van harte of miskien omdat hulle aan sprokies glo.  Daar kort na ‘n moderne sprokie met ‘n gelukkige einde.  Ander gaan vasgenael sit om seker te maak hulle kan elke oomblik kritiseer.


En ek?  Helaas gaan ek die troue misloop, al sterf ek van nuuskierigheid.  Prioriteite is ‘n bitch!  Ek sal wel ‘n oog op die koerant hou en die hoogtepunte vir niks misloop nie.

Gaan jy die troue kyk?  Hoe voel jy daaroor?





Aflewering Pyne

28 04 2011

Ek gun regtig elke mens hulle brood met botter en konfyt.  Ek dink darem nie inhaligheid is een van my groot foute nie.  Ek trek egter die streep waar ek ingedoen word.

Nou die dag is ek opsoek na ‘n paar meubelstukke.  Ek weet nie van julle nie, maar ek besit nie ‘n vragmotor nie.  Ek sal dink dat dit tot voordeel van die winkel is om te sorg dat daar nie met aflewering gesukkel word nie.  Voorraad wat onverkoop op die vloer staan is ‘n vermorsing van geld en ruimte.  Die meeste winkels sien dit ook so in en bied dus aflewerings kostes.  Ongelukkig het een of ander nar ook gesien dat dit ‘n gulde geleentheid is om ‘n paar rand te maak.

As ‘n winkel jou dus die guns doen om ‘n paar duisende rand van jou geld vir hulle ware te ontvang, kan daar nie aanvaar word dat dit aflewering insluit nie.  Daar word ekstra daarvoor gevra, met ‘n dreigement as jy nie van hulle aflewering gebruik maak nie, jou goed in ‘n ongeluk sal kom wat hulle nie dek nie.

Op skool het ek rekeningkunde gehad en ons is daar geleer dat aflewering deel van die besigheid se bedryfskostes is.  Ek neem aan die kennis is verouderd.  In ‘n mate kan ek dit verstaan (as ek baie hard probeer).  Stedelinge het dalk ‘n swetterjoel keuses op hulle voorstoep, maar die voorstoep kan nogal lank raak.  My bietjie rekeningkunde vertel ook dat dit sinneloos is om ‘n aflewering te doen wat die hele wins van die transaksie opvreet.  Petrol en versekering is duur.  As ‘n redelike mens, sal ek dus instem om ‘n redelike bedrag vir aflewering te betaal.  Dit is juis hier waar dinge eers taai raak.

Baie plekke vra een standaard tarief vir aflewering, ongeag die afstand, grote of gewig van jou aankope.  Dan is daar diegene wat die afstand in berekening bring met die aflewering.  Daar is die een plek wat 40 km van my af is, wat ‘n aflewering vir R240 sal doen.  (Ek het mos gesê die voorstoep kan lank raak).  Ek kan die tarief insien.  Plekke rondom my se aflewering het gewissel van R60 tot omtrent R150.  Die wenner was ‘n aflewering wat my R450 sou kos en ek is net 1.5 km van die winkel af.  Hulle sou my dus R150 / km (as ek die retoer rit moes dek) gevra.  Die ironie is dat die pryse van die produk nie radikaal van mekaar verskil het nie.

Dit bring my weer tot my geykte rympie van goeie diens en uitmuntende diens.  Goeie diens is ‘n billike afleweringsfooi.  Uitnemende diens is gratis aflewering.  Selfs al is dit net in ‘n 10 km radius, vir aankope bo ‘n sekere bedrag of goed wat die klient nie self kan vervoer nie.  Ek is seker dit sal die opoffering werd wees.

Hoe voel julle hieroor?  Is daar nog plekke (behalwe pizzaplekke) wat gratis aflewering doen?  Is dit nie net bloot slegte maniere om nie die bedryfkostes so laag as moontlik te hou en by die prys in te reken nie?

Breinvasbrand:  Hoeveel kilometer radius van die restaurant, is Debonairs se aflewering gratis?

