Nog 7 slapies en dit is Kersfees. Dit is seker nou ‘n geval van is die glas half vol of half leeg. Jy kan nie wag vir die groot hoogtepunt nie of jy is in ekstase omdat dit amper verby is. Kersfees laat min mense koud. Dit bring my tot hoe Kersfees gevier word.
Weet julle van Christmas? Nee, nie die vertaling van Kersfees nie. Ek het dit nog nie in die stad beleef nie, maar dit vier nogal hooggety in die platteland. Bediendes en arbeiders sal vir almal met wie hulle ‘n verband (net so dat hulle jou kan vra, as jy net vriendelik lyk, tel dit as ‘n verband.) het, ‘n “Christmas” vra. ‘n Geskenkie, ‘n teken van waardering dalk. Dit hoef nie iets groots te wees nie, ‘n R10 noot en ‘n handvol koekies sit sommer dadelik ‘n huppel in die stap.
Ek het nogal so half en half die idee dat ‘n mens nêrens anders as by die huis Kersfees kan vier nie. Ek weet dit is laf, vir baie mense is Kersfees weg van die see net nie Kersfees nie. Hoe vier ‘n mens Kersfees by die see? Ek neem aan almal gaan nie net rondsit en so min as moontlik probeer doen nie. As jy spesiaal moeite gedoen het om see toe te gaan, wil jy seker elke beskikbare oomblik langs die see deurbring. Hoe pas Kersfees dan in?
As daar nou twee dae is wat ek eerlik voel dat so min as moontlik mense werk toe moet gaan, is dit Kersfees en Goeie Vrydag. Ek dink dat al die winkels moet op die spesifieke dag toe moet wees. Seker lekker skynheilig van my, ek het al op Oukersaand of Kersoggend besef dat daar nie tamatie sous in die huis is nie. Geen tamatiesous beteken geen noedelslaai nie. Ek het dan in alle opregtheid gebid dat daar wel ‘n winkel oop moet wees. Noedelslaai is seker ‘n klein opoffering om mense toe te laat om ook Kersfees met hulle gesinne te vier.
‘n Kersfees sonder dat jy kerk toe was, voel soos ‘n klug. Ek verkies ‘n middernagdiens, wat ek snaaks genoeg nooit om middernag bygewoon het nie. As dit aangebied word, gebeur dit gewoonlik vroeg aand. Helaas kan ‘n mens in die platteland nie te kieskeurig wees oor watter diens jy wil bywoon nie. Jy vat wat aangebied word of gaan daarsonder. Deesdae is die diens 10h00 en basta.
In Piet Retief was die sustergemeentes dikwels genooi om saam met ons Kersfees te vier. Met twee predikante in ‘n distrik met ‘n 150 km radius, moes daar maar plan gemaak word. Ek is mal daaroor om Carols te sing, maar die sustergemeentes het jou soms aan die moontlikheid van ‘n stilte diens laat dink. Ons sou byvoorbeeld Silent Night sing. Wanneer die laaste lirieke gesing is, het hulle weggeval met Zoeloe en dit opgevolg in Swazi vir ekstra vreugde. In die tyd het hulle gees gevang en kan dan tot volgende Kersfees sing as Vader nie ingryp nie. ‘n Diens kon maklik dan vir 3 of 4 ure lank aanhou.
Kos! Wat kan ek daarvan sê wat nie alreeds gesê is nie. Daar is goed wat onderhandelbaar is en goed waarmee daar liefs nie gepeuter moet word nie. Ons doen koue vleis en slaaie. Kersfees Gammon en Hoenderslaai is tradisie en ‘n mens mors nie met tradisie nie. Noedelslaai, Aartappelslaai en wortelslaai ook. Die derde vleis is (nog) nie vasgemessel nie en sorg soms vir ‘n verrassing. Soms is daar ander slaaie ook op die tafel. Poeding is verpligtend, maar die poeding kan van jaar tot jaar verskil. Nee, jellie is nie poeding nie. Alles word met yskoue vonkelwyn afgespoel.
Deel so ‘n bietjie julle Kersgedagtes met ons. Kersfloppies dalk en goed wat eerder nie verder as die blog moet strek nie. Jou slegste Kersfees en jou beste Kersfees. Gewoontes wat dalk nie so wyd bekend is nie.
EERSTE!!!!!!!!!!
2ste.
vir my sal enige kos doen op kersdag, solank dit ni braaivleis is nie.
Hierdie Kersfees gaan vir hierdie gesin (familie) glad nie tradisioneel wees nie, maar wie weet, miskien begin daar ‘n nuwe tradisie. My seun-hulle woon op ‘n plaas saam met sy skoonouers ( lekker, interessante mense) en ons almal gaan plaas toe vir Kersfees. Ons gaan kamp met karavaan en tente en hierdie jaar gaan ons braai vir kersfees. Die enigste tradisie wat bly is die waatlemoen. Ek sien regtig uit daarna om Kersfees met al hierdie lekker mense op ‘n nuwe manier te vier.