Blykbaar weet ons hoërskool maatjies nie meer hoe om hulle te vermaak met hulle klere aan nie. Ek sidder om daaraan te dink, maar daar is selfs laerskoolmaatjies wat dink as hulle verveeld is, moet die klere waai. Of jy moet ten minste met jou lewe speel.
Die maatjies moet blykbaar deesdae soos kleuters 24 uur ‘n dag onder toesig gehou word. Wel, ten minste dan net besig gehou word. Behoede hulle daarvan om boek te lees. Of dalk moet hulle eerder nie lees as dit is wat lees hulle leer. Daar is al weer ‘n maand of langer vakansie op die stoep en om ons self van kastige verkragting dramas of tienerswangerskappe te beskerm, moet ons die maatjies bietjie raad te gee.
Dieretuine, botaniese tuine, museums en so aan is goed en wel, maar dit kan nogal aan ‘n mens se sak kou. Veral as ‘n mens plekke soos Gold Reef City ook in gedagte neem. Daar is wel kinders wat meer sakgeld kry as wat party mense se salarisse is, maar ‘n mens moet seker in ag neem dat daar ouers is wat hulle kinders op minder as dit moet groot maak. Duidelik weet die maatjies ook nie van sit en kuier nie. So wat bly oor?
My eerste gedagte sal die vrywillendheid van iemand neem, want dit is ook nie van die goedkoopste nie. Baie mense glo dat dans die vertikale van die horisontale aktiwiteit is. Wel, as dit maatjies van die horisontale weg hou, hoekom nie. Dans is ‘n groeiende sport, wat nie net pret is nie, maar ook baie tyd in beslag neem. Skoolsale staan vir weke lank leeg en kan netsowel vir iets goeds aangewend word. Stel dit oop vir danslesse en miskien sal die dansgogga van hulle byt en dan vir die volgende paar jaar besig hou.
Dit is dalk ook nie ‘n slegte idee om na ouer tipe vermaak te gaan soek nie. Baie mense is baie huiwerig om ‘n groot boom af te kap, met die gevolg dat daar self in stede groot groen reuse is. Gaan soek die klimbares en gaan droom tussen die blare. Dalk kry iemand ‘n idee vir ‘n boomhuis of ‘n foefieslide. Mense betaal honderde rande om toere in die boomtoppe te doen, dus is die hoërskool kinders beslis nie te oud daarvoor nie. Hulle kan natuurlik ook soos Gogga aan skattejagte deelneem. Kaskarre mag dalk uit die mode wees, tot die eerste kind se kar klaar gebou is. Almal anders gaan dan ook karre soek en gou-gou gaan stukkende knieë weer hoogmode word.
‘n Mens het ook nie ‘n groot erf nodig om in tuin te maak nie. Ek het al gelees dat ‘n 1 m × 3 m meer as genoeg plek is vir ‘n volhoubare tuin vir ‘n gesin is. ‘n Tuin is ook baie werk, maar werk wat gewoonlik vir die tuinier groot vreugde bring. Jy sal egter nie weet of jy groenvingers het voordat jy probeer het nie.
Die paar weke wat oop is, is natuurlik ook die ideale tyd om ‘n paar sent te maak. Vakansiewerk is nie meer volop nie, maar baie winkels neem tog tydelike werkers oor vakansies in. Jy sal nou wel nie ‘n kar kan koop met wat jy verdien nie, maar min mense gaan hulle neuse optrek vir ‘n paar ekstra sente.
Wat kan tieners nog doen om die Desember vakansie besig te bly? Wat het jy altyd in jou vakansies gedoen?
Breinvasbrand: Hoe lank is ‘n kolfblad in krieket?
Breinlosbrand: Olga was reg met “dominance influence steadiness conscientious”
EERSTE!!!!!!!!!!
22 yard… ek weetie hoeveel meter dit is nie.
Ek sien die “summerschool” idee steek ook al hoe meer kop uit in Suid-Afrika… waar jy betaal om jou kind deur die dag besig te hou met allerhande aktiwiteite. Miskien is ‘n goeie idee soos ‘n plaasvakansie, of as die kinders goed is in een of ander sport – ‘n sportkliniek.
Ons was natuurlik buite en het ure op ons fietse deurgebring. Veral in die somer is die dae langs die swembad deurgebring. Vriende het oor-en-weer gekuier. Daar is dan altyd nog fliek. Ek hou van die tuinmaak idee. Ek dink ook ouers kan aan kinders ‘n lys van take gee wat gedurende die vakansie in en om die huis gedoen moet word, om bietjie ekstra sakgeldjies te verdien.
Die possibilities is eintlik eindeloos…. maar nimmer as te nooit het seks by my opgekom as ‘n manier om myself besig te hou nie.
Merrie. Jy skryf hier so na my hart. My tienerkind gaan vir 3 weke stranddienste hou. Die doel: om kinders met positiewe aktiwiteite besig te hou.
My Rooikop het vir hom vakansiewerk gekry vir die eerste deel van die skoolvakansie tot voor ons weggaan. Ten minste het hy dan sommer sy eie sakgeld 😉