Rekenaars is deesdae so algemeen soos bad of stort. Meer algemeen, aangesien jy aansienlik meer tyd met ‘n rekenaar deur bring as in ‘n bad of stort. Dit is orals, by die huis, by die werk en selfs op vakansie. Veral as jy soos sekere mense wat ek ken aan die internet verslaaf is.
Nie so lank gelede was rekenaars eerder die uitsondering as die reël. Ek is heeltemaal deur skool sonder dat ek ooit aan ‘n rekenaar geraak het. Dit was nou nie asof ek die “Bekendstelling aan Rekenaarsdag” gemis het nie. Ons het wel in st 8 die keuse gehad om rekenaarwetenskap as ‘n vak te neem, maar daar was vakke wat my baie meer aangestaan het. Ek is tot vandag toe nie spyt daaroor nie.
Die eerste keer wat ek voor ‘n rekenaar gesit was, was die vakansie voordat ek Universiteit toe was. Ek het ‘n vakansiewerk gehad en die bestuurder was lus om te speel. Ek was toe sy proefkonyn voor ‘n rekenaar. Ek het nogtans niks geweet teen die tyd wat ek begin swot het nie. Ek het weens vakkeuses eers in my tweede jaar rekenaarklasse geneem. Dit was iets wat vir alle studente voorgeskryf is, omdat daar ‘n sterk moontlikheid was dat ons eendag almal rekenaarvaardig sou moes wees.
Met my eerste pos moes ek inderwaarheid ‘n rekenaar met 3 ander mense gedeel het. Dit was dalk meer die suinigheidsbeleid van die maatskappy as enige iets anders. Tog was daar van my heel eerste werk af aanvaar dat ek sal weet hoe om ‘n rekenaar te gebruik. Danksy die universiteit se net-vir-ingeval beplanning het ek darem die basiese goed geweet. Ek word nie sommer geintimideer nie en kon met ‘n bietjie rondspeel myself leer wat CIL nagelaat het. Vandag nog ontdek ek goed wat die lewe van agter ‘n rekenaar baie vergemaklik. Ek word ek selfs op sekere prosesse met gespesialiseerde rekenaars losgelaat en snaaks genoeg het ek nog niks gebreek nie.
Word is eintlik baie vaal en vervelig. Persoonlik dink ek Excel is die bruikbaarste program wat ooit uit gevind is. Soos my vakansiewerk se baas altyd gesê het: Jou verbeelding is die enigste beperking. Dit is vir my ongelooflik lekker om ‘n programmetjie in EXCEL uittelê en dit dan te gebruik om my baie tyd en moeite te spaar. Ek is ook mal daaroor om met Power Point te speel. Ja, ek weet. Dit is maar die mees basiese goed.
Waar het jy geleer om rekenaarvaardig te wees? Kan jy jouself help of moet jy soms hulp soek? Wat is jou gunsteling program? Kan of wil jy sonder ‘n rekenaar lewe?
Breinvasbrand: Wat was die eerste weergawe van Microsoft Office wat vrygestel was?
Breinlosbrand: Olga was reg met Eugène Hènard.
Wie runnik saam?