Breinlosbrand:  Saartjie





Obsessies

27 04 2011

Ek gun elke mens sy / haar obsessie.  Wat onsinnig vir een mens kan wees, irriteer die wit waks uit ‘n ander mens uit.  Ek kan verstaan dat dit ‘n probleem kan wees as dit ontwrigtend op iemand se lewe inwerk.  Dit is veral kommerwekkend as iemand se obsessie rondom ‘n mens draai.  Dit hou selde iets goeds in vir ander mense.

Daar is die obsessies waaroor ‘n mens kan lag – vir die lyer en nie saam met die lyer nie.  Vir ander van die obsessies kan jy maar net jou kop in ongeloof skud.  Met die obsessies sal enige iemand die lyer jammer kry en opreg wens dat hy / sy van sy eie obsessie gered kan word. 

Daar is byvoorbeeld mense wat tellers is.  Hulle loop heeldag en aldag en tel.  In die oggend moet die wekker ‘n sekere aantal luie gee voordat hulle dit afsit.  Hulle tel hulle tree na die badkamer, tel met hoeveel hale hulle tande geborsel word en seker ook hoeveel druppels hulle piepie.  So gaan dit die hele dag tot hulle weer skape gaan tel.

‘n Baie gewilde obsessie is om hande te was.  Hierdie mense glo hulle hande moet altyd skoon genoeg wees om mee te eet.  Hulle was hulle hande vir elke moontlike, onmoontlike en denkbeeldige oorsaak. 

Daar is ook mense wat alewig moet regpak of skoonmaak.  Ander loop weer die heeldag dinge en rangskik.  Party mense verpes dit as die kosse aan mekaar raak en nog ‘n groep dink dalk weer die heeldag aan seks en alles wat daarmee saam gaan. 

Ek kan eerlik sê dat ek net hande was wanneer dit van my verwag word en ek tel net goed as ek uiters verveeld raak.  Natuurlik het ek geen obsessies nie.  Almal skeur tog seker suikerpakkies, strooitjies ens oop.  ‘n Ding wat skeef is moet moes reguit wees.  My ma het my buitendien geleer om regverdig te wees, daarom sorg ek dat alles mooi verdeel is.  Daar is niks onnatuurliks daaraan nie.

Wat is jou obsessies?  Wat is die weirdste obsessie waarvan jy al gehoor het?

Breinvasbrand:  Wie het altyd oor die plaveiselblokke gespring en moes oor begin het as die voet ‘n lyn geraak het?

Breinlosbrand:  Seekat was reg met Moses.





Net 2 slapies

22 04 2011

Hallo Maatjies

😀  Ek wou ‘n rooi voëltjie stuur om julle te vertel, maar die rooi voëltjie kruip weg.  😡  1 . . . 2 . . . 3 . . . Blog die rooi voëltjie!  😈  Ek is nie ‘n heks wat my snaaks hou nie.  :mrgreen:

Ek weet sommer julle het so ‘n bietjie gevergeet.  😆  Ekke vervel op 42 Aspris!!  :mrgreen:  Dit is nog net twee slapies!  😯  Julle moet dan almal vir my pirsente, koek en rooi koeldrank gee.  😛  En niemand mag my blok nie, want dit is my vervel dag!  🙂

😈  Moenie vir Merriegriet gevertel nie, maar ek het haar rekendingetjie weg gesteek sodat ek saam met julle kan ruk-ruk-ruk. 

Onthou nou om nie te vergeet nie.

Tata

Die Heksie wat more-more vervel.





Goeie Vrydag

21 04 2011

Twee stukke lewelose hout en ‘n weerlose Man wat daaraan vasgespyker was.  Nogtans was dit sterker as die wêreld, omdat dit die wêreld oorwin het en weer sal oorwin.  Jesus het Sy lewe daarop vir ons neergelê, sodat ons elkeen die ewige lewe kan beërwe.

Geseënde Paasfees.





