Wannabe Pinocchios

24 01 2011

Daar word gesê dat sarkasme ‘n kuns is, een van wat jy ver wegbly as jy nie kunstenaar is nie.  Laat ek julle vandag iets vertel.  Sarkasme is ‘n kers teen lieg.  Enige ploert kan sarkasties wees, maar weinig mense kan met ‘n lieg wegkom.  Ek oordryf vanaand weer ‘n bietjie met clichés, maar ‘n leuen het regtig kort bene.  Een of ander tyd gaan die waarheid dit verseker inhaal. 

Ek het al iewers gelees dat mans gewoonlik twee liegstories het vir hulle vrou.  Sou sy hom met een uitvang, moet hy glo vir die dood verskoning vra en dan met lieg B voorlê.  Ek neem aan dat dit ook ‘n goeie storie is wat nie met feite bederf is nie.  Ek sal seker nooit weet nie, ek is mos een van die vyand.

Die grootste fout wat mense maak is om te dink dat almal net so dom is soos hulle.  Daar is gewoonlik iets wat nie klop nie, wat enige mens met twee breinselle kan uitsorteer.  Hulle dink nog hulle lag in hulle mou en dan is hulle die grap.  Hulle sal dit nooit weet nie, daar is mos ‘n vieslike gewoonte om teen alle koste beleef te wees.  Niemand sal jou dus vertel dat jy jouself vasgelieg het nie.

As iemand die geheue van ‘n klip het, is lieg nie ‘n kuns vir hulle nie.  Mense hou van skinder en al die besonderhede nie ooreenstem nie, gaan daar gewonder word.  Ironies genoeg lieg mense net verder wanneer hulle uitgevang word.  Daarmee grawe hulle die gat dieper en beklemtoon net dat hulle jok. 

Mense skuil ook graag agter reputasies, posisies of leuens wat hulle van hulle eie integriteit opdis.  Iemand vertel my nou die dag as ‘n ou jou eers vertel watse groot Christen hy is, voordat hy jou ‘n kwotasie gee, kan jy maar weet jy word ingedoen.  Niemand wat jou vertroue waardig is, sal daarop aandring dat jy hulle onvoorwaardelik moet vertrou nie. 

Moet nooit onderskat dat die persoon voor jou dalk meer van die onderwerp of gebeure weet as jy nie.  Hulle kan dalk umh en ah, maar wonder of jy dink dat hulle ‘n kluit is. 

As jy dink jy het die kuns onder die knie, onthou net die prys as jy uitgevang word.  Nie ‘n woord sal ooit weer uit jou mond geglo word nie.  As jy daarmee kan saam lewe, gaan voort.  Kleur jou lewe in soos dit jou pas.

Hoe voel julle oor leuenaars?  Vertel julle soms wit leuentjies?  Was jy al ooit op ‘n leuen betrap?  Watter ander foute maak leuenaars nog gereeld?

Breinvasbrand:  Wie “Lied for you and thats the truth”?

Breinlosbrand:  Die oudste bevestigde lewende mens is Eunice Sanborn.  Dit beteken egter nie dat Juana Bautista de la Candelaria Rodriguez oor haar ouderdom jok nie.





Lunch Week 4 / 11

24 01 2011

Algemene Kennis

  1. Watter dorp is bekend vir ‘n Groot Gat?
  2. Waarvan is Cu die chemiese simbool?
  3. Watter Britse staatsman is vandag in 1965 dood? Anthony Eeden het hom in 1945 opgevolg.
  4. Wie het die QWERTY sleutelbord in 1873 ontwerp?
  5. Wat antwoord jy al vra dit jou nooit ‘n vraag nie?