‘n Knippie Sout

6 12 2010

Ek ly aan akute oorywerige verbeelding.  Saam met so ‘n tikseltjie algemene kennis kan dit ‘n baie gevaarlike kombinasie wees.  Veral as dit deur ‘n ware gebeurtenis geinspireer is.  Tog weet almal dat daardie moord in Gugulethu ‘n slang in die gras het.  Ek mag seker ook spekuleer wat die slang nou eintlik is.  Met die verstande dat my verklaring met ‘n streepsak sout geneem word en as niks meer as duimsuigery gesien word nie.

Vir die agtergrond is daar die Indiese bruid van Noorweë wat met die Indiese bruidegom van Engeland in Indië getrou het.  Daarmee lei ek af dat beide die families tradisievas is.  Volgens Indiese tradisie sou dat waarskynlik ‘n gereelde troue gewees het, sonder dat die bruid en die bruidegom mekaar noodwendig vooraf geken het.  Volgens die Indiese tradisie sou die bruid se familie ook ‘n bruidskat aan die bruidegom se familie se familie moes oorhandig.  Siende dat beide die families as ryk kan deurgaan, sou dit nogal ‘n aardige bedraggie gewees het.

Streng gesproke is die gebruik van ‘n bruidskat sedert 1961 onwettig in Indië.  Onwettig beteken egter nie dat dit nie meer beoefen word nie.  Indië is nou nie juis bekend daarvoor dat hulle vroueregte voorop stel nie.  Vrouens is weinig meer as ‘n besitting, al is die familie ryk en wel opgevoed.  Daar word ook geslags spesifieke aborsies gedoen.  As die ma (of seker die pa) vooraf weet dat die baba ‘n dogter gaan wees, kan sy ‘n aborsie laat doen om die familie van die bruidskat te spaar.  Daar was ook al gevalle waar ‘n dogtertjiebaba dood gemaak is vir geen ander rede as dat sy ‘n meisie is nie.

Ons het ook al gehoor dat die bruid verskriklik gehuil het op pad terug van die troue af.  Daar kan ‘n verskeidenheid redes wees daarvoor, vandat sy met die troue (of bruidegom) ontnugter was, in die eerste plek nie wou trou nie of dalk iets geweet het dat sy nie wou weet nie.

Die Indiërs is ‘n baie trotse nasie, wat eer baie hoog aanstel.  Die bruidegom se familiebesigheid is nogal ernstig in die rooi.  Ek het nogal gewonder of haar pa (familie) dalk nie iewers die bruidegom se familie iets geskuld het nie.  Die dogter moes dalk opgeoffer word om die bruidegom se familienaam te red.  ‘n Baie klein opoffering – nee, wag, dit is net te gekompliseerd en bisar.

Aan die anderkant, daar is ‘n gebruik in Indië wat  bruidskatdood of  bruidsverbranding genoem word.  Dit behels dat die bruidegom en/of sy familie voel dat die bruidskat te klein is.  Hulle martel en teister die bruid dan om haar familie te dwing om die bruidskat te vergroot.  Die marteling of teistering is soms so erg dat die bruid selfmoord pleeg.  Alhoewel, haar aangetroude familie kan haar ook doodmaak om haar familie vir die klein bruidskat te straf.  Bruidsverbranding is wanneer die bruid lewendig verbrand word oor die bruidskat wat as te min gesien word.

Natuurlik die gebruik ook kastig onwettig. Nogtans is daar in 2008 8172 gevalle van bruidskatdode aangemeld (ons praat nou nie van die wat dalk nooit aangemeld is nie) en jaarliks is daar sowat 2500 voorvalle van bruidsverbranding.  Dit word dikwels as ‘n selfmoord of ‘n ongeluk vermom.  Stowe is blykbaar nie baie betroubaar in Indië nie, die afwesigheid van brandwonde wat vergelykbaar is met die wat deur ‘n stoof veroorsaak is, is van minder belang.

Europa gaan nou nie baie gelukkig wees as een van hulle beskermlinge doodgemaak word omdat daar gevoel is die bruidskat is te min.  Aan die anderkant weet almal hoe is misdaad in Suid-Afrika en mense word vir niks dood gemaak nie.  Die bruid se familie sal weet en sal weens tradisie maar eerder stil bly.  Hulle sal wel weet en dit is al wat saakmaak.

Wat dink julle?  Is daar ‘n toekoms vir my as ‘n skrywer van moordverhale?   Soos Tom Clancy gesê het:  “The difference between fiction and reality? Fiction has to make sense.”

