Band Sake

31 01 2011

Dit is nou al ‘n hele paar jaar dat ek wettig kan rond bestuur.  Ek het al my deel van papbande gehad.  Elke keer was ek bereid gewees om self ‘n poging aan te wend om die band te ruil.  Wel, ek was ten minste self bereid gewees om Help @ Out te bel om die takie vir my te kom doen.  Gelukkig was daar altyd iewers ‘n ridder gewees wat die takie vir my oorgeneem het.  Ek het natuurlik nie gekla nie.

Kyk né, as ek sê ek het geen ondervinding van wiel ruil nie, dan sal ek jok.  Daar was die keer op varsity wat ek oor ‘n groep eerstejaars toesig gehou het terwyl ons die wiele van ‘n ampsmotor afgehaal het.  Ek is darem die tipe wat my hand uit my mou steek as ek toesig hou, dus het ek ook op ‘n paar wheelspanners gespring.  Ons was boonop vinniger as die jarre wat ons moes kom help het.  Ons het net die wiele afgehaal en ek is seker daar was nie ‘n domkrag te sprake nie.

Ek sal myself darem nie ‘n kenner op die gebied noem nie.  Ek haat vuil naels.  Vanoggend, dou voor dag het ek nie juis ‘n keuse gehad nie.  My vriendin het met ‘n pap wiel voor my deur gestaan en ek moes met my oë vol slaap help.  Boonop in my nagklere.  Tyd was ‘n faktor en ons kon nie vir die bure wag om wakker te word of vir Help @ Out wag nie.

Hoe moeilik kan dit nou wees?  Die spaarband is onder die motor vas en gelukkig het sy geweet dat dit in die kattebak los geskroef moes word.  Terwyl sy die band los maak, kry ek solank die domkrag reg.  Wat op aarde dink hulle as hulle ‘n domkrag maak?  Dit lyk nie na iets wat logies ‘n ton kan lig nie, maar wie is ek om te stry.  Ek het die ding in na waar dit min of meer funksioneel kan wees, maar daar is nog geen spaarwiel los nie.

 

Ek gaan kyk toe of ek meer geluk met die spaarwiel kan hê.  My vriendin gaan haal in die tussentyd my domkrag, want ek vertrou haar domkrag nog minder as wat ek die ANC vertrou.  Ek draai en draai en draai en al wat uitval is die spaarwiel.  Ek kan voel die skroef is losser, maar hoe lank kan ‘n skroef nou eintlik wees.

 

Ek gaan stel toe van onderaf ondersoek in.  Bietjie hier en daar gekrap en toe besef ek dat die wiel los moet hak. Die los geskroewery laat sak net die hak sodat jy die uithak kan doen.  Jy sal dus draai tot Piet gekom het en niks sal uitval nie.  Daar het ons toe die spaarwiel.

Nou moet die wiel los gemaak word soos ek die storie verstaan.  Daar sien ek dat die kar al lankal poot in die lig gereed staan.  Terwyl ek onder in gekrap het, het my vriendin haar maar met die domkragte besig gehou.  Glad nie beindruk daarmee dat sy dit eers weer moet laat sak sodat ons die wiel los kan maak nie.  Op is een ding, af iets heeltemaal anders.

Eers maak ons die wiel stywer vas.  Nee, dit was nie eintlik in die beplanning nie, maar daar is mos nie pyltjies wat sê draai die kant toe nie.  Ons het gou agter gekom dat dit eintlik ander kant toe moet kom.  Wiel los, kar weer op gestoei en die wiel af.  Nou moet die spaarwiel gepas word op die skroewe.  Ek is goed met legkaart bou, maar daardie skroewe het ‘n wil van hulle eie.  Nie lank nie, daar is die band weer omgeruil en die probleem in die kattebak geruil.  Die bandplek kan dit sekerlik terug sit waar dit hoort.

Alles voordat die buurman wakker is.  Ons het hom ‘n trip KFC toe gespaar om kos in die hand te kom verduidelik wat gedoen moet word.  Bowendien het ons nie een nael gebreek nie

Is jy handig met ‘n kar?  Wat is jy bereid om self te ruil of te vervang?  Wat maak jy as die kar haar gat vir jou wip?

Breinvasbrand:  Wanneer is Firestone gestig?

Breinlosbrand:  Olga was reg met ‘n tipe lama wat wol produseer (en jou spoeg as jy hom kwaad maak).


