Kinders moet nie in die water speel nie

13 01 2011

Die tweede week in Januarie en die kraaie gaap behoorlik.  Die ideale tyd om in die swembad te gaan duik.  Dalk sommer ‘n in jou geboortepakkie iewers stil, maar aanlokkend.  Smagtend om dalk eerder met ‘n verkoelkas langs die see te gaan sit en sommer net lui te wees.  Idillies?

Behoede my!  Ek moet bieg, ek hou niks van water nie en klim nie graag in iets diepers as badwater nie.  Selfs al word al die riviere more brandewyn of selfs Pina Coladas, verkies ek eerder om op die wal te bly staan.  Of dalk net so enkel tipe in te gaan – net om te kan sê dat ek binne was.  Swem is vir die visse en ek is nog jonk genoeg om nie skubbe op my lyf te hê nie. 

Ek is ‘n trotse gebore Transvaler en natuurlik staan ek ook in verstomming van die groot blou dam.  Ek sal selfs kan sê dat ek lief is vir die see.  My oupa was immers ‘n visser van beroep gewees.  My beswaar is eerder teen die strandgeplakkery.  My ideale seevakansie is om elke dag in ‘n ander rigting in te slaan.  Te gaan sien wat ek nie van die strand af kan sien nie.  Dalk kaalvoet in die vlak branders te loop om na diertjies en skulpe te gaan soek.  Ja, ek versamel nog skulpe.  Natuurlik proe vis en seekos nooit so lekker as reg langs die see nie.

Hoe voel jy oor water?  Is jy verlief op die see?  Wens jy dat jy nou by die see kan sit?  Sal jy graag by die see wil woon?

Breinvasbrand:  Wie het “Ek het ‘n huisie by die see” geskryf?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met + 2 ure.





Lunch Week 2/11

13 01 2011

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Trompie; Borselkop; Bientjie; Blokke Spring; Liewe Heksie; Ingeduikte Skoene; Saartjie; Rooihare met sproete; Jasper; Boor met toon in die grond.

Gemeenskaplike faktor?





Stiptelikheid

13 01 2011

Snaaks hoe ons meestal vrywillige dienaars van ‘n horlosie is.  Alles het ‘n tyd en ‘n plek.  Plekke is geduldig, maar tyd wag vir niemand nie.  Daarom word die monster op ons arm, in ons rekenaars en selfone en selfs die een in die kar ons baas.  Jy kan enige mens ignoreer, maar die tikkende meganika werk op jou senuwees soos geen mens kan nie. 

Daar is ‘n paar dinge wat ek met ‘n passie haat.  Een daarvan is om te wag.  Elke sekond wat vermors word om te wag, is een sekond van jou lewe wat van jou gesteel is.  ‘n Sekonde wat jy kon geniet het, is vermors op iets waarvoor jy niks kan wys nie.  Ek sal dus nie sommer ‘n kwartier of langer vroeg vir iets wees nie.  Ek beplan gewoonlik om op die minuut betyds te wees.  Terselfde tyd kan ek ook nie verantwoordelik wees vir die vermorsing van ‘n ander se lewe nie.  Ek probeer dus om nie te laat te wees nie.  Ek is egter verantwoordelik om te sorg dat my lewe nie vermors word nie. 

Dit is nogal opvallend hoe dikwels ek in elk geval vir ander mense moet wag.  Selfs al is ek laat vir ‘n vergadering, is ek nooit die heel laaste een nie.  Daar moet altyd vir nog iemand gewag word.  Dit maak my nog meer onwillig om vroeg vir iets op te daag.  ‘n Selfoon kan baie vermaaklik wees, maar ek kan al die koerante en blogs in ‘n halfuur deurhardloop.  Daarna begin die vermorsing van my lewe. 

Ek het eendag gelees dat 10 minute eers amptelik laat is.  Wanneer ek dus meer as 10 minute laat gaan wees, laat weet ek die persoon wie se lewe ek vermors dat ek laat is.  Hulle kan dan stappe neem om te sorg dat hulle lewe nie vermors word nie. 

Die ironie van tyd ontgaan my nie.  Enige meetinstrument, wat horlosies insluit, behoort na regte gekalibreer te wees.  Niemand se horlosies is gekalibreer nie, met die vervolg dat verskillende mense verskillende tye het.  Dikwels is die diktators opsetlik verkeerd gestel.  Die karhorlosie is dalk 5 minute vroeg om jou te help om betyds te wees.  Die probleem bly egter staan.  Kan ons toelaat dat ons lewe gedikteer word deur iets wat selde akkuraat is?

Hoe voel julle oor tyd?  Hou julle van horlosies?  Is jy vroeg, betyds of laat?

Breinvasbrand:  Hoe verskil SA tyd van die Greenwich tyd?

Breinlosbrand:  Vee was reg met 1937.