Dit is nou al ‘n hele paar jaar dat ek wettig kan rond bestuur. Ek het al my deel van papbande gehad. Elke keer was ek bereid gewees om self ‘n poging aan te wend om die band te ruil. Wel, ek was ten minste self bereid gewees om Help @ Out te bel om die takie vir my te kom doen. Gelukkig was daar altyd iewers ‘n ridder gewees wat die takie vir my oorgeneem het. Ek het natuurlik nie gekla nie.
Kyk né, as ek sê ek het geen ondervinding van wiel ruil nie, dan sal ek jok. Daar was die keer op varsity wat ek oor ‘n groep eerstejaars toesig gehou het terwyl ons die wiele van ‘n ampsmotor afgehaal het. Ek is darem die tipe wat my hand uit my mou steek as ek toesig hou, dus het ek ook op ‘n paar wheelspanners gespring. Ons was boonop vinniger as die jarre wat ons moes kom help het. Ons het net die wiele afgehaal en ek is seker daar was nie ‘n domkrag te sprake nie.
Ek sal myself darem nie ‘n kenner op die gebied noem nie. Ek haat vuil naels. Vanoggend, dou voor dag het ek nie juis ‘n keuse gehad nie. My vriendin het met ‘n pap wiel voor my deur gestaan en ek moes met my oë vol slaap help. Boonop in my nagklere. Tyd was ‘n faktor en ons kon nie vir die bure wag om wakker te word of vir Help @ Out wag nie.
Hoe moeilik kan dit nou wees? Die spaarband is onder die motor vas en gelukkig het sy geweet dat dit in die kattebak los geskroef moes word. Terwyl sy die band los maak, kry ek solank die domkrag reg. Wat op aarde dink hulle as hulle ‘n domkrag maak? Dit lyk nie na iets wat logies ‘n ton kan lig nie, maar wie is ek om te stry. Ek het die ding in na waar dit min of meer funksioneel kan wees, maar daar is nog geen spaarwiel los nie.
Ek gaan kyk toe of ek meer geluk met die spaarwiel kan hê. My vriendin gaan haal in die tussentyd my domkrag, want ek vertrou haar domkrag nog minder as wat ek die ANC vertrou. Ek draai en draai en draai en al wat uitval is die spaarwiel. Ek kan voel die skroef is losser, maar hoe lank kan ‘n skroef nou eintlik wees.
Ek gaan stel toe van onderaf ondersoek in. Bietjie hier en daar gekrap en toe besef ek dat die wiel los moet hak. Die los geskroewery laat sak net die hak sodat jy die uithak kan doen. Jy sal dus draai tot Piet gekom het en niks sal uitval nie. Daar het ons toe die spaarwiel.
Nou moet die wiel los gemaak word soos ek die storie verstaan. Daar sien ek dat die kar al lankal poot in die lig gereed staan. Terwyl ek onder in gekrap het, het my vriendin haar maar met die domkragte besig gehou. Glad nie beindruk daarmee dat sy dit eers weer moet laat sak sodat ons die wiel los kan maak nie. Op is een ding, af iets heeltemaal anders.
Eers maak ons die wiel stywer vas. Nee, dit was nie eintlik in die beplanning nie, maar daar is mos nie pyltjies wat sê draai die kant toe nie. Ons het gou agter gekom dat dit eintlik ander kant toe moet kom. Wiel los, kar weer op gestoei en die wiel af. Nou moet die spaarwiel gepas word op die skroewe. Ek is goed met legkaart bou, maar daardie skroewe het ‘n wil van hulle eie. Nie lank nie, daar is die band weer omgeruil en die probleem in die kattebak geruil. Die bandplek kan dit sekerlik terug sit waar dit hoort.
Alles voordat die buurman wakker is. Ons het hom ‘n trip KFC toe gespaar om kos in die hand te kom verduidelik wat gedoen moet word. Bowendien het ons nie een nael gebreek nie
Is jy handig met ‘n kar? Wat is jy bereid om self te ruil of te vervang? Wat maak jy as die kar haar gat vir jou wip?
Breinvasbrand: Wanneer is Firestone gestig?
Breinlosbrand: Olga was reg met ‘n tipe lama wat wol produseer (en jou spoeg as jy hom kwaad maak).
Wie runnik saam?