Kies ‘n waarborg

19 01 2011

‘n Paar weke gelede het jy ‘n feetjie ontdek terwyl jy ‘n bietjie reggepak het.  Jy het jou keuse gemaak, maar nooit besef dat jy saam met die wens ‘n permanente loseerder gekry het nie.  Sy eet nou nie juis veel nie, maar sy kan lastig wees.  Amper soos ‘n muskiet wat om jou ore zoom.  Niemand wil ‘n moord van ‘n feetjie op hulle gewete hê nie, dus het jy nie juis ‘n keuse nie.  Jy moet nou maar tande kners en onthou dat sy jou die avontuur van ‘n paar leeftye gegee het. 

So sit jy een aand met ‘n boek waarna  jy weke lank uitgesien het.  Jy kom nie juis verder as ‘n paar sinne op ‘n slag nie, dan kom haar klokkiesstem tussen in.  Jy probeer haar ignoreer, maar dan spring sy orals op die bladsy rond.  Jy gaan kruip selfs later in die badkamer weg, maar jy het vergeet dat die woord privaatheid nie in haar woordeskat bestaan nie.  Verergd klap jy die boek toe en gee haar ‘n kyk wat die dode sal opwek.  Nie dat sy haar daaraan steur nie.

“Wat?” blaf jy kortaf.

“Ek is verveeld.” giggel sy ondeund.

“Lees ‘n boek.” brom jy maar die juffroutjie het ander planne. 

“Ek hou nie van lees nie.”  lag sy.  “Ek wil speel.”

Jy kan nie aan ‘n ander slagoffer dink nie en moet haar maar gelate haar sin gee.  ‘n Mens wil nie eers ‘n irriterende fee afpis en teen jou draai nie. 

“Wat wil jy speel?”  As jy haar dalk besig kan kry, kan jy miskien jou boek in vrede lees.

“Ek het vir jou keuse.” kondig sy vernaam aan. 

“Ek dog ek kry net een wens.” sug jy.

“Ja, maar die keer sal ek vir jou ‘n waarborg gee.” giggel sy.

“Seker teen ‘n prys.” grom ek.

“Ja, niks is verniet nie.  Jy hoef my net te vertel hoekom.” Die feetjie tree wragtig soms soos ‘n tweejarige kind op.

“Wat is die keuse?” vra jy, teen jou sin geinteresseerd.

Skielik is die feetjie ernstig.  “Ek kan vir jou een waarborg gee wat jou hele lewe lank sal geld.  Moet ek jou geluk of jou gesondheid waarborg?”

Wat sal jy kies en hoekom?





Lunch Week 3 /11

19 01 2011

Toorwoorde

  1. Gee ‘n verklaring vir:  ”paaps”?
  2. Wat beteken die volgende afkorting:  ”eg.”?
  3. Wat beteken die volgende uitdrukking:  ”twee vlieë met een klap”?
  4. Gee ‘n sinoniem met die gegewe aantal letters vir:  ”nael – met 8 letters”?
  5. Skommel die volgende in ‘n sinvolle woord (die eerste letter is reg):  BEDIAR