Breinvasbrand:  Wie het 7 sakke sout gesleep?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Charles Dickens.


Aksies

Information

11 responses

6 12 2010
Olga

eerste!!!
Sannie?

6 12 2010
Olga

ek wonder al vn die begin af oor die moord. Wie sal na donkei gugulethu toe ry? Tog het die bestuurder en 2 ander skuld erken.

6 12 2010
Gogga

Die vour wat saam met my werk is ook ‘n erg tradisie vas Indier en sy reken dit was nie man. As mans van hulle vrouens wil ontslae raak dan word hulle in die kombuis gebrand. Daar was even so ‘n geval so paar weke terug in London gewees.

Ek natuurlik wonder wat die regte storie is en klink vir my geld is die hoofakteur in die verhaal.

7 12 2010
demoerin

Ek sit ook en vryf my hande in afwagting vir die storie vandag… my ouma het altyd gesê dat mense wat so vinnig en so baie praat en verdedigend is, iets het om weg te steek.

Ek like jou conspiracy theory storie baie.

7 12 2010
Sonlig

Jy kan ma ophou werk en voltyds skryf (en blog!) 😉

7 12 2010
Xena Phoenix

Hallo Almal

Ek dink almal wag in spanning vir vandag se hofverrigtinge. Ek dink egter dat dit wat regtig saak maak nog vir weke lank versteek gaan wees.

😉 Hoekom fassineer moord mense so?

7 12 2010
Xena Phoenix

Ek lees by Nuus 24 dat Dewani se pa in SA is en dat die polisie die saak met hom en nie haar man bespreek nie. Dit verduidelik hoekom hy nie by haar roudiens was nie.

Die Daily mail berig weer dat Dawani van sameswering aangekla sal word, maar hulle raai nog net op die stadium.

7 12 2010
demoerin

Sien, waar ‘n rokie is, is ‘n vuurtjie…… daar word Dawani toe nou uitgewys as die meesterbrein agter sy vrou se dood. POEPHOL. My ouma is weereens reg bewys.

7 12 2010
Xena Phoenix

LOL!!

Ek kom ook nou net hier aangehol met die nuus.

7 12 2010
Xena Phoenix

Kaapstad – Shrien Dewani, die man van die vermoorde toeris Anni Dewani, is Dinsdag uitgewys as ‘n medepligtige in die moord op sy vrou.

Rodney de Kock, staatsaanklaer, het aan die hof gesê die moordbeskuldigde Zola Tonga (31), wat die Dewani’s se taxi bestuur het toe dit in Guguletu, Kaapstad, met die paartjie binne-in gekaap is, is R15 000 deur mnr. Dewani aangebied om sy vrou te vermoor, het Sapa berig.

“Die oorlede is op aanvraag van haar man vermoor,” het De Kock van ‘n pleitooreenkoms tussen Tonga en die staat gelees.

Tonga het skuldig gepleit om aanklag van moord.

Tonga sê hy was ‘n middelman tussen mnr. Dewani en die moordenaar(s).

Mnr. Dewani sou glo vandag daarvan beskuldig word dat hy deel was van dié moord, het die Britse Daily Mail vroeër berig.

Tonga het blykbaar ‘n pleitooreenkoms aangegaan en sou “alles onthul” in ruil vir ‘n ligter vonnis.

Die vermoorde mev. Dewani se pa, Vinod Hindocha, het Dinsdagoggend by die Kaapse hooggeregshof opgedaag om die saak by te woon.

Staatsaanklaers het na bewering met hom, en nie mnr. Dewani nie, gekonsulteer oor die pleitoorkeenkoms wat die Kaapse regterpresident John Hlope sal moet bekragtig met Tonga vir sy getuienis.

Die ander twee mans wat in verband met die moord in hegtenis geneem is – Xolile Mnguni (23) en Mziwamadoda Qwabe (25) – verskyn weer op 25 Februarie in die streekhof in Wynberg.

Hulle word aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede en ontvoerding.

Die Dewani’s, van Bristol in Engeland, is na bewering die nag van 13 November in die Kaapse township Gugulethu gekaap.

Mnr. Dewani het gesê die kapers het hom uit die motor uit gedwing.

Anni se liggaam is die volgende dag in die verlate voertuig gevind. Sy is geskiet.

http://www.nuus24.com/Suid-Afrika/Nuus/Dewani-sal-van-sameswering-beskuldig-word-20101207

9 12 2010
Charms

Jy kan definitief maar begin skryf – tot my koppie is nou besig om te wonder hoekom….

Lewer kommentaar op Charms Kanselleer antwoord