Aksies

Information

14 responses

1 02 2011
demoerin

1900.
Ek kan klein dingetjies doen, soos bande omruil. Ek is egter bereid om mense te betaal vir dienste ens. (Ek noem dit werkskepping 😆 )

1 02 2011
Xena Phoenix

Ek voel ook so. Soos een van ons dosente altyd gesê het. ‘n Dom mens kap ‘n boom af met ‘n stomp byl, ‘n slim mens kap ‘n boom af met ‘n skerp byl en ‘n wyse mens kry iemand anders om die boom af te kap.

1 02 2011
Olga

ek het vrydag uit die mall in nelspruit gekom en daar staan my kar met n pap band. Die karnarre het dit omgeruil. As ek dit langs die pad moes gekry het, was ek geskroef. Hulle moes die band afstoei.

1 02 2011
Xena Phoenix

Mens spring op die spanner. 😉

Wat is ‘n wheelspanner in Afrikaans?

1 02 2011
BB

Ek is lid my Crisis on Call… Hulle sal tot vir my petrol bring… ek weetie wat dit met my is nie, maar ek kan ‘n kar ry tot hy net op fumes en genade voortbeur – die H3 kan die stuipe vang daaroor.
Maar hats off to you, Girl! Much respect! ek sidder om te dink ek moet die noodwiel soek… hmmm 🙄 dink nou net – daai ronde ding met die cute cover oor wat op my B(J)eep(s) se boot/agterdeur vas is, is toe nie standaard versiering vir 4×4’s nie 😕 dis toe allietyd ‘n spaarwiel!!! 😛

1 02 2011
demoerin

Bwahahahaha

1 02 2011
Xena Phoenix

😆 😆

Biebs, dan moet jy weet, jy kry halwe spaarwiele ook.

Jy herinner my, ek het vergeet om petrol in te gooi. GRRRR

1 02 2011
Vee

Klink mos of jou vriendin dieselfde kar as ek ry? My pap band le nog net so in my katte bak eers moet ek hom laat regmaak en dan weer al daai pt om hom weer onder die kar in te kry…. Ek sweer dit ‘n groter werk om die spaarwiel af te haal en terug te sit as om die wiel om te ruil….

1 02 2011
Xena Phoenix

Jy is reg oor die kar, maar dit is onverantwoordelik om nie dadelik jou wiel te laat regmaak nie. Die regmakers kan dit sommer vir jou onder die kar in bere.

1 02 2011
Selene Phoenix

Goeie more!

Ek het nog nooit ‘n band omgeruil nie… maar ek glo ek sal kan as ek moet! Ek sal vir nou eers my versekering bel, maar soos jy sê mens kannie altyd vir hulle wag nie!

Die kar oplig pla my… voel altyd of die ding gaan afval! 😯

1 02 2011
Xena Phoenix

Glo my – versekering / edgars / wat ookal is wonderlik as jy jou sleutels in die kar toe sluit. Al baie my bas gered, al moes ek 2 ure lank wag

1 02 2011
Olga

my band van vrydag is herstel en netjies op die regte plekke gebére. dankie tiger wheels. ek pes dit as goed wat n spesifieke plek het, rondlè.

2 02 2011
Sigeuner

Ek moet nog my lisensie kry, hierdie jaar. Skryf elke jaar leerling….passs…..en wag 18 maande dan skrik ek wakker en dis te laat! Al so paar jaar.
Ek kan dus nie `n wiel omruil nie, maar ek dink ek weet hoe – het mos al vir Boerseun gesien met `n moersleutel werk. Dis mos die AAfrikaans vir wheelspanner? As jy padwoede aanvalle kry, kan jy dit uitruk en die ander ou m**r of so iets?

Ek kan wel trekker ry, ploeg en plant en dis en eg.
En ek kan huisplanne “trace”, ek is baja slim!
En ek is `n naaimasjien machanic en ken van skroewetjies losmaak en bewegende dele olie.
En ek kan kook!
Ek kook!

3 02 2011
Charms

*Applous*

Ek het nog nooit eers probeer om ‘n band te verander nie. Dis baie makliker om my selfoon op te tel en ‘n paar knoppies te druk 😉 Ek voel ook soos Selene dat die kar gaan omtuimel as hy so skeef opgelig word.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: