Ek het iewers aan die idee gekom as jy ‘n bekende in die vermaakbedryf is, dan moet jy rol in die geld. Seker nie altyd waar nie, ek verstaan dat van die akteurs in Suid-Afrika harde bene kou. Hulle huise word nou ook nie gewoonlik op Top Billing nie. Ek onthou ‘n artikel waar Trudie Taljaard gewys het hoe sy en haar dogters een bord kos moet deel. Ek onthou ‘n artikel van Ian Roberts wat vertel hoe hy van sy kinders se sakgeld moes leen vir petrolgeld.
Tog, veral die afgelope dekade of wat, was die stories minder. Verder kan ek ook nie onthou dat ek iewers gelees het dat ‘n bekende sanger noustrop trek nie. Ek bedoel nou spesifiek die gewilde kommersiele sangers. As ‘n mens so tussen die lyne lees, het die mense nogal ‘n heelgemaklike lewe.
Neem nou vir ene Koert van Heerden, beter bekend as Kurt Darren. Benewens die wildsplaas wat hy het, dink ek amper ook dat hy ‘n aandeel in een of ander rugby unie. Hy het vir Dunay ‘n sportmotor van R600 000 vir haar hennepartytjie gegee. Huisgenoot se R300 000 vir die troue dek dit beslis nie. Goed en wel, hy is op een of ander manier een van die gewildste kunstenaars in Suid-Afrika. Hy verdien seker om welvarend te wees.
Juanita du Plessis is een van die gewildste vroulike sangers. Haar man bestuur haar sake. ‘n Onderwysersalaris is seker nie veel om oor huistoe te skryf nie, maar nogtans kan dit ‘n paar gate toestop. Ek neem dus aan dat daar nie gate is nie. Nianell se man bestuur ook haar sake en hy was ‘n prokureur. Sy ouderdom in ag geneem, is dit veilig om te aanvaar dat hy op sy eie ook vir hulle ‘n gemaklike lewe kan bied. Nianell het ‘n vakansiehuis in Yzerfontein, nie van die goedkoopste nie. Sy is dalk nie so gewild soos die Afrikaanse sanger nie, maar sy doen duidelik ook baie goed. Sommer net terloops, Illse Roos het ‘n groter naam as aktrise as sangeres, maar haar prokureurman kan ook bekostig om huispa te wees terwyl sy werk. 7de laan betaal seker ook nie te vrot nie.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie afgunstig op hulle inkomste of lewenswyse nie. Daar is egter iets wat my keer op keer op val. Elke keer wanneer daar ‘n krisis is, wat die ongelukkige wenner van die verhoog af hou, dan het hulle finansiële probleme. Hulle kollegas spring dan gewoonlik in om die wolf van die deur af te hou. Ridderlik en bewonderingswaardig.
Kyk nou maar met Lukas Maree. Nou nie ‘n volksheld nie, maar daar is ‘n paar van sy liedjies wat volksbesit is. Ek dink nou spesifiek aan Miljoen wat seker altyd ‘n gewild sal wees. Sy medesangers dra soos ek verstaan sy mediese uitgawes. Miljoen was seker ook al twee dekades terug ‘n treffer gewees. Dit is Suid-Afrika, een lied is nie genoeg om mee af te tree nie.
Kyk ook na Mathys Roets, hy was nog op die kruin van sy loopbaan toe hy die ongeluk gehad het. Weereens moes hy hulp van ander kunstenaars aanvaar het.
Is dit ‘n gebaar van welwillendheid of word daar bloot net nie voorsiening gemaak vir die donker tye nie? Sou hulle loopbane tot ‘n einde kom, sal hulle nog die gekose lewenstyl kan handaf? Sal hulle die heinings kan span wat die wolwe van die stoep sal weghou.
Hoewel ons sangers ons my op hierdie gedagte gebring het, is dit natuurlik op baie mense van toepassing. Almal ken iemand wat die eendag hoog vlieg en die volgende dag sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou. Snaaks hoe geld in die sak altyd brand en nie sommer in die skadu wil groei vir wanneer daar ‘n veiligheidsnet nodig is nie.
Tref jy voorsorg?
Breinvasbrand: Voltooi: “Net ‘n klein ou fortuintjie, ‘n vliegtuig en ‘n seiljag . . . ”
Breinlosbrand: Demoerin was reg met lopende belasting, soos ons in rekeningkunde geleer is, maar blykbaar is SIBW ook aanvaarbaar.
Wie runnik saam?