Lunch Week 16 / 11

21 04 2011

Liedjiepret

(Geen een woord titels sal aanvaar word nie.  Die vertaalde titels van 3 liedjies is verskuil.  Identifiseer dit met die sanger.)

Bly langs Alice is nie wat ‘n mens sal dink nie.  Sy is ‘n duiwel vrou wat jou gas gee op absoluut enige iets wat jy doen, sê of selfs dink.  Noudat sy weg is, is daar weer ruimte vir goeie vibrasies en kan ‘n mens weer met ‘n glimlag opstaan.

Liriekeraai

(Liedjie en sanger)

  1. You get a shiver in the dark
    It’s raining in the park but meantime
    South of the river you stop and you hold everything
    A band is blowin’ Dixie double four time
    You feel alright when you hear the music ring
  2. I thought love was more or less a given thing,
    Seems the more I gave the less I got.
    What’s the use in tryin’?
    All you get is pain.
    When I needed sunshine I got rain.
  3. He ruled the Russian land and never mind the tsar
    But the kasachok he danced really wunderbar
    In all affairs of state he was the man to please
    But he was real great when he had a girl to squeeze
  4. Oh! Woman, oh woman, don’t treat me so mean,
    You’re the meanest old woman that I’ve ever seen.
    I guess if you said so
    I’d have to pack my things and go.
  5. I gotta be cool, relax, get hip!
    Get on my tracks
    Take a back seat
    Hitch hike
    And take a long ride on my motor bike
    Until I’m ready




New Age Bid

21 04 2011

Op die vooraand van een van die belangrikste dae op die Christen almanak, is dit dalk ‘n goeie tyd om oor bid te praat. 

Dit is deesdae opvallend hoeveel mense hulle bid op Facebook doen.  Ek praat nou nie van die algemene woorde van bemoediging of die getuienis nie.  Nee, bid – van die aanhef tot op die punt waar daar amen gesê word.  Dit is amper asof God een van hulle vriende is en hulle Facebook Statusse slaafs navolg.  Met die nodige respek gesê.

Ek weet dat God orals is, ook in Facebook en elke mens het seker die reg om te bid soos hulle goed dink.  Ek weet ook dat waarvan die hart vol is, die mond (en statusse) sal oorloop.  Niemand is tog skaam daaroor dat hulle Christenne is nie.  Hulle het die reg om hulle Christenskap uit te leef, soos hulle goed dink.  

Tog is dit nie iets waarmee ek gemaklik is nie.  Persoonlik voel ek dat ‘n gebed iets is wat in privaatheid gedoen moet word en ‘n saak streng tussen jou en God is.  Mens kan / wil / moet soms mense vra om saam met jou te bid en daarvoor is Facebook ideaal.  Die eintlike gebed self, ek is nie so seker dat dit op Facebook hoort nie.  

Ek verpes dit om met die Bybel onder die arm te loop, maar daar is twee verse wat ek tog met julle wil deel vandag. 

Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie.  Hulle hou daarvan om op die straathoeke te  staan en  bid sodat mense hulle kan sien.  Dit verseker Ek julle:  Hulle het hulle beloning klaar weg.  Nee, as julle bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.  Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.  (Matt 6 : 5 – 6)

Hierdie is nie my amptelike Goeie Vrydag en Paasfees skrywe nie, maar ek wil graag vir die van julle wat nou in “Internet Stilte” gaan ‘n baie geseënde Paastyd toe wens.  Vir almal wat in die pad val, reis veilig en kom uitgerus terug.

Breinvasbrand:  Wie was die leier van die Isrealiete toe die Paasfees ingestel was?  (Let wel, dit was eeue voor Jesus)

Breinlosbrand:  Olga was reg met Andre Stander.





Lunch Week 16 / 11

20 04 2011

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Jesus; Kerse; Kruis; Lam; Lig van die Wêreld; Nuwe Lewe; Oorwinning oor die Dood; Paaseiers; Paashaas; Vrugbaarheid

Gemeenskaplike